Nardus Conradie – argitek van Potchefstroom

by | Mar 25, 2020 | People, Places | 0 comments

’n Loopbaan van ’n paar dekades in ’n beroep is vir die meeste ’n prestasie. Nardus Conradie (86), bekende argitek van Potchefstroom, beoefen sy beroep meer as twee keer langer, ’n allemintige 62 jaar! Sedert 1961 is hy in Potchefstroom, maar sy ontwerpe is ook te sien oor die hele Noordwes-Provinsie en Gauteng.

Nardus Conradie (86) praktiseer al meer as sestig jaar as argitek.

Daar is waarskynlik min strate in Potchefstroom waar daar nie ’n gebou staan wat hy ontwerp het nie. Die bekendste hiervan is die Madiba Banketsale.

Johannes Bernardus Conradie is op 13 November 1934 op Koster gebore. Sy verbintenis met Potchefstroom begin toe hy in 1951 en 1952 ’n leerder aan die Potchefstroom Gimnasium was en in 1952 daar matriek geskryf het.

Sy houtwerkonderwyser op Koster het in sy vroeë tienerjare sy talent raakgesien en ’n paar kunswerke van hom ingeskryf vir ’n Wes-Randse kompetisie. Die onderwyser het boonop vir Nardus en sy ouers na Krugersdorp geneem, waar die wenners van die kompetisie bekendgemaak is. “Ek het omtrent al die eerste pryse gekry,” vertel Nardus. Toe “Johannes” na die verhoog geroep is om sy pryse te kom ontvang, het hy aanvanklik nie besef hulle praat van hom nie, maar “ek het op stelte verhoog toe gestap!”

’n Aanlegtoets wat hy later afgelê het, het aangedui dat hy ’n argitek kan word en hy het hierin aan Tukkies studeer. Hy het in 1957 sy studies voltooi en ontvang die graad BArch (Pret) in 1958.

Nardus het ’n werk in Bloemfontein gekry en het op pad soontoe deur Klerksdorp gery. Sy ma was toe bedlêend met kanker en hy sou graag nader aan haar wou wees. Hy het gesien daar was heelwat bouwerk in Klerksdorp aan die gang en het gereken dat daar werk vir ’n argitek sou wees. Hy het aangesluit by die firma van Henry Snyman, waar hy ’n salaris van £25 per maand verdien het plus die helfte van die inkomste van die werk wat hy ingebring het.

“Dié plek trek my”

Kort daarna ry hy deur Potchefstroom, waar hy skoolgegaan het “en die plek trek my,” vertel hy. Die argitekspraktyk van Conradie Thiel en Van Rooyen is in 1961 hier gevestig.

In 1973 word die firma Conradie Müller Van Rooyen en Vennote toe Arend Müller by die praktyk aansluit. In 1983, toe dit blyk dat drie historiese huise in Lombardstraat gevaar staan om gesloop te word, het die firma een van die huise – Lombardstraat 76 – gekoop. Dit is simpatiek gerestoureer en so ingerig dat dit die groeiende praktyk kan huisves. Die praktyk was sowat 15 jaar daar tuis. In 1990 word dié vennootskap ontbind en daarna was Nardus saam met sy seun Deèf in praktyk.

In 2006 het die firma ’n Diamant-toekenning van PMR.africa gekry as firma wat die hoogste taksering ontvang het in die Noordwes-provinsie.

Meer oor Conradie Argitekte is te sien by www.conradiearchitects.co.za.

Lombardstraat 76 was die tuiste van Conradie Müller Van Rooyen en Vennote vanaf 1983 tot 1990. Philip Bawcombe het hierdie skildery van die “Argitekhuis” gemaak en dit is ingesluit in ’n publikasie met skilderye deur Bawcombe van historiese plekke in Potchefstroom. Dit is in 1988 deur die Potchefstroomse Universiteit (PU vir CHO) gepubliseer as deel van hulle bydrae tot die 150ste bestaansviering van Potchefstroom.

’n Kenmerk van Nardus se ontwerpe is dat hy deeglike oorweging geskenk aan die elemente se invloed daarop. By almal is die invalshoek van die son tydens die seisoene in ag geneem en moeite is gedoen om die fel somerson af te keer, maar die hitte van die winterson in te laat.

Hy het ook moeite gedoen om geboue so te ontwerp dat die geraas van verkeer en treine nie die gebruikers daarvan sal pla nie.

Geboue vir die universiteit

Kort na hy hom op Potchefstroom gevestig het, het die PU vir CHO van Nardus se dienste begin gebruik maak. Dit het gelei tot dekadelange samewerking. Hieroor sê Nardus: “Ek het dit geniet om met hulle saam te werk.”

Die eerste projek wat Nardus vir die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys aangepak het, was ’n gebou vir Aardwetenskappe wat hy in 1968 ontwerp het. Foto: NWU Argief en Museum

Die gebou is aan die einde van 1970 voltooi en vernoem na ’n voormalige Geografie-dosent, prof JS van der Merwe.

Een van die bekende elemente in die gebou is die roos uit verskeie soorte marmer wat op die vloer van die foyer van die onderste verdieping aangebring is. Die inspirasie daarvoor was omdat Geologie in die gebou gehuisves is. Die roos is presies op die ware noord georiënteer, wat andersyds aan Geografie erkenning te gee.

Die ontwerp van die gebou vir Natuurwetenskappe, onder die studente bekend as die Spinnekopgebou, is later uit talle ontwerpe gekies vir die voorblad van promosiemateriaal van die firma Conradie Müller Van Rooyen en Vennote. Foto: Conradie Argitekte

Die ontwerp van die gebou vir Natuurwetenskappe is in 1973 gedoen. Dié gebou het gou onder die studente as die “Spinnekopgebou” bekend geword, weens sy plattegrondontwerp, maar moontlik dalk ook omdat die groot lesingsaal in die middel van die kompleks soos die agterlyf van ’n spinnekop lyk.

By die ontwerp, sê Nardus, is daar oorweging daaraan geskenk dat dié gebou die hart van die natuurwetenskappe-terrein vorm en sy arms uitstuur na die ander geboue en daarby aanpas.

Departemente wat ’n tuiste in dié gebou gevind het, was Farmaseutika, Chemie, Fisika, Statistiek, Wiskunde, Toegepaste Wiskunde en Rekenaarwetenskap. Die ondersteuningsdienste Rekenaardienste, Instrumentmakery en Glasblasery, is ook hier gevestig.

Hierdie twee geboue is opgerig in die tydperk toe prof Hennie Bingle die rektor van die PU vir CHO (1964-1977) was. Sy voorganger was prof J Chr Coetzee, wie se benadering tot die beplanning van geboue was: “Maksimum ruimte, maksimum gerief, so mooi en sierlik as kan, maar vir tierlantyntjies is daar nie geld nie.” Maar vir Nardus was dit belangrik dat die geboue nie net funksioneel en neutraal moet wees nie. “Ek probeer altyd om kunswerke in te werk.”

’n Substansiële werk van Maureen Quinn versier die foyer van die Spinnekopgebou. Nardus verduidelik dat dié skenking aan die universiteit die natuurwetenskappe en chemiese reaksies uitbeeld, die aarde wat nie stilstaan nie en skepping wat aan die gang is. Foto: NWU Argief en Museum

Ander geboue wat vir die PU vir CHO ontwerp is, is onder meer aanbouing aan die Ferdinand Postma-biblioteek (1970’s), die gebou van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe (1974) die Proefdiersentrum (1981), die Joon van Rooy Administrasie-gebou (1978) en die koshuise Patria en Veritas (1980).

(Jaartal in hakies dui die jaar aan waarin die ontwerp gedoen is.)

Die Joon van Rooy-gebou is so ontwerp dat dit saam met die Frans du Toit-gebou ’n poort vorm wat simbolies toegang bied tot die universiteit.

In die foyer van die gebou vir Ekonomiese Wetenskappe is ’n betonreliëf-paneel wat elemente van die ekonomie uitbeeld en deur Nardus self ontwerp en gemaak is, geïnstalleer.

Vir die foyer van die Joon van Rooy-gebou is die kunstenaar en kunsdosent aan die PU, Barend Grobbelaar, opdrag gegee om ook ’n betonreliëf te skep. Dit is 36 m lank en is in situ gegiet.

Tydens Maart 2011 het die NWU ’n spesiale geleentheid gereël om erkenning te gee aan die kunstenaar Barend Grobbelaar vir die betonreliëfpanele wat in die vroeë 1980’s in die voorportaal van die Joon van Rooy-gebou geïnstalleer is. Greg Roberts, geboueverteenwoordiger, Arend Müller, eertydse vennoot van Nardus, prof Herman van Schalkwyk, die toenmalige kampusrektor van die NWU Potchefstroom, Nardus, die kunstenaar Barend Grobbelaar en ’n voormalige kampusrektor, prof Annette Combrink, het dié geleentheid bygewoon. Foto: NWU

“Die banketsale was ’n voorreg”

Nardus se werk in Potchefstroom strek egter veel wyer as net vir die PU. Hy sonder moeilik hoogtepunte uit maar sê beskeie: “Dit was ’n voorreg om die Banketsale te doen.” Die Andries Hendrik Potgieter-banketsale, tans Madiba-banketsale, was beplan as deel van ’n heelwat groter Burgersentrum.

Hierdie foto is in 1988 geneem, kort na die voltooiing van die banketsale. Foto: NWU Argief en Museum

Planne vir die bou van ’n Burgersentrum is reeds in 1984 aangekondig. Benewens die twee banketsale sou ’n toringblok van tien verdiepings gebou word waarvan elke verdieping minstens 700 vierkante meter groot sou wees. Dit sou noodsaaklike kantoorruimte bied vir munisipale departemente, maar is nooit opgerig nie.

Dus is net die banketsale gebou en op 20 Augustus 1988, tydens die jaar wat Potchefstroom sy 150ste bestaansjaar gevier het, luisterryk geopen. Die twee sale bied saam sitplek vir 1 150 mense wat aansit, terwyl elk sitplek het vir 880 tydens kongresse. Dit is opgerig teen ’n geraamde koste van R3,5 miljoen. In 1990 het die Baksteenvereniging ’n toekenning gegee “ter erkenning van die Argitektoniese en Estetiese verdienstelikheid in die voortreflike gebruik van Baksteen”.

So sou die Burgersentrum gelyk het. Die enigste hiervan wat gebou is, is die Banketsale, waarvan die dakke regs in die middel te sien is. Die toringblok van tien verdiepings sou noord-wes van die Banketsale gestaan het. Foto: Potchefstroom Herald

Huise vir Nardus en Bets

Nardus is in 1959 getroud met Bets (van Wyk) en die egpaar het drie kinders en sewe kleinkinders.

Nardus Conradie is in 1957 met Bets van Wyk getroud. Sy was jare lank ‘n kunsdosent. Foto deur Nardus verskaf

Dit word gesê dat wanneer ’n argitek ’n huis vir homself bou, kan hy vrye teuels aan sy verbeelding gee. Dit is ’n laboratorium van idees, ’n radikale standpunt. Dit kan smeltkroes van innovasie wees of selfagtend.

Vra jy na die inspirasie vir sy eie huise dan antwoord Nardus dadelik: “My vrou speel ’n groot rol.”

In 1989 het hy vir hom en Bets ’n huis ontwerp wat in Kanaalstraat gebou is. ’n Artikel oor die huis het in Desember 1990 in die tydskrif Garden and Home verskyn. Die artikel vertel dat 80 000 Corobrik Travertine-bakstene gebruik is. Die skrywer reken dat die gebruik van so baie steenwerk maklik ’n baie “stemmige” effek kon hê, maar dat die mure so gebou is dat hoeke ’n visueel-bevredigende tussenspel tussen verligte areas en donkerder skaduwees bied. Dié huis was in 1990 een van die finaliste in die tydskrif Garden and Home se Huis van die Jaar-kompetisie wat deur Corobrik geborg is.

Die volgende huis vir homself staan te Schubartstraat 7 in Oewersig. In teenstelling met die Kanaalstraat-huis, het dié huis weer kurwelyne gehad. Nadat hy ’n huis in Meulstraat, op versoek van die eienaars, ook met kurwelyne ontwerp het, is dié huis nageaap deur ’n huis wat iewers op die Rand gebou is. Vir Nardus is na-apery nie vleiery nie!

Tans woon Nardus en Bets die afgelope 13 jaar aan die oewer van die Mooirivier in ’n huis wat Nardus eweneens vir hulle ontwerp het.

Sy geliefkoosde plek in die huis is sy ateljee, waarvan die vensters op die rivier uitkyk.

Met ’n uitsig op die Mooirivier is Nardus se ateljee se geliefkoosde plek in sy huis.

 

Nardus Conradie (86) argitek, voor die huis in Mooirivierpark, wat hy vir hom en sy vrou Bets ontwerp het en waar hulle die afgelope 13 jaar bly.

Bakens in Potchefstroom

In 1986 is die Louis le Grange-gebou geopen om die landdroskantoor en ander staatsdepartemente te huisves. Nardus sê dat Le Grange, parlementslid vir Potchefstroom, baie belanggestel het in die ontwerp van die gebou, wat na hom vernoem is.

Die parlementslid van Potchefstroom, mnr Louis le Grange, het self op 17 Oktober 1986 die gebou wat na hom vernoem is amptelik geopen. Foto: Conradie Argitekte

Ander openbare geboue in Potchefstroom deur Nardus ontwerp sluit ook in die SAP Afdelingshoofkwartier en die Brandweergebou vir die munisipaliteit.

Besigheidsgeboue in Potchefstroom sluit in die Cosmya Winkelsentrum, Jankra-kantoorgebou en Trustbank-gebou.

Kerke in Potchefstroom deur Nardus ontwerp is onder meer die NG Kerk, die Bult (1962), NG Kerk Eerste Vesting (1984), saal en kerk van die NG Kerk Grimbeekpark (1976), Sinodesaal en kantore vir die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom (1974) en die saal van die NG Kerk Potchefstroom-Oos (1984).

Die NG Kerk Grimbeekpark is in 1976 ontwerp. Weens die grondtoestand is die gebou op heipale gebou. Dit is lang, reguit pale wat vir die fondamente van ’n gebou in nat, kleierige of sanderige grond ingeslaan word. Oor dié ontwerp sê Nardus: “Ek is nou nog nie skaam vir die gebou nie.” Foto: Jaco Mentz/Facebook

 

Die ontwerp vir die NG Kerk Eerste Vesting, wat die militêre basis van Potchefstroom bedien, is in 1984 gemaak. Foto: Conradie Argitekte

Groot drome is gedroom oor die nuwe inspuiting wat die hoofstraat van Potchefstroom sou kry met die ontwerp van die Wandellaan. Dié projek is wel voltooi, maar het nie heeltemal uitgespeel soos daar aanvanklik beplan is nie.

Die grotes wat weggekom het

Dis ’n gegewe vir enige argitek dat van sy ontwerpe nooit verwesenlik word nie. “Maar daar was nie baie nie,” sê Nardus.

’n Futuristiese ontwerp vir ’n woonhuis in Klerksdorp met talle boë en rondings is nooit gebou nie. Nardus se kommentaar: “’n Mens probeer om vir iemand iets beters te gee as waarvoor hulle gevra het, maar die kliënt sien dit nie altyd so in nie.”

’n Fenomenale ontwerp vir ’n kerk in Rustenburg het skipbreuk gely nadat die predikant wat die dryfkrag agter die projek was, ’n beroep na ’n ander gemeente aanvaar het.

’n Reusenywerheidspark naby Ikageng met ruimte vir werkswinkels, tuisnywerhede, uitstalruimtes, vragmotorstoor, padkafee en restaurant waaraan ure se beplanning bestee is, het nooit gerealiseer nie.

Een ontwerp wat nooit tot bou gekom het nie, laat beslis die Noordwes-provinsie en die Potchefstroom-distrik armer. In opdrag van ’n mynhuis is ’n Rots- en Mineraal-erfenismuseum, wat ’n wetenskap en opvoedingsentrum sou insluit, ontwerp. Die museum sou op ’n koppie naby Fochville gebou wees en myle ver sigbaar wees.

Nardus se inspirasie vir dié ontwerp was die meteoriet wat die omgewing in die Vredefortkoepel getref het. Die ronde wit koepeldak van die gebou stel die meteoriet voor. Die donker mure reg onder die dak vorm ’n kurwe om uit te beeld hoe dit die aarde binnedring. Die impak van die meteoriet op die moerasagtige omgewing en hoe dit wegspat met impak, word met die laer verdiepings uitgebeeld. Selfs stilistiese splinterkeëls, een van die eerste aanduidings wat geoloë laat glo het die Koepel is ’n meteoriet-impakterrein, is ook in die ontwerp ingesluit.

Die ontwerp het so ver gevorder dat die strukturele ontwerp deur ’n ingenieur gedoen is. ’n Insinking in die goudmark het dié projek ook laat sink. Later is pogings aangewend om die museum in die Koepel op te rig, maar dit het ook nie geslaag nie.

Die ontwerp vir die Rots- en Mineraal-erfenismuseum wat vir die Fochville-omgewing bestem was. Foto: Conradie Argitekte

Die strukturele ontwerp van die Rots- en Mineraal-erfenismuseum gee ’n aanduiding van die omvang van die gebou. Foto: Conradie Argitekte 

Dis nie al nie

Daar is baie meer aan Nardus as net sy argitek-wees.

Hy het later die skilderkwas vir die kamera verruil. In 1976 is hy deur die Natalse Parkeraad beloon met ’n eerste prys in ’n kompetisie met ’n kort rolprent wat hy gemaak het oor die seelewe aan die kus. Die redigeringsproses het nog op die ou manier plaasgevind, letterlik deur die film te knip en weer aanmekaar te las. Instrumente om die laswerk te doen en om die klank met die film te sinchroniseer, is deur die PU se Instrumentmakery vir hom gemaak.

Hierdie foto van Nardus, besig om ‘n film te redigeer, het op 2 November 1976 in die Potchefstroom Herald verskyn, nadat hy ‘n prys van die Natalse Parkeraad gewen het vir ‘n kort rolprent wat hy gemaak het oor die seelewe aan die kus.

Nardus se liefde vir houtwerk blyk uit die talle projekte wat in sy huise te sien is, waar dit duidelik is dat kaste en plafonne nie net noodsaaklike gebruiksgoed is nie, maar ook kunswerke. Sy kennis hiervan, soos ook van ander aspekte van die boubedryf het hom goed te staan gekom. “As jy weet hoe ’n ding gedoen word, kan hulle jou nie kom stories vertel nie.”

Hy was lank op die bestuur van die Stigting Simon van der Stel en ook voorsitter in 2001. Vir jare was die argitekspraktyk tuis in die pragtige Edwardiaanse huis by Lombardstraat 76, maar toe die praktyk ontbind het, moes hulle daar trek. “Dit was vir my hartseer om daar pad te gee.” Een van die dinge wat hom vandag nog kwaad maak is die laat-maar-begaan-houding van sommige eienaars van erfenisgeboue en die gevolglike verval van dié kosbare historiese plekke.

Die lys van verenigings en organisasies waarby hy oor die jare betrokke is, is ’n bladsy vol en hy was ook stadsraadslid.

Hy is uit die bloute gevra om Grafika vir studente in Industriële Chemie aan die PU te doseer en dit het gelei tot ’n verdere jarelange verbintenis met dié instansie. Later het hy ook vir studente van Stads- en Streeksbeplanning klas gegee en gehelp om dié kursus, wat die eerste van sy soort aan ’n universiteit in Suid-Afrika was, te vorm. Vakke wat hy doseer het was Tekene, Geskiedenis van Argitektuur en Ruimte-beplanning in ’n Stad.

Nardus het op ’n plaas grootgeword en sy hart is naby die grond. Nog ’n liefde is sy kudde Brahman-beeste op sy plaas in die Vredefortkoepel.

Nardus en Bets het oor die jare ook talle oorsese reise onderneem. Tydens ’n besoek aan die Amasone, het hy ’n boom gesien wat bekendstaan as die “walking tree”. Nardus merk op dat dié boom hom laat besef het dat God is nog besig met die skepping. “Hy is nog nie klaar nie.”

In Indië, tydens ’n besoek aan ’n moskee op ’n mensgemaakte eiland, het hy een van die grootste lewenslesse van sy lewe geleer. Daar was ’n klein vuil, Indiërseuntjie, wat gesit en visvang het op iets wat van ver af soos ’n blomtuin lyk wat op die water dryf. Dis eers as jy nader kom dat jy sien dat dit eintlik ’n bondel plastieksakke en rommel is wat hy aanmekaar vasgemaak het. “Hy het daar gesit en visvang met die grootste glimlag op sy gesig. Daar het ek besef: ons is in die gemors, maar jy moet dit bestuur – met ’n smile!”

Nardus is besig om af te skaal en hy en Bets se lewens staan in ’n ander rigting, maar sy nalatenskap aan geboue het grootliks daartoe bygedra om die voorkoms van Potchefstroom die afgelope ses dekades te vorm.

Print Friendly, PDF & Email