Leslie Skead – geneesheer van vele talente

by | Feb 11, 2022 | Forgotten Heroes, People | 0 comments

Vir bykans vier dekades was hy een van die talle geneeshere van Potchefstroom. Al het hy 23 jaar gelede afgetree is daar nou nog Potchefstromers wat hom onthou. Hy is dr Leslie Skead (91).

Hy was ’n mediese praktisyn toe dinge in die mediese wêreld nog ’n bietjie anders was. Tuisbesoeke was algemeen en hy vertel dat hy een dag nie minder nie as 32 huisbesoeke gedoen het! Hy het vandag nog ’n boekie waarin dit alles opgeteken is. Gewoonlik was daar so ongeveer 15 huisbesoeke per dag, dit is nou bo en behalwe sy spreekure by die praktyk, hospitaalbesoeke en operasies.

Een familie het hom gereeld snags uitgeroep. Met een so ’n besoek – die derde daardie maand – vra hy vir pa of hulle net in die nag siek word, want hy het nog nooit een van die gesin bedags by sy spreekkamer gesien nie. “Nee,” sê die pa, “bedags gaan ons na ’n ander dokter en snags laat ons jou kom. Die ander dokter doen nie tuisbesoeke nie!”

Hy het dit nooit besef terwyl hy gepraktiseer het nie, maar “ek was letterlik die mees berugte dokter van Potchefstroom. Die susters in die hospitaal was altyd kwaad vir my.” Die rede hiervoor, reken hy, was dat hulle eintlik vir hom bang was. “’n Ding is of reg of verkeerd. Ek het nie geskroom om te sê iets reg of verkeerd is nie.” Later het hy een raakgeloop en gevra of sy nog vir hom kwaad is. “Nie meer nie!” het sy laggend geantwoord.

In sy besit is ’n uitsonderlike geskenk wat een van die verpleegsters met wie hy saamgewerk het vir hom gegee het. Dit is ’n volstruiseierdop waarop sy haar weergawe geverf het van hoe hy lyk as hy opereer.

Só het ’n verpleegster met wie dr Skead saamgewerk het, gereken, lyk hy as hy opereer. Hy kan nie meer onthou wie die kunstenaar was nie.

Maar daar is talle pasiënte wat uiters dankbaar was. In 1999, met sy aftrede, het Cheryl Botha van die Potchefstroom Herald ’n artikel oor hom gedoen. Daarin vertel sy van ’n pasiënt, “tannie Gertruida Kotze,” wat reken dr Skead het haar lewe gered. Sy het ’n operasie ondergaan, wat deur ’n ander dokter gedoen is. Lewensgevaarlike komplikasies het genoodsaak dat sy inderhaas per ambulans na Klerksdorp geneem moes word. Daar was geen ander dokter beskikbaar nie, maar dr Skead het saam met haar in die ambulans geklim vir die tog na Klerksdorp. “Hierdie man het my lewe gered,” het sy gesê.

Dié foto van dr Leslie Skead en tannie Gertruida Kotze het saam met die artikel oor hom in die Potchefstroom Herald van 30 Julie 1999 verskyn, die jaar waarin hy afgetree het.

Dr Skead vertel dat sy kinders geweier het om saam met hom winkels toe te gaan, want daar was altyd iemand wat baie bly was om hom te sien en hom om die hals geval het!

In die bykans veertig jaar wat hy hier gepraktiseer het, kan hy nie veel spesifieke gevalle onthou nie. Wat wel uitstaan is die keer of wat, wat daar treinongelukke was. “Die hospitaal het gebel en ons het ons praktyke net so gelos en hospitaal toe gery. By een geleentheid was daar ’n man met ’n vergruisde been, wat ek moes afsit.”

Cheryl skryf ook dat hy in 1999 gesê het dat hy in sy loopbaan sowat 3 000 babas in die lewe gehelp het. “Dit moet heelwat meer wees,” sê hy vandag. Hy het aan haar vertel het dat hulle een van die “babas” kort tevore raakgeloop het toe hulle op Howick aangedoen het.

“Ek het twee jaar van my lewe gemors”

Leslie Skead is in 1930 in Pelgrimsrus gebore en was maar net sestien jaar oud toe hy in Rustenburg matrikuleer het.

Na skool het hy as vakleerling ingeskryf om ’n loodgieter te word en op asbesmyne gewerk. “Ek het twee jaar van my lewe gemors,” vertel hy “en die oggend van my agtiende verjaardag het ek my oë oopgemaak en my brein sê vir my: wat doen jy? Wat maak jy?” Hy het besluit om medies te gaan studeer en met finansiële bystand van sy pa het hy by die Universiteit van Pretoria ingeskryf.

Hy wou as seuntjie al ’n dokter word en sy ma het later vertel dat hy van kleins af gesê het: “I want to be a medicine man.” Terloops, hy het Engels grootgeword en was eers agt jaar oud toe hy Afrikaans leer praat het.

Hy het in 1955 klaar studeer en was twee jaar aan die hospitaal op Pietersburg verbonde, waar daar ’n chirurg en ’n ginekoloog was by wie hy baie geleer het. Hy het te hore gekom van ’n dr De Vos van Potchefstroom wat wou weggaan. Hy en sy vrou het Potchefstroom toe gekom en ’n naweek hier deurgebring. Dit blyk toe dat hy by die praktyk moes inkoop. Hy het nog altyd volgens die beginsel geleef dat hy nie skuld maak nie en nie op skuld leef nie. Noodgedwonge het hy toe wel studieskuld gehad en om nog verder skuld te maak was glad nie ’n opsie nie.

Terug in Pretoria, waar hy en sy vrou, Neelsie, by sy skoonma in ’n woonstel gebly het, het hy klaar sy besluit geneem om nie Potchefstroom toe te kom nie. Dié aand wou hy en Neelsie gaan fliek, maar dr De Vos van Potchefstroom sou bel om te hoor wat hy besluit het. Hy sê vir sy skoonma om vir dr De Vos te sê dat hy nie kans sien vir die skuld nie.

Toe hulle na elfuur dié aand tuiskom, sit sy skoonma vir hulle en wag. “Ek wil nie hê jy moet vir my kwaad word nie,” sê sy skoonma vir hom, “maar ek het vir jou ’n praktyk gekoop.” Dr De Vos het gebel en sy skoonma het vir hom sy boodskap gegee. Die dokter het toe ’n paar duisend rand van die verlangde bedrag afgeslaan. Sy skoonma het dié geleentheid nie wou sien verbygaan nie en het dit vir hom betaal.

So het Leslie Skead in 1961 by die praktyk, wat hy beskryf as die “groot praktyk” in Potchefstroom aangesluit. Die spreekkamers was in Lombardstraat (James Moroka) tussen die Joodse sinagoge en die Trustbank-gebou. Dit was die eerste daghospitaal in Potchefstroom en die vennote van destyds was dokters Heyns, Cilliers, Joubert en Oosthuizen en dr Skead. Oor die jare is van hulle oorlede en weg uit Potchefstroom en uiteindelik het dr Skead in 1997 by Medicross aangesluit, waar hy vir twee jaar gepraktiseer het. “Daar is nie tuisbesoeke gedoen nie,” voeg hy terloops by.

Die lisensie vir die destydse daghospitaal is later deur Mooimed oorgekoop en so het dié hospitaal tot stand gekom.

Leslie en Neelsie

Leslie Skead het die liefde van sy lewe, Neelsie van Schalkwyk, ontmoet toe hulle saam Dierkunde gehad het by UP. “Sy het een dag iets by my wou weet oor die beenvis en dit is waar dit alles begin het.” Sy het aanvanklik ook medies studeer, maar later op Biochemie besluit. Hulle is op 19 November 1955 in Pretoria getroud.

Hierdie foto van dr Leslie Skead en sy vrou Neelsie is geneem op 19 November 2020 om 15:00, dieselfde datum en tyd presies 65 jaar na hulle troue in 1955. Hulle was saam met hulle seun op pad na hulle plaas naby Oos-Londen en het langs die pad gestop. Die veldblommetjies het hy sommer langs die pad vir haar gepluk en daar pas dié ruiker toe jouwaarlik by haar uitrusting.

Een van hulle klasmaats was Frans Booyse, wat later as ortopediese chirurg in Pretoria praktiseer het. “Ek het al my ortopediese pasiënte na hom gestuur. Een dag bel Frans my en vra of ek weet wat van die Van Schalkwyk-aster geword. Ek het op daardie oomblik nie Neels se nooiensvan onthou nie en antwoord dat ek glad nie onthou nie. Frans sê: ‘Ons het haar Blondie genoem.’ Toe onthou ek en sê: sy is met my getroud!”

Die Skeads bly nog steeds in die huis wat hulle so drie maande na hulle koms na Potchefstroom gekoop het. Sy vrou wou nooit ’n ander een gehad het nie. Die huis – die enigste een in Fleischackstraat – is deur ’n Joodse vrou gebou en hy kan onthou dat daar ’n bordjie op die voorhekkie was met die woorde “Barrish Barah”, wat beteken “in die begin is geskep”.

Die Skeads het twee kinders, Lennard, vir wie hulle Lennie sê, ’n narkotiseur wat nou in Brandon, Manitoba in Kanada woon en Melanie, wat onlangs afgetree het as direkteur van Onderrig en Leer by die Universiteit van Stellenbosch. Sy het ’n PhD aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het drie kinders. Haar broer, Lennard het twee kinders en sy dogter studeer tans interne geneeskunde. “Dis drie geslagte in ’n mediese rigting,” sê die trotse oupa.

Dit wil voorkom asof die Skeads nou bande met Kanada het. “In Ottawa is ’n Skeadstraat en in Ontario ’n dorpie met die naam Skead,” vertel hy. “James Skead was ’n lid van die Kanadese parlement in 1882. Dit word vertel dat sy broer ’n perdedief was. Hy het die lewe gered van ’n Indiaanse hoofman en die hoofman het gevra of hy sal omgee as hulle sy van aanvaar. My seun het een van sy nageslagte raakgeloop.”

Dit word gereken dat die eerste Skeads van Skandinawië af na Engeland gegaan het. Thomas Skead was ’n offisier onder Lord Nelson by die Slag van Trafalgar. “Hy het 18 kinders gehad,” vertel dr Skead. “Hulle het later uit name gehardloop en van die dogters se name was Affability en Amiability!”

Die eerste Skead wat na Suid-Afrika gekom het, was James Curd Skead. Hy het in die 1890’s hier aangeland en is met ’n Afrikaanse meisie getroud.”

Die handige dokter

Leslie Skead se besige praktyk het nooit in die pad van sy handigheid met gereedskap gestaan nie. Twee van sy groot liefdes staan vandag in sy motorhuise.

Albei is Fords. “Ek is ’n Ford-man,” sê hy. Die een is ’n Model A van 1930 en die ander een ’n Ford V8 van 1932.

Die Model A staan heel gepas bekend as ’n “doctor’s coupe”, omdat dié betroubare voertuig baie gewild was onder mediese praktisyns van die dertigerjare. Dr Skead se motor het nog steeds ’n plakker van die Kalie de Haas-hospitaal (nou Potchefstroom-hospitaal) op wat hom toegang gee tot die doktersparkering by die hospitaal, wat dit dubbeld ’n doktersmotor maak.

Die woord “coupe” beteken dat dit net twee sitplekke het, maar dit het ’n agterbak (dickey seat). Dit is in die plek waar ’n kattebak gewoonlik is, maar die opening slaan van bo na ander oop en bied ekstra sitplek. Passasiers in dié sitplekke sit egter onder die blote hemel en is aan die elemente blootgestel!

Dié Model A Ford het dr Skead in Elgin in die Kaap gekoop. Dit het behoort aan ’n landmeter in Windhoek. “Ek het sy oorspronklike registrasiepapiere toe hy in 1930 geregistreer is,” vertel hy.

Dr Leslie Skead by sy Ford Model A van 1930. Die motor staan bekend as ’n “doctor’s coupe” omdat so baie dokters in die dertigjare dié betroubare motor gebruik het. Dr Skead het dit ook so gebruik en die geel skyfie teen die voorste venster gee hom toegang tot die doktersparkering by die Kalie de Haas-hospitaal.

Die 1932 Ford V8 was die eerste Ford-motor met ’n V8-enjin. Hy het die stukke van die motor in vyf houtkratte gekoop en self gerestoureer. Later het hy teruggegaan na die plaas waar hy dit gekoop het en nog onderdele in die gras opgetel waar die motor gestaan het!

Die voorste stamper het hy in die Transkei gevind. Hy het ’n soortgelyke motor uit die hoek van sy oog langs die pad gesien, stilgehou en die stamper gekoop.

Die voorkant van dr Leslie Skead se Ford V8-motor van 1932. Hy het die motor in stukke gekoop, verpak in vyf kratte. Die voorste stamper was weg en hy het dié een langs die pad in die Transkei opgemerk waar hy dit gekoop het.

Sy belangstelling in motors kom ook al ver. “Ek het net van kleins af ’n liefde gehad om te weet hoe werk ’n ding. As ons ou Ford-bakkie gaan staan het my pa my kom haal en my met my gereedskapkis en al by die bakkie gaan aflaai en ek het dit reggemaak.”

Dis juis hierdie handigheid wat hom soms in die warm water laat beland het en uit die water gered het!

“Ek het hoeveel keer karre langs die pad reggemaak as ons met vakansie gegaan het. Een keer het ek drie maal stilgehou en toe sê Neels jy stop nie weer nie!”

’n Staaltjie wat deur ’n destydse vriend van dr Skead – nou oorlede – vertel is, gaan juis oor vakansie. Die Skeads het by ’n vakansieoord plek bespreek. Of hy sy beroep op die besprekingsvorm moes invul en of sy titel hom weggegee het, is nie bekend nie.

Die familie het die eerste dag ’n heerlike, maar uitputtende dag op die strand deurgebring. Toe hulle laatmiddag terugkom by hulle blyplek het daar ’n hele ry mense vir hom gesit en wag vir mediese behandeling. Hy moes noodgedwonge na almal se kwinte en kwale omsien! Dit, sê dr Skead, het baie gebeur.

’n Ander keer het hulle elders gaan vakansie hou en daar is sy beroep aangegee as “loodgieter”. Die gesin kon heerlik en ontspan en vakansie hou. Tot een dag. Die oordeienaar was heeltemal raadop toe hy laat die aand by die Skeads kom aanklop het. ’n Waterpyp het gebars en hy kon nêrens ’n loodgieter opspoor om die lek te kom regmaak nie. Dr Skead het sonder blik of bloos sy gereedskapkis uit sy motor gaan haal en die waterpyp herstel. Dit het hy ook baie gedoen, voeg dr Skead by.

Die Skeads het ’n vakansie-eiendom by Port St Johns gehad, maar met die skep van die destydse tuislande is dit deur die regering gekoop. Hulle het oorweeg om ’n karavaan te koop om mee te toer. Tot mev Skead ’n advertensie, weggesteek in ’n koerant, raaklees van ’n plaas langs die see naby Oos-Londen wat vir ’n goeie prys te koop was. Dit was ’n kans wat hulle nooit weer sou kry nie en hulle het dit gekoop.

Dr Leslie Skead se hart se punt is sy plaas langs die kus naby Oos-Londen. Vandag is besoeke aan dié stukkie paradys nie so maklik as voorheen nie. Daarom hang dié foto in sy huis waarna hy gereeld kyk.

Die plan was dat hulle daar sou gaan aftree het, maar dit het nie gebeur nie. Hulle is steeds in Potchefstroom, tuis in hulle huis van ses dekades, naby bekendes.

Dr Leslie Skead is een van die legendes van Potchefstroom, iemand wat nog altyd kop en skouers uitgestaan het, in statuur, persoonlikheid en vaardigheid.

 

 

 

Print Friendly, PDF & Email