Geweld lei tot eerste JOOL

by | Feb 1, 2020 | Events | 0 comments

Een van die mees ongelukkige gebeure wat ooit op die kampus van die NWU Potchefstroom gebeur het, het aanleiding gegee tot die eerste Vreugdedag, vandag se JOOL. Daar is vroeër optogte deur die strate gehou, maar dit was eenmalige gebeurtenisse en nie ’n jaarlikse instelling nie.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het daar heelwat spanning bestaan tussen die studente van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK), wat meeste nie die oorlogspoging goedgesind was nie, en die soldate in die militêre basis. Boonop was die soldate die studente se direkte bure.

Die aand van 7 Augustus 1940 het die berugte soldate-aanval op die kampus plaasgevind. Die studentesaal, ’n sinkstruktuur en die eetsaal en kamers in Heimat is in puin gelaat, terwyl tussen 14 en 20 studente beseer is, waaronder nege damesstudente.

Enkele persone verbonde aan die PUK is ook vanaf 1940 in hegtenis geneem en geïnterneer op grond van bewerings van onder meer hoogverraad.

Dié internerings en die verdeeldheid onder die Afrikaners tydens die oorlogsjare het ’n neerdrukkende invloed op die studentelewe gehad. Vir hulle was dit eerder ’n tyd van rou as van jolyt.

Gertie Maré, later Krynauw, was in 1942 ’n tweedejaarstudent. Sy en haar medetweedejaars het ’n vlotoptog deur die strate van Potchefstroom beplan en dit ‘Vreugdedag’ genoem, juis om onder dié swaar omstandighede te sorg vir ’n bietjie jolyt. Dié optog was ’n groot sukses en die Vreugdedag het ’n jaarlikse instelling geword.

Die Tweedejaars Vreugdedag van 1942. Foto: NWU Argief en Museum

In 1953 het die Pukke meer as genoeg motivering gehad om van hulle Vreugdedag ’n groot sukses te maak. Nadat hulle glad nie meer in die saal van die Hoofgebou kon inpas nie, wou die studente baie graag hulle eie saal hê. Geld is daarvoor ingesamel onder meer deur Thalia en Alabama se toere. Dié studentesaal was in aanbou, maar die geld was nie genoeg nie.

Wapad publiseer op 7 Augustus 1953 ’n bylaag, Die Vlotjie wat net oor Vreugdedag gaan. Hierin word studente aangemoedig om hulle bes te doen om soveel as moontlik geld in te samel, want die opbrengs van Vreugdedag sou vir die boufonds gaan. Dié studentesaal is voltooi en is vandag die Totiussaal.

Daar is dié jaar ’n prys van iets meer as £2 uitgeloof vir die beste vlot. Vlotbouers kon selfs besluit wat hulle wil uitbeeld en het nie ’n spesifieke tema gehad nie. Daar sou twintig vlotte aan die optog deelneem, onder meer twee hofvlotte, twee musiekvlotte, 2 BA-vlotte, 2 BSc-vlotte en een BComm-vlot. Boonop sou die vlotte ook na Viljoenskroon geneem word vir ’n optog daar.

In 1959 was Vreugdedag op 25 April. Wapad skryf op 17 April: “Vanjaar val ons die dorp binne met 14 vlotte, almal op ’n ry, met ’n yslike orkes vooraan – kompleet met beuels, trompette, sydromme, keteldromme en – ander ketels. Voeg daarby ’n paar honderd gillende, jillende vermomde eerstejaars en u kan min of meer ’n prentjie vorm van Vreugdedag: die dorp staan stil en ons beweeg: hande beweeg outomaties na sakke en beursies om die laaste versilwerde pennie aan die jeug van vandag te offer.”

Met ’n bedrag van altesaam R3 400 wat ingesamel is, het die Vreugdedag alle vorige rekords oortref. Die regsvlot alleen het R200 ingesamel.

Irene Harms-Rumpf, ’n student in 1961, vertel dat ’n skynhof op die hofvlot of regsvlot gehou is. Die skynhof het plaasgevind terwyl die vlotte deur strate beweeg het.

Dié foto is op die 1961 hofvlot geneem. Dié vlot is deur die regstudente gebou en terwyl dit deur die strate beweeg het is daar ’n skynhof daarop gehou. Die blonde meisie regs is Irene Rumpff-Harms, oudstudent van die Fakulteit Regte, in wie se besit die foto is.

 

Die vlot wat in 1961 die prys gewen het as die beste vlot tydens Vreugdedag. Dit is gebou deur Heimat en Kulu (De Klerk-huis). Die foto was op 26 Mei 1961 in Wapad.

Die tradisie van Vreugdedag kom in 1964 tot ’n einde, toe daar besluit is om dit af te skaf. Redes wat aangevoer is, is dat Potchefstroom toe ’n plattelandse dorp was met talle opvoedkundige inrigtings wat almal hoë finansiële eise aan die publiek stel. Wapad berig op 6 November 1964 daaroor en sê: “Sierwa-optogte en gekostumeerde straatkollektes blyk ook uitgedien te wees.”

Daar is toe besluit om elke drie jaar ’n groot aksie van stapel te stuur en die eerste daarvan sou in 1967 plaasvind. Dit blyk egter dat dié gebruik nie uitgedien was nie en toe dit hervat is, het dié geleentheid as Karnaval bekendgestaan en dit is steeds jaarliks gehou.

Stephan Pretorius, tans ’n bekende Potchefstroomse sakeman, was in 1980 die voorsitter van die Karnavalkomitee. In Wapad van 29 Februarie sê hy dat daar net met die Pukkie-verkope en kollektelyste R34 000 ingesamel is, teenoor die vorige jaar se R25 000.

Vreugdedag besoek Lichtenburg in 1962. Foto: Hettie van Wyk

Dié foto van Liz Jansen van Rensburg en Stephen Finn is geneem tydens JOOL ongeveer 1965 tot 1967. Foto: Liz van Aswegen

Karnaval word JOOL in 1988. Wapad van 16 Februarie 1988 sê dat JOOL glad nie met ‘jol’ verwar moet word nie. JOOL staan vir Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid, wat harde werk beteken.

En nou is die volgende dramatiese hoofstuk in die geskiedenis van JOOL geskryf. Vir die eerste keer sedert die 1960’s is Potchefstroom se strate op die Saterdagoggend van JOOL verlate.

Nadat Karnaval in 1988 JOOL geword het was die groep die eerste finaliste wat meegeding het om Mej JOOL-persoonlikheid te word. Die foto het op 16 Februarie 1988 in Wapad verskyn. Hulle is (voor) Plonia van Tonder, Amelda Henning, Aurelia Opperman, Elmarie Nagel, Elouise de Beer, Sorita Hendriks, Sanette Basson en (agter) Marna Terblanché, Alet Steenekamp en Amanda Weber. Amelda Henning is as JOOL-persoonlikheid gekroon. Nog ’n finalis, Alet Steenekamp, het later internasionaal modelwerk gedoen.

Vir jare was die PUK se Trompoppies deel van die aantrekkingskrag van JOOL. Die Trompoppies is in 1975 gestig en het in 1976 die eerste keer aan die Karnaval-optog deelgeneem. Die groep was in die vroeë 1990’s so goed dat hulle nasionale pryse gewen het. Christa Cloete was jare lank hulle beskermvrou. Sy vertel dat die jaar wat dié foto geneem is, het dit katte en honde met JOOL gereën. Die hoë pelshoede, bekend as busbies, sou skade kry as dit nat word en die Trompoppies het sonder hulle hoede gestap. Die laaste Trompoppie-groep het in 1997 aan JOOL deelgeneem. Die hoë koste van hulle kostuums het dié groep se einde beteken en vanaf 1998 het dit die Cheerleaders geword. Foto: Christa Cloete

Print Friendly, PDF & Email