As ’n biblioteek brand . . .

by | Apr 19, 2021 | Events, Forgotten Heroes, Places, Uncategorized | 0 comments

Die brand wat die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad Sondag deels in puin gelê het, het boekliefhebbers én dié wat die geskiedenis van die Ferdinand Postma-biblioteek ken, laat sidder.

In 1949 is die biblioteek van die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege in puin gelê, ’n vernietigende slag vir die PUK. Die PUK was ’n voorloper van die Noordwes-Universiteit.

Hierdie artikel is in 2019 voorberei vir die bylaag wat in die Potchefstroom Herald verskyn het om die 150ste bestaansjaar van die Noordwes-Universiteit, vroeër Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, vroeër PUK en nog vroeër die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk en sy Literariese Departement. Ek het dit nou uitgebrei om meer foto’s van die brand en die mense wat ’n rol in die vroeë geskiedenis van die biblioteek gespeel het, in te sluit. Dit was onlangs, op 17 Maart, presies sewentig jaar dat die hoeksteen van die Ferdinand Postma-biblioteek gelê is.

Die opbou van ’n biblioteek of boekery was van die stigting van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in 1869 een van die prioriteite van die Skool.

So vroeg as 1873 word daar deur ds Jan Leon Cachet aan die Sinode van die Gereformeerde Kerk gerapporteer dat die helfte van die klasgeld wat deur studente betaal is vir die biblioteek geoormerk is.

Teen 1891 is een van die drie vertrekke wat toe deur die Teologiese Skool in Burgersdorp betrek is, as biblioteek benut vir die sowat 400-500 teologiese en letterkundige werke in die versameling.

Vroeë bibliotekaris

Die bekende LJ du Plessis, eerste lektor in ekonomiese en regsvakke, was in 1922 die bibliotekaris van die biblioteek, wat toe ’n versameling van 2 300 boekdele gehad het. Du Plessis het die versameling volledig gekatalogiseer.

Lodewikus Johannes du Plessis (1897-1968 ) is deur sy studente beskryf as die “slimste man op aarde”. Hy is op Burgersdorp gebore waar sy pa ’n professor aan die Teologiese Skool was. Hy behaal in 1917 die BA-graad aan die Teologiese Skool in Potchefstroom met lof. In 1918 word hy by die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk aangestel. ’n Honneurs aan die Universiteit van Pretoria en studies in die Klassieke in Nederland volg. In 1931 het hy ook die graad MEcon in Staatsleer en in 1934 die LLB-graad behaal. In 1932 word hy die eerste dosent om regsvakke aan die PUK aan te bied. Met sy dood in 1968 word prof Wikus, soos hy algemeen bekend was, só beskryf: “Hy was ’n oorspronklike en geniale denker – die oorspronklikste denker wat nog by die Potchefstroomse Universiteit was – wat oor die vermoë beskik het om tot die kern en wese van ’n saak deur te dring.” Hy het gedien as sekretaris vir die Bybelvertalers wat die eerste Bybel in Afrikaans vertaal het en het só die hele Ou Testament oorgetik. Hy was ook die stigter van Volkskas bank, wat later ABSA geword het en vir 11 jaar voorsitter van die direksie. Van 1933 tot 1946 was hy huispa van die PUK-studente. Hy verlaat die PUK dié jaar om onsuksesvol die sakewêreld te betree en in 1953 keer hy terug as professor. ’n Vroeë bedanking volg aan die einde van 1961 weens gesondheidsredes en in 1963 ondergaan hy ’n breinoperasie, bekend as ’n gewysigde frontale leukotomie. Vandag word dit beskou as ’n ruwe, onwetenskaplike en gevaarlike prosedure. In 1976 skryf prof PJJS Potgieter oor die effek daarvan op hom: “Sy stem is nie meer in heldere en oortuigende betoog gehoor nie. Sy vaardige pen het nie meer geskryf nie.” Hy is in 1968 oorlede. Foto: NWU Argief en Museum

Biblioteek in sinkgebou

In 1923 het die biblioteek na die huidige kampus verhuis, waar dit in een van die agt sinkgeboue, waaruit die kampus toe bestaan het, gehuisves is. Dié sinkbarakke is na die Anglo-Boereoorlog vanaf Indië na Suid-Afrika gebring om die Britse besettingsmag te huisves. Dit het as kantonnemente bekendgestaan en kom uit en kom uit Poona en Karachi in Indië. Dit is oor die hele land opgerig, onder meer by die Potchefstroomse militêre kamp. Tussen die Anglo-Boereoorlog en die rebellie van 1914 het die Potchefstroomse kantonnemente tussen 3 000 en 4 000 troepe gehuisves.

Die kantonnemente is op stelte of pale gebou wat van Jarra-hout gemaak is, sodat die water van die moesonreëns onder die gebou kon deurvloei en is presies so in Suid-Afrika opgerig.

Die PUK het agt van dié kantonnemente in 1923 bekom. Dit is opgerig op die huidige terrein in die vorm van twee vierkante, gevorm deur sewe van die strukture. Waar die Hoofgebou nou staan, het die agste gestaan. Dit was ’n koshuis wat as “Ons Huis” bekend was. Die res was lesingsale, kantore, die biblioteek en laboratoria.

Hierdie foto toon die Hoofgebou in aanbou in 1930 met van die sinkbarakke in die voorgrond. Foto: NWU Argief & Museum

Nadat ’n brand die biblioteek van die Universiteit van die Witwatersrand in 1931 verwoes het, het die PUK besluit om sy biblioteek van die ou sinkbarakke na die Hoofgebou te verskuif waar dit in 1931 op die boonste vloer in die noordoostelike vleuel (regs bo) ingerig is.

Die hoeksteen van dié ikoon van die Puk, die Hoofgebou, is in 1930 deur die Minister van Onderwys, dr DF Malan, gelê en die gebou is die jaar daarna in gebruik geneem. Aanvanklik het dit verskeie departemente en die biblioteek gehuisves, maar vandag is dit net die tuiste van die Fakulteit Regte. Die argitek van die gebou was mnr Henri Louw van Bloemfontein, ’n argitek wat bekend was as ontwerper van kerkgeboue. Foto: NWU Argief en Museum

Die Hoofgebou is op 3 April 1931 amptelik in gebruik geneem. Die oprigting van dié gebou, en ander op die kampus, was in reaksie op ’n striemende verslag wat die Van der Horst-kommissie uitgebring het en waarin die Puk gekritiseer word vir onder meer sy swak geboue, gebrekkige biblioteek en ontoereikende laboratoriums.

Die Puk het hand in eie boesem gesteek en ’n program van stapel gestuur om fondse in te samel om dié probleme aan te spreek. Fondse is onder meer gebruik om die hoofgebou, koshuise en die ou Fisikagebou te bou.

Aanvanklik is, benewens die administratiewe kantore, ’n hele paar akademiese departemente en die biblioteek in die hoofgebou gehuisves.

Die biblioteek brand!

Op 23 Februarie 1949, pas na die studente van vakansie teruggekeer het, het ’n kortsluiting in die elektriese bedrading van die Hoofgebou veroorsaak dat ’n brand in die biblioteek uitbreek.

Onvervangbare manuskripte en boeke is verwoes in ’n brand wat op 23 Februarie 1949 in die biblioteek van die Hoofgebou uitgebreek het. Foto: NWU Argief en Museum

Die brand kon beperk word tot die eerste verdieping se noordoostelike vleuel, maar die biblioteek is in puin gelê. Dit word bereken dat 30 000 boeke en 4 000 tydskrifte in die slag gebly het. Van die onvervangbare items was oorspronklike manuskripte van die skrywer Jan F Celliers.

Na die brand is daar bereken dat sowat £30 000 benodig word vir die vervanging van die boeke. Die openbare reaksie na die brand was oorweldigend en uit alle dele van die land, buurlande en selfs van oorsee is boekskenkings en geldelike bydrae ontvang. ’n Groot skenking is van Nederland ontvang. Minister NC Havenga het ook sy hele boekery aan die PUK geskenk.

Kyk hier na ’n seldsame rolprentopname van die brand

Prof Piet van der Schyff skryf in Wonderdaad…!, die geskiedenis van die PUK vanaf 1869 tot en met die selfstandigwording in 1951, dat hierdie dramatiese foto tydens die brand van 1949 geneem is. Dit toon prof Dirk van Rooy, “op sy dag heelagter vir die Wes-Transvaalse Mielieboer, (waar hy) behendig die vallende puin van die brandende biblioteek systap.”

In 1969 publiseer Wapad ‘n spesiale bylaag met die eeufeesviering van die PU vir CHO. Studente van 20 jaar vantevore het hierin geskryf oor “Die Brand”.

Die skade wat die brand van 23 Februarie 1949 aan die Hoofgebou gerig het, is duidelik te sien op hierdie foto wat in 1993 in Ex Jure, die publikasie van die Studenteregsvereniging (SRVP) verskyn het.

Van die meublement en boeke wat gered kan word. Op die agtergrond is die tennisbane waar daar weldra ’n nuwe biblioteek opgerig sou word. Foto: Wonderdaad.

’n Nuwe biblioteek

Reeds vanaf 1946 was die Raad van die PUK van mening dat die Biblioteek nie meer toereikend is nie en is begin met planne vir ’n nuwe gebou. Daar is planne gemaak vir ’n eie gebou, vir ’n groter biblioteek. Vir die oprigting van ’n nuwe “doeltreffende en brandvrye gebou” was £50 000 nodig.

Met die voorspraak van advokaat Eric Louw, minister van Ekonomiese Sake, wat die ramptoneel van die brand besoek het en hulp van dr Jan Steyn, Volksraadslid van Potchefstroom, is daar ’n bedrag van £40 000 vanaf die Departement van Onderwys bewillig vir ’n nuwe gebou. Die PUK moes dus poog om self die verdere £10 000 by te dra.

Prof AL Meiring is as argitek aangestel en daar is met die opstel van die planne begin. Die sketsplanne is in September 1949 ingedien en ’n tender vir die bedrag van £43 437 van die firma Van Heerden en Johnson is teen die einde van September aangeneem. Volgens die kontrak moes die gebou teen Oktober 1951 afgelewer word. Daar is met die bouwerk begin en op 17 Maart 1951, tydens die viering van die selfstandigwording van die PUK, is die hoeksteen gelê. Die gebou is uiteindelik in 1952 voltooi en op 29 November 1952 in gebruik geneem. Dit is vernoem na die persoon wat vir 46 jaar aan die Universiteit verbonde was en vir 29 jaar daarvan as rektor, prof Ferdinand Postma.

 

Prof Ferdinand Postma (1879-1950) was die rektor van die PUK van 1921 tot 1950. Hy het ’n kardinale rol gespeel in die voorbestaan van die PUK. Sy groot lewensdoel was om die PUK te lei tot by selfstandigheidswording, waarvoor hy hom onvermoeid beywer het. Vroeg in 1950 is die privaatwetsontwerp om die PUK ’n selfstandige universiteit te maak deur die Parlement en Senaat geloods. Prof Postma is in November 1950 oorlede, enkele maande voor die selfstandigwording in Maart 1951 gevier is. Wonderdaad…! sê dat die biblioteekbrand in 1949 een van die terugslae dié jaar was wat ’n gevoelige knou vir sy gesondheid toegedien het. Foto: NWU Argief & Museum

In ’n artikel in Die Veteraan in 1952 word die nuwe biblioteekgebou só opgesom: “Benewens bergruimte vir 100 000 tot 120 000 boekdele in sy magasyn, bied die gebou ruimte vir kalme, ongestoorde studie vir 160 studente in sy ruim en aangename studiesaal. Vir gevorderde en navorsingstudente is 12 klein studeerkamers beplan. Ruim voorsiening is gemaak vir kantoor-en werkruimte vir die biblioteekpersoneel, vir die goed toegeruste boekbindery, ’n fotografiese afdeling en vir enkele seminaarkamers”. Van die meubels vir die studiesale wat in 1951 aangekoop is, was in 2017 nog in gebruik – én in ’n uitstekende toestand.

Prof AL Meiring (1904-1972) was die eerste professor in Argitektuur aan die Universiteit van Pretoria. Die plan van die nuwe biblioteek, wat hy na die biblioteekbrand van 1949 vir die PUK opgestel het, was die eerste van verskeie projekte vir die PUK en later PU vir CHO. Hy het in 1954 ook ’n terreinplan vir die PU vir CHO opgestel. Foto: NWU Argief en Museum.

Minder as 20 jaar later is die biblioteek te klein en in 1971 word planne gemaak vir die aansienlike uitbreiding van die gebou. Net ten opsigte van sitplek vir studente in die studieruimtes sou dit van 150 na 1 500 sitplekke vergroot. Die uitbreidings, wat ook ’n derde verdieping ingesluit het, was teen 1974 afgehandel.

In Julie 2011 open Ferdies, die koffiekroeg in die biblioteek. ’n Berig op die NWU-webblad sê: “Wêreldwyd is die verskaffing van verversingsfasiliteite byna altyd deel van die verjongingskuur wat biblioteke ondergaan. Die biblioteek hoop veral dat dit vir beide studente en personeel nie net ’n verversingstasie sal wees nie, maar ’n plek van sosiaal-akademiese verkeer.”

Die vinnige en omvattende tegnologiese veranderings wat deesdae plaasvind het grondige veranderings tot gevolg gehad aan ’n biblioteek se taak om inligting te versamel, te onderhou en aan gebruikers te verskaf.

Dit het in 2012 ’n jarelange opknappingsprojek by die biblioteek van stapel gestuur, waarvan die eerste fase in 2014 voltooi is met die open van die Honneurs- en Navorsingsmeent. Die projek is in 2018 voltooi. Die finale fase sluit in meer studiestasies vir studente en ’n verbeterde lugversorgstelsel.

Die Ferdinand Postma-biblioteek in 2014. Foto: Facebook

Lees hier meer oor die biblioteek: https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/28121

 

 

 

Print Friendly, PDF & Email