Dit is absoluut kitsch om te sê sy stem is stil, maar dis presies wat dit is. Die bariton, Werner Nel, is op 22 November 2022 in sy slaap oorlede.
In 1987 het ek vir die Potchefstroomse Universiteit se tydskrif vir sy oudstudente, die PU-Kaner, ’n artikel oor Werner Nel gedoen. Dit was nadat hy die destyds gesogte Artes-toekenning ontvang het. Die eerste Artes-toekennings is in 1969 gegee. Dit was die breinkind van D Mothie wat ’n platform wou skep waar kunstenaars hulle talent kon ten toon stel en daarvoor erkenning kon ontvang.
Ek eer Werner Nel deur my 1987-artikel hier weer te gee. Oor die jare het ek ander artikels oor hom gebêre en gee uittreksels daaruit.
Die Puk se eie Artes-wenner
Die 1987 PU-Kaner-artikel:
Die Artes-toekenning wat Werner Nel vanjaar ontvang het, is die kroon op ’n roemryke sangloopbaan wat van sy beginjare groot belofte ingehou het. Hy het die Radio-Artes ontvang vir die bevordering van ernstige musiek na aanleiding van sy uitvoering van die Schöne Maggelone-lieder van Brahms, Opus 33. Truida Oliver (van der Walt), ook ’n musiekdosent by die Puk, het hom begelei tydens die uitvoering van die lieder. Met die oorwinning het hy drie ander benoemdes uitgestof. Hy is voorheen vir ’n Artes benoem, maar dit is die eerste keer dat hy die toekenning kry.
Die toekenning bevestig weer eens dat Werner Nel een van die beste baritons in Suid-Afrika is, maar hy het ook oorsee naam gemaak. Hy is al byna vyftien jaar dosent aan die Musiekkonservatorium van die Puk.
Hy is seker die grootste musiekgeskenk wat Duitsland ooit vir Suid-Afrika gegee het. As Gerd Werner Runge is hy in Duitsland gebore. Hy het in die oorlogjare tering opgedoen en is een van die Duitse weeskinders wat in 1948 na Suid-Afrika gekom het.
Hy is na Noupoort in die Karoo, waar sy nuwe ouers, mnr en mev Luther en Cecile Nel, toe gewoon het. Hulle het daarna na Bellville verhuis en dit is hier waar hy die eerste keer gesing het. Sangopleiding het eers begin na sy stem gebreek het, toe hy so sestien jaar oud was, en sy eerste leermeesters was prof (Georg) en mev Gruber van die Rhodes Universiteit in Grahamstad.
Hoewel doseerwerk min tyd laat om aan sy eie sang te bestee, vul doseerwerk en die uitvoerende kunste mekaar so goed aan dat hy dit nie maklik kan prysgee nie.
Gevolglik het hy na matriek by dié universiteit ingeskryf en ’n BA en UOD voltooi. Sy eerste konserte, radio-optredes en toer het hy in dié jare begin en ook terwyl hy daarna musiekonderwyser by die Kingswood College was.
’n Uitruilbeurs neem hom terug na Duitsland
Die voorreg om oorsee te gaan studeer kom in 1969 toe hy ’n Duitse uitruilbeurs en ’n SAMRO-beurs ontvang en hy studeer twee jaar onder prof Hanno Blaschke wat ’n jarelange vriend word. Die intensiewe studie het na vier maande sy waarde bewys toe hy die eerste van ’n paar groot pryse wen. Na twee jaar word hy bariton aan die Staatsopera van Gelsenkirchen.
Werner Nel sal graag wil sien dat sy eie studente dieselfde intensiewe opleiding ontvang wat hy gekry het. Die dertien uur per week wat in Duitsland aan praktiese opleiding bestee word, kan nie vergelyk met die ongeveer twee uur wat vir studente aan universiteite in Suid-Afrika beskore is nie.
Van die radio-opnames wat hy tydens sy verblyf in Europa gemaak het, is die eerste uitvoerings van werke en word vandag nog in die argiewe van die radionetwerke in Stuttgart en München bewaar. Hy het toe al vir heelparty ander netwerke gesing.
Die besluit om terug te kom Suid-Afrika toe was moeilik, maar hy het ’n pos aanvaar by die Puk se Musiekkonservatorium en is ten spyte van talle ander aanbiedings vandag, 13 jaar later, steeds hier. Om nog boonop uitvoerende kunstenaar ook te wees is nie maklik nie; dit beteken dat hy dikwels moet reis en baie tyd aan die instudeer van werke moet bestee. Sy twintig sangstudente vul sy dag so dat hy skaars twee oggende per week het om self te oefen. Die res moet saans gedoen word. Tog vul die doseerwerk en optredes mekaar aan. “’n Sanger (van ernstige musiek) kan nie sy brood daarmee alleen verdien nie; daarom doseer ek, en na ’n optrede keer ek ook weer met nuwe moed en motivering terug na my studente. Ek sal ook nooit ligte liedjies sing vir die inkomste daarvan nie; dit sal voel asof ek my siel verkoop.”
Sy oudstudente presteer in eie reg
Dit is nie net as sanger wat Werner Nel sy stempel afgedruk het op die Suid-Afrikaanse musieklewe nie. Sy oudstudente tel onder ons voorste sangers. Die bekendste is seker Rina Hugo, wat as sangeres van ernstige en ligte musiek ’n huishoudelike naam geword het. Rina het sewe jaar lank onder Werner studeer en kom nog gereeld terug vir lesse voor ’n groot optrede.
De Wet van Rooyen, tans aan Kruik verbonde, en André Howard is nog twee van Werner se meer bekende oudstudente. André het in 1985 die konsertprys gewen in die internasionale Sangwedstryd van UNISA en is pas aangestel as tydelike dosent by die Konservatorium.
Om self weer te gaan studeer is ’n ideaal wat Werner Nel nie maklik weer gaan verwesenlik nie. Beurse vir oorsese studie is nie geredelik beskikbaar nie en om ’n plaasvervanger te vind is amper nog moeiliker.
Prof Hanno Blaschke, sy oud-leermeester uit München, se besoeke aan Suid-Afrika het darem geleentheid gebied vir ’n paar lesse. Prof Blaschke het in 1979 en 1982 Suid-Afrika besoek om gevorderde sangkursusse aan te bied. Die eerste was ’n Meesterskursus in Sang en die tweede ’n Operakursus in 1982. Prof Blaschke kom weer binnekort na Suid-Afrika om kursusse in stemtegniek aan te bied.
As ’n mens kyk na die resensies van Werner Nel se uitvoerings oor die afgelope twee dekades, kan jy nie glo dat hy steeds kan verbeter nie. Reeds in 1963 is daar al voorspellings gemaak dat ’n luisterryke loopbaan vir hom wag en hy is vergelyk met Gerard Souzay en Dietrich Fischer-Dieskau. Hy het veral bekend geword vir sy uitvoerings van die groot Schubert-liedersiklusse, Winterreise, Schöne Müllerin en Schwanengesang. Sy begeleier tydens die konserte was feitlik deurgaans prof Pieter de Villiers. Hierdie heel besonderse vennootskap het oor jare ontwikkel en hulle het geleer om mekaar goed aan te vul.
As operasanger is hy ewe bekend. In 1986 het hy saam met een van sy oudstudente, Rina Hugo, in Die Towerfluit van Mozart vir SUKOVS opgetree. Hy het ook die rol van Ottokar in Der Freischütz vertolk in die produksie wat deur die Roodepoortse Stadsteater aangebied is. Hy het daarbenewens in Die Fledermaus , Cosi fan Tutte, L’Eliser d’Amore, Il Pagliacci en Turandot opgetree.
Tog bly die kunslied sy grootste uitdaging. “Jy staan daar voor ’n kleiner, kritieser gehoor en is net op jouself aangewese om die kuns te bring. Daar is geen orkes of dekor wat kan help nie. Om so ’n gehoor en jouself tevrede te stel vra jare se voorbereiding.” Aan Winterreise van Schubert het hy begin werk voor hy in 1969 oorsee is en het dit die eerste keer in die laat sewentigerjare gesing. Al die jare se harde werk is soms vir net twee of drie uitvoerings, ’n nadeel wat die beperkte Suid-Afrikaanse gehore het. Oorsee kry sangers die geleentheid om ’n werk tientalle kere, selfs meer as ’n honderd keer te sing en om dit só werklik deel van hulself te maak en groot hoogtes te bereik.
Tuis is hy pa van vier seuns, en vir ontspanning vang hy graag saam met hulle vis. Musiek vorm ’n wesenlike deel van hulle daaglikse lewe en dit gebeur dikwels dat hulle as gesin saam musiek maak. Juis ter wille van hulle sal hy nie graag van Potchefstroom wil weggaan nie, ten spyte daarvan dat hy ver van die stad is. Die landelikheid en rustigheid hier weeg swaarder as die ongerief van die ritte.
Tot hier toe die 1987-artikel.
“Duitse wesie vind geluk in Suid-Afrika”
In 1992 publiseer die Potchefstroom Herald onder hierdie opskrif ’n artikel wat ’n kykie in die lewe van Werner Nel gee:
Min van prof Werner Nel se bewonderaars weet dat dié bekende pedagoog, opera- en konsertsanger ook iemand is wat weg van die verhoog lief is vir alledaagse dinge soos hengel en om in sy groentetuin ’n verbeter stryd teen goggas en muisvoëls te voer.
Tien maande na hy sy vrou Zella ontmoet het, is hulle getroud. Hy sê hy hou daarvan om klein dingetjies vir haar te doen haar te verras met ’n presentjie (sjokolade, want dis haar gunsteling) of ’n aand uit.
“Ek is lief vir eet en ons maak veral ’n koolbredie wat oor rys geëet word – ’n dis wat ons in die ‘maer’ Duitsland-jare geleer het. Vakansies bring ons in die Oos-Kaap deur omdat my vrou en ek albei daar grootgeword het,” sê hy.
Hy sê aan die Herald dat dit vir hom “baie goed” is om in Potchefstroom te woon, “al is dit altyd die moeilikste om voor ’n mens se tuisdorp op te tree.”
Sy ‘kosbaarste besitting’ is sy vleuelklavier, wat deesdae R35 000 werd is. (1992)
Wat hom irriteer, is studente wat nie oefen nie en sy leuse is: “God respects me when I work, but He loves me when I sing.”
“My vrou staan my altyd by met die instudeer van my werke – sy is ongetwyfeld my getrouste en eerlikste kritikus. ’n Insident wat ek nie maklik sal vergeet nie, is toe ek een aand in Grahamstad moes optree net na ek terug was van oorsee, hoewel ek verkoue was.
“My vrou was so senuweeagtig oor dié optrede voor my tuisdorp, dat sy so klein soos wat sy is, haar ringe so gebuig het, dat ek dit na die konsert met ’n tang moes verwyder!”
Sy eerste professionele optrede was in 1959 oor die radio. Daarvoor het hy destyds een pond en vyf sjielings gekry. In 1965 het hy R30 ’n aand tydens sy eerste konsert ontvang.
Prof Nel beskou homself as ’n baie geseënde en gelukkige mens wat uit ’n oorlogsituasie in Duitsland van alles gestroop is, as Duitse weeskind in Suid-Afrika aangeneem is deur wonderlike mense en geluk gevind het in sy beroep, maar bowenal toegelaat is om homself te vind.
“My weg was absoluut in Sy hand,” sê hy.
Bloedfamilie opgespoor
In 1999 skryf Kampusnuus, die personeelblad van die Potchefstroomse Universiteit, in hulle rubriek Profiel oor hom. Hy vertel meer oor sy Duitse familie:
In 1996 is ek as beoordelaar na die internasionale ARD-Sangkompetisie in München. Terwyl ek daar was, het ek gedink dit is hoog tyd dat ek uitvind of daar van my Duitse familie nog lewe. Eerstens het ek uitgevind dat ek ’n Duitse geboortesertifikaat het en tweedens dat die Rooi Kruis my familie opgespoor het. Ek het twee halfsusters en ooms en tantes ryker geword! Aan die een kant was dit ’n groot verrassing en aan die ander kant ’n emosionele skok. My pleegouers het meermale probeer om vas te stel of my ouers nog geleef het, maar dit was tevergeefs. In 1997 moes ek verder verneem dat my moeder nog tot en met 1986 geleef het! Met “nuwe” bloedfamilie sou ’n mens wel kon dink dat ek my in Duitsland wou vestig. Ek is intussen egter ’n Suid-Afrikaner in murg en been. Ek is deel van die sonnige land en sou altyd hier wil bly.
Oudstudente se kommentaar
Die erfenis wat Werner Nel agterlaat is, benewens sy musiekopnames, is grootliks gesetel in die blywende en onuitwisbare indruk wat hy op sy oudstudente gemaak het.
Wilna Williams skryf op Facebook:
Prof Nel was vir my ’n biegvader en ’n mentor toe ek as ’n jong dokter by hom les geneem het. Ons het baie ure gesels oor etiese kwessies en ons het ’n liefde vir anatomie gedeel. Sy wyse raad het ’n groot invloed op my gehad en ek sal altyd met groot dankbaarheid aan hom dink en hom mis.
Santisa Roos Viljoen skryf ook op Facebook:
He was a presence in every lesson I taught, every assessment I made. He laid the foundations of my perceptions about vocal technique and how to nurture young voices. He was the man we used as an example when telling our sons on how a man should present himself (the baron) with pride and conviction. He was charming to the point of being a little naughty and driving with him was not for the faint hearted. Phrases like Du liebe Zeit and Jou lelike ding met plat voete (you ugly thing with flat feet) live on my tongue. And now . . . it is not farewell, but auf wiedersehn.
Die falanks van oudstudente van Werner Nel het elkeen hulle merk gemaak, maar daar is ’n paar wat uitstaan. Die Facebook-bladsy van die NWU se Skool vir Musiek en Konservatorium brei uit:
Prof Nel’s students who gained particular fame was Rina Hugo who represented South Africa in 1976 at the Rio International Competition for Singers and later became an iconic singer of popular music. So too, another of his pupils, Erica Eloff, was awarded first-prize at the Concours Internationaux de Chant & d’Art Lyrique in Paris (2003).
Kobie van Rensburg (who studied singing and law and international politics at Potchefstroom University for Christian Higher Education) is one of Prof Nel’s students who achieved international success and acclaim as a tenor and opera director.
Werner Nel was tot en met 2010 aan die NWU verbonde. Hy het daarna nog privaat sanglesse aangebied. ’n Eertydse kollega, Awie van Wyk, wat ook toe reeds afgetree het, het as begeleier opgetree. Hy en sy vrou Zella het in 2016 na Johannesburg verhuis. Hy is op 22 November 2022 in Krugersdorp in sy slaap oorlede.