As daar een mens in Potchefstroom is wat gesorg het dat Potchefstroom anders lyk as voor sy op die toneel verskyn het, is dit Wendri Eloff. Sy het aan die einde van Oktober 2023 afgetree as direkteur van die Potchefstroomse Dienssentrum vir Bejaardes na ’n dienstydperk van 40 jaar. Sy is ’n huishoudelike naam in Potchefstroom, maar verseker nie iemand wat roem soek nie.*
In die beginjare, vertel Wendri, het sy die bejaardes as nors en stuurs beleef. Dis beslis nie hoe die lede van die Dienssentrum vandag daaruit sien nie. “Vrolike 40 jaar na 60” is die titel wat gekies is vir die veertigste bestaansviering. Elkeen van die talle bejaardes wat aan die items deelgeneem het om die werksaamhede van die Dienssentrum en die Mooirivierklub uit te beeld, was die verpersoonliking van opgeruimd en vrolik. Wendri het ’n reuse aandeel aan dié algemene verandering in gemoedstemming gehad.
Aan die begin van 1981 is Wendri Oosthuizen (later Eloff) as die eerste organiseerder vir blanke dienste by die Studente Gemeenskapsdiens aangestel. Dié studente-organisasie op die kampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) het hom beywer vir diens aan die gemeenskap. Later het dit SJGD geword en bestaan nog steeds op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit.
Wendri Oosthuizen het in die beginjare van SGD voetspore uitgetrap waarin duisende ander later sou loop. En dit was glad nie so beplan nie. Sy was ’n plaaskind, het grootgeword in die Vryburg-distrik en het daar skoolgegaan voor sy by die PU vir CHO ingeskryf het.
Hier het sy voorsitter van Liber Factus geword, ’n vereniging wat onder die vaandel van die Korps Veritas Vincet, of Korpsraad, soos dit toe bekend was, gefunksioneer het. Liber Factus het hom beywer vir die bekamping van drankmisbruik. Syd Eckley, dosent in Maatskaplike Werk, en voorsitter van die Studentegemeenskapsdiens, wat in 1977 gestig is, het Wendri uitgenooi om ’n toer na Stellenbosch mee te maak om meer te wete te kom van die werksaamhede van USKOR, dié universiteit se studentegemeenskapsdiens, en sy is geïnspireer.
Wendri het ’n HOD met ekonomiese wetenskapsvakke verwerf. Vandag, sê sy, is dit ondenkbaar dat sy ooit ’n onderwyser sou wees. “Ek sou die arme kinders vermoor het,” voeg sy met groot oë by. Later skryf die destydse rektor, prof Tjaart van der Walt, oor haar: “Haar hart was van die begin af vol ‘diens met deernis’, veral aan mense wie se lente en somer, herfs en selfs winter begin word het”.
In Wendri se eerste jaarverslag as organiseerder by SGD skryf sy: “Hoewel daar slegs drie projekte op ’n vaste basis gefunksioneer het, is heelwat meer studente betrek by die drie projekte as by die ander projekte van SGD. Veral die bejaardeprojek en die ES le Grange-projek het soveel as 30 lede elk gehad.” Die ander projek, behalwe die bejaardedienste en ES le Grange, was by die Abraham Kriel Kinderhuis.
Wendri se aanstelling as organiseerder volg nadat Syd Eckley in sy jaarverslag vir 1979 dit as ’n “dringende behoefte” stel dat dienste aan die blanke bevolking ’n aanvang neem.
Einde 1981 doen Wendri verslag:
Met die hulp en raad van die SAVF het studente wat in hierdie projek betrokke was elk die adres van ’n bejaarde egpaar, oom of tannie ontvang by wie hulle dan gereeld gaan kuier het. Benewens die kuiertjies het SGD ook by geleentheid uitstappies gereël na opvoerings by die universiteit, bv. na Alabama se keuringsaand. Die dienste is aan die begin van 1981 uitgebrei na ’n vaste vervoerdiens een keer per week asook een keer per maand op pensioen-uitbetaaldag.
Internasionale Jaar vir Ouer Persone
Die jaar 1982 was ’n Internasionale Jaar vir Ouer Persone. Johan Oosthuizen, burgemeester van Potchefstroom in daardie jare, het vertel dat die stadsraad ’n funksie vir senior burgers in die ou stadsaal aangebied het. Die bejaardes moes outydse klere aantrek en kerke en welsynsorganisasies het gehelp om kaartjies te verkoop.
Wapad skryf op 17 September 1982 dat die geleentheid op 25 Mei plaasgevind het en dat bejaardes na die geleentheid geneem is in veteraanmotors.
Johan Oosthuizen het verder vertel dat daar by dié geleentheid ’n vraelys gesirkuleer is waarin gevra is wat die behoeftes van die bejaardes is. Sowat 90% het gesê dat hulle graag ’n plek wil hê waar hulle kan saamkuier. Die volgende soortgelyke funksie het die – vir destyds – asemrowende bedrag van R5 000 opgelewer. Die stadsraad het aansoek gedoen vir ’n lening van die Departement Gemeenskapsontwikkeling om die huis op die hoek van Kamp- en Bothastraat (tans Chris Hani) te koop. Dit is vandag nog die hoofkantoor van die Dienssentrum.
Eerste byeenkoms
Op 2 Augustus 1982 is die eerste byeenkoms van die Mooirivierklub vir Bejaardes in die saal van die Metodistekerk gehou. Dié dag – 2 Augustus 1982 – was ’n Dinsdag en sedertdien vind daar vir die afgelope 41 jaar steeds ’n byeenkoms van die Mooirivierklub op Dinsdae plaas. Dit was nou behalwe tydens die Covid-tyd toe daar vinnig ’n plan gemaak is om steeds elke week vir die lede elektronies praatjies en ander inhoud te stuur.
Wendri onthou dat hulle daar in die beginjare met Kombi’s die bejaardes gaan oplaai het. “Ons was jong studentjies en dan ‘Tannie’ jy die mense. Een ‘tannie’ was nie daarvoor te vinde nie en sy reageer gesteurd: ‘Ek is nie tannie nie, ek is Doktor Brink!’ Ons het gedink die bejaardes is nors en stuurs, maar het voortgegaan.”
Aanvanklik het daar maar min bejaardes dié klubbyeenkomste bygewoon. Die eerste jaar was daar so tussen sewe en dertien mense by ’n byeenkoms. “Een van ons stigterslede, tannie Dolfie Kleynveld, het altyd gesê: ‘Hou net aan,’” vervolg Wendri.
Die Potchefstroomse Raad vir Bejaardes is op 11 Augustus 1982 gestig en die Potchefstroomse Dienssentrum se deure het op 1 Oktober 1983 op die hoek van Kamp- en Bothastraat geopen. Die amptelike opening was op 3 November 1983.
In Oktober 1983 notuleer die dagbestuur van SGD dat hulle ’n brief van die Raad vir Bejaardes ontvang het waarin gevra is dat Wendri vir ’n aantal ure per dag afgestaan word om by die Dienssentrum vir Bejaardes te werk, terwyl sy steeds deur SGD betaal word. Dit word goedgekeur en daar word besluit dat sy drie ure per dag aan SGD moet wy. SGD het Wendri vir ’n jaar gesekondeer om die Dienssentrum te vestig. Volgens Wendri is dit die belangrikste aspek wat die voortbestaan van die Dienssentrum verseker het.
Op 4 Oktober 2023 het die Dienssentrum vir Bejaardes hulle veertigste bestaansjaar gevier. In samewerking met Aardklop is ’n produksie in die NG Kerk, Miederpark aangebied. Die eerste helfte van die program het die bedrywighede van die Mooirivierklub uitgebeeld. Daarna het Jakkie Louw opgetree.
By dié geleentheid het dr Sanet Jansen van Rensburg, adjunk-direkteur van die Dienssentrum en Wendri se opvolger as direkteur, gesê dié tema is gekies omdat daar niks beter is as om vrolik te wees nie.
Oor die afgelope veertig jaar was daar baie hoogtepunte. Dit word vervat in die boek wat by veertigste bestaansviering bekendgestel is: “40 Jaar Herdenking – 1983-2023: Vier Dekades van Genade”.
Wendri tree af
Wendri se veertig jaar van diens het tot ’n einde gekom met haar aftrede aan die einde van Oktober 2023.
Sy kan terugkyk op groot sukses, wat weerspieël word in die toekennings wat sy ontvang het. Dit sluit in dat sy deur die Rotary Stigting benoem is as ’n Paul Harris Fellow “in appreciation of tangible and significant assistance given for the futherance of better understanding and friendly relations among peoples of the world”. Sy het ook ’n merietesertifikaat van Rotary International ontvang “vir diens bo eie belang”. In 2001 was sy ’n finalis in die Dinamiese Vrou 2001-kompetisie, wat deur die Potchefstroom en Carletonville Herald, Sanlam en Vodacom aangebied is. In 2011 het Overvaal Stereo vir haar die toekenning as Dame van die Jaar gegee vir haar uitstaande diens aan bejaardesorg.
Wendri Eloff, oudorganiseerder van SGD en direkteur van die Potchefstroomse Dienssentrum vir Bejaardes, reken dat deur SJGD die Universiteit vir jongmense, waarvan die meeste pas uit matriek is, die geleentheid gee om binne ’n gekontroleerde omgewing by gemeenskapsdiens betrokke te raak, “en om hulle so optimaal te vorm in die ontwikkeling van hulle menswees. Waar anders gaan ’n student wat pas uit matriek is die geleentheid kry om by georganiseerde gemeenskapsdiens betrokke te wees? Ek raak nou nog bewoë oor die geleentheid wat dit my gebied het om Jesus se hande te wees. Ek dink dikwels aan die teksvers waar Hy gesê het: ‘Vir so ver jy dit aan die geringstes gedoen het, het jy dit aan my gedoen.’ Ons is die Here se hande.”
*Ek het Wendri die eerste keer in 1983 leer ken toe ek as jong verslaggewer by die Potchefstroom Herald verslag moes doen oor die werksaamhede van die Dienssentrum vir Bejaardes. In 2016 het ek ’n boek saamgestel oor die veertigjarige geskiedenis van die Studente Jool Gemeenskapsdiens (SJGD) en het ’n onderhoud met haar gevoer. Die grootste deel van die teks hiervan kom uit daardie boek.