Hier is die eerste in ’n reeks artikels oor die historiese plekke van Potchefstroom. Dit het oorspronklik op 27 Maart 2009 in die Potchefstroom Herald verskyn.
Presies ’n honderd jaar gelede het alles in Potchefstroom pas weer tot ruste begin kom na ’n baie opwindende tyd. Dit is na die nuutgeboude Stadsaal op 10 Maart 1909 met groot luister ingewy is.
Dit was nie alleen vir die dorp ’n luisterryke geleentheid nie, maar het ook vir die personeel van die jong Herald die kans gebied om ’n eerste mylpaal te bereik. Op 12 Maart 1909 publiseer die Herald sy eerste “Special Edition” en hierin word uiters volledig berig oor die opening van die nuwe Stadsaal. (Die Potchefstroom Herald het die eerste keer op 1 Mei 2008 verskyn. Sien: https://lenniegouws.co.za/pandemie-maak-herald-gratis/)
Die redaksionele inhoud (van die spesiale uitgawe) is deur die stigter van die Herald, CV Bate saamgestel. Dit is vergesel van ses foto’s, nog ’n rekord vir die Herald wat in daardie stadium nie eintlik foto’s gebruik het nie. Dié foto’s is geneem deur die voormalige eienaar van die drukpers waarop die Herald gedruk is, Fred Coop.
In 1938 skryf Bate só oor die spesiale uitgawe: “On the occasion of the opening of the Town Hall by General Smuts, we managed an enlarged issue with illustrations, a local newspaper record. In the light of later developments those early efforts are dimmed, but my small staff were very pleased with themselves at the time.”
Die behoefte aan ’n munisipale gebou het reeds in 1905, na die eerste munisipale verkiesings, na vore gekom.
Die voorstel was om die gebou op die destydse markplein op te rig teen ’n bedrag van £10 000. Dit het hewige reaksie onder die inwoners en in die plaaslike media uitgelok. Sekere groepe het gemeen dat geld eerder aan na-oorlogse opheffingswerk bestee moes word. Uiteindelik is daar twee jaar later, na ’n referendum, en na lang, ernstige en dikwels bitsige debatvoering ’n meerderheidsbesluit geneem om met die bouprojek voort te gaan.
Dit was aan die begin van 1908 en die bouprojek het spoedig ‘n aanvang geneem. Die argitekte was William Black en William Fagg van Kaapstad. Die plaaslike argitek, Hermanus Luittingh, het ook ’n ontwerp voorgelê, maar dit is nie aanvaar nie. (Sien: https://lenniegouws.co.za/street-names-reflect-history-7-k-l/). Die bouaannemer was ’n Potchefstromer, GF (Geo) Warren. Na bewering is die gebou met die taai rooigrond van Dassierand gebou en is geen sement gebruik nie.
Arie Kuijers beskryf die gebou as “Eduardiaans-klassisties. “Dit bestaan uit twee parallelle en selfstandige komponente of ‘vleuels’, naamlik die stadsaal met sy fasiliteite aan die een kant (suid), en die munisipale kantore aan die ander kant (noord). Die wesfasade is streng simmetries met ‘n beklemtoonde sentrale as: die 26 m-hoë ornamentele, oorkoepelde toring.
“Die stadsaalvleuel sluit ’n wye ingangsportaal (met die galery van die gehoorsaal daarbo), en ’n saal met ‘n sitruimte vir nagenoeg 500 persone in. Die ellipsvormige prosceniumboog is van gewapende beton.
“In die administratiewe veluel is daar, benewens kantore, ‘n raadsaal (ongeveer 9,2 m X 8 m en met muurpaneelwerk in donker okkerneuthout, ‘n biblioteek en burgemeesterskamer ingeruim.”
Die kompleks wat as “handsome” beskryf is, is uiteindelik opgerig vir £12 000, £2 000 meer as die aanvanklike begroting, in ’n rekordtyd van net een jaar. Uitgesluit by hierdie bedrag is die horlosie en klokke in die kloktoring en dit sou voor die einde van 1909 geïnstalleer word.
Op 10 Maart 1909 is Potchefstroom vereer met ’n besoek van die destydse koloniale sekretaris, genl Jan Smuts, wat die amptelike opening sou waarneem.
’n Groot skare was hiervoor byeen en in sy toespraak het genl Smuts gesê dat hy vertrou dat dié gebou sal dien as ‘n “centre of knowledge, enlightenment, co-operation and friendship which would enhance the status and importance of Potchefstroom as the leading rural town in Transvaal.”
Smuts het verder Potchefstroom se aspirasies om die hoofstad van die nuwe Unie van Suid-Afrika ‘n nekslag toegedien met hierdie woorde: “I do not think Potchefstroom has much of a chance of ever becoming the future capital of South Africa. It will become through the wisdom and enterprise of its population one of the greatest educational centres of South Africa.” Gevleuelde, profetiese woorde as ’n mens vandag na die Noordwes-Universiteit en al die skole se prestasies kyk.
CV Bate, wat gewoonlik min oor homself te sê gehad het, kon nie nalaat om te noem dat die pers beter behandel kon word nie. Hulle het nie eens ‘n tafel gehad waarop hulle hul aantekeninge kon skryf nie.
Deel van die feesviering was ook ‘n uitvoering van die opera “Paul Jones” deur die plaaslike operavereniging en die reusesom van £160 is hiermee ingesamel.
In Februarie 1909 kon daar nog nie ’n datum gevind word waarop Smuts Potchefstroom sou besoek vir die opening nie. Vir Smuts, egter, was 10 Maart 1909 ’n bedrywige dag want hy het terselfdertyd die hoekstene van die South School, nou Laerskool ML Fick, en die North School, nou Laerskool President Pretorius, gelê.
Hierdie voorreg was die Stadsaal nooit beskore nie. Die stadsraad het besluit om nie ‘n hoeksteenlegging te hou nie, aangesien dit twee funksies sou meebring.
Die klokke in die toring is eers in September 1909 geïnstalleer. Dit is deur B Eijsbouts in Asten in Nederland gegiet.
Op 23 Julie 1993 is die Stadsaal en die aangrensende Carnegie-biblioteek tot Nasionale Gedenkwaardighede verklaar en is die toekoms van hierdie geboue, wat saam met die Nederduitse Hervormde Kerk en die Landdrost-, Post- en Telegraafkantoor, die historiese hart van Potchefstroom vorm, hopelik verseker.