Gemoedere wat hoog loop veroorsaak van tyd tot tyd gespanne situasies op die kampus. Vandag se studente was egter nog nooit die slagoffers van geweld, soos wat hulle oumas en oupas in 1940 beleef het nie.
Dit was midde-in die Tweede Wêreldoorlog en die Pukke was “in hulle eie oë en in die oë van enersdenkende Afrikaners, vryheidsvegters – nie met swaarde of geweer nie – maar met die gesproke en geskrewe woord as wapen”, verduidelik Piet van der Schyff in Sages en Legendes 2. Op Maandag 4 September 1939 het die parlement generaal Jan Smuts se voorstel vir steun aan Brittanje in die pasverklaarde oorlog teen Duitsland toegesê.
Net die vorige jaar het die eeufees van die Groot Trek plaasgevind wat ’n opwelling van Afrikaner-eensgesindheid ten gevolg gehad het, reëlreg in teenstelling met die regering se ondersteuning vir deelname aan die oorlog.
Reg langs die Potchefstroomse Universiteitskollege was ’n groot militêre kamp. Studente het in die dorp met die soldate in aanraking gekom en talle studente het openlike verset teenoor die oorlogspoging en die simpatie vir Brittanje openbaar. Een manier was om te sit of uit te stap wanneer die Britse volkslied “God save the queen” na rolprentvertonings gespeel is.
Kleiner insidente en korrespondensie oor die situasie tussen die militêre owerhede en dié van die PUK het in die eerste helfte van 1940 plaasgevind. Die studente het selfs ’n arsenaal van wapens soos klippe en stokke versamel, maar dit is alles tydens die wintervakansie verwyder.
Net na die vakansie op Woensdag 7 Augustus 1940 was die studente omstreeks 19:30 in die studentesaal, waar hulle liedjies gesing het met die oog op die komende intervarsity. Iemand het by die saal ingebars en geskreeu: “Boys, hier is die soldate!”
Die soldate, gewapen met stokke, pikstele met lood gevul en doringdraad daaromheen – en in staalhelmette – het die saal omsingel. Die studente het by die twee deure probeer ontsnap, terwyl die soldate ingestorm het en links en regs begin slaan het. Die klavierspeler, Lydia van der Vyver, is agteroor gestamp en later is die hol kas van die klavier gevind. Dit is letterlik aan stukkies geslaan.
Peper en kerrie is by die venster ingegooi en JA (Roes) du Plessis skryf in 1948 in Wapad: “Tussen al die geluide heen kon jy die geproes, genies en gehoes verneem.”
’n Deel van die soldate is na Heimat en het die trappe probeer opstorm, maar die verdedigers het dit met beddens versper en “van die groot wetenskaplikes het die traliewerk van die trappe geëlektrifiseer,” skryf Piet van der Schyff.
Een soldaat is met ’n veertienpondgewig teen die kop getref “en het sy wang weggevat”. Klippe wat deur die vensters van die eerste verdieping gegooi is, is deur die studente teruggegooi.
Nadat hulle nie die boonste verdieping kon bereik nie, is die soldate se geweld op die saal van Heimat gefokus, wat reeds gedek was vir die volgende oggend se ontbyt. Die tafels is omgekeer, die pote afgebreek en die breekgoed fyn en flenter geslaan.
Van die studente het na bome gevlug om daarin te klim om te probeer wegkom, net om te sien dat daar reeds soveel studente in die bome was dat daar nie vir hulle plek was nie!
Altesaam 12 studente is na die hospitaal vir behandeling. Enkeles is oornag gehou, maar die meeste is behandel en ontslaan. Dit blyk dat tussen 14 en 20 studente beseer is, waarvan agt damesstudente.
’n Regeringskommissie, gelei deur SH Elliot, is aangewys om die aanval te ondersoek. Daar is onder meer aanbeveel dat die deel van die dorp rondom die PUK verbode terrein vir die soldate sou wees.
Onder die studente het 13 besluit om hulle studies te staak, terwyl die damesstudente privaat gaan loseer het. Die regering het skadevergoeding aan die PUK betaal.
Hierdie artikel is in 2019 geskryf toe die 150ste bestaansviering van die Universiteit gevier is. Die soldate-aanval was ter sprake tydens die toer wat ek op Vrydag 13 Mei 2022 op die NWU-kampus gelei het, daarom plaas ek nou hierdie artikel.