Die dood van die kinders by die Vyfhoek Primary School hierdie week het ons hele stad sleg getref. In 2008, vir die Eeufeesbylaag van die Potchefstroom Herald het ek ‘n lys gemaak van groot rampe wat die dorp oor die jare getref het. Na groot brande in 2011 het die Herald op 9 Augustus 2011 dit weer gepubliseer.
Voor ek by die rampe en tragedies van die moderne tyd uitkom, het ek weer gedink aan die jong seun wat in 1869 vergruis is toe hy in een van die meule se masjinerie beland het. Sy ma was ‘n weduwee. Lees daaroor in my artikel oor die meule van Potchefstroom by https://lenniegouws.co.za/a-fresh-look-at-the-historic-mills-of-potchefstroom/.
Twaalf sterf na reën en hael
Op 11 Desember 1961 is minstens 12 swartmense dood nadat ’n geweldige reën- en haelstorm die dorp getref het. Duisende rande se skade is aangerig deurdat huise op die dorp se dakke afgewaai is. Die Herald-berig van 15 Desember 1861 hieroor word só ingelui: “Voetlange visse is in teerstrate gevang, windpompe is uit die grond geruk en treë ver geslinger, mense het ure lank in boomtakke gesit en telefoondrade is deur die vlieënde sinkplate, asof deur ’n reuse mes, afgesny.”
Treinongeluk
In ’n treinongeluk op Vrydag 5 Mei 1962 is ses mense sowat 10 km buite Potchefstroom dood, toe ’n passasierstrein van voor met ’n goederetrein gebots het.
20 sterf na ammoniaktenk ontplof
Die grootste ramp nog was toe 20 mense sterf as gevolg van die ontploffing van ’n ammoniakgastenk op Vrydag 13 Julie 1973 by die Triomf Kunsmisfabriek (later Kynoch). Twee blankes en 18 swartes is as gevolg van die ontploffing dood.
Bom verwoes hof
ES le Grange-bus in ongeluk
Op 17 Mei 1984 bots ’n bus wat leerlinge van die ES le Grange-sentrum vervoer met ’n groot passasiersbus op die hoek van Paryslaan en Holtzhauzenweg (Nelson Mandela-rylaan). Een leerling van ES le Grange sterf en nog vier word in die hospitaal opgeneem. Die bus met 24 kinders van die sentrum is in die sy deur die passasiersbus getref. Niemand in die passasiersbus is beseer nie.
664 weerligstrale
Die ergste donderstorm in 15 jaar word in Desember 1985 beleef, volgens die Herald van 13 Desember. By die poskantoor, waar metings van weerligstrale gedoen word, is 664 weerligstrale in een aand gemeet.
Ergste droogte in 77 jaar
Die droogte van 1992 word beskou as die ergste in 77 jaar, sedert weerkundige waarnemings in 1914 begin is. Die totale reënval van 33,5 mm vir Januarie en Februarie was die laagste sedert 1914.
Vaal oorstroom walle
In 1996 oorstroom die Vaalrivier sy walle. Die Vaaldam was toe 108 persent vol. Op Dinsdag 20 Februarie 1996 verskyn etlike lugfoto’s van oorstroomde huise in die Herout.
Klerksdorppad oorstroom
In Desember 1998 veroorsaak ’n fratsstorm dat die Klerksdorppad deur hael en reënwater oorstroom is. Ongeveer 70 mm reën is gemeet, waarvan die eerste 50 mm binne die eerste 10 na 15 minute geval het. Vir meer as ses ure was 20 kilometers van dié pad gesluit.
Sewe sterf toe sloot inval
Twee brandweermanne en vyf werkers sterf in Augustus 1999, nadat hulle onder tonne grond begrawe is toe ’n sloot ingeval het. Dit het gebeur toe ’n nuwe rioolsloot naby die Paryspad gegrawe is. Die brandweermanne, waarvan een die operasionele bevelvoerder van brand- en nooddienste, het op die wal gestaan tydens die reddingspoging toe dit meegegee het en hulle begrawe het. Die Herald van 6 Augustus 1999 berig hieroor.
Ergste brand in 45 jaar
Op 24 September 2004 berig die Herald dat die grootste brand in 45 jaar twee spogwonings in Mooivalleipark in puin gelê het. Hierbenewens is skade van R35 000 aan die brandweer se voertuie en toerusting gerig.