Vir 112 jaar is daar klokslag weekliks ’n Herald in Potchefstroom. Plakkate en vriendelike koerantverkopers was so deel van die Herald – én Potchefstroom – as die koerant se kenmerkende mashoof.
En nou het dit verdwyn! Aan die begin van die inperkingstyd is daar besluit om die Herald ’n gratiskoerant te maak en is die straatverkopers en plakkate weg. Sedertdien werk personeel van hulle huise en die kantoor van die Herald is reeds gesluit en word finaal teen einde Julie 2020 ontruim.
Minstens bestaan die koerant self darem nog.
Die inperkingstyd is ’n slagveld vir publikasies. Mediareuse soos die bekende Afrikaanse vrouetydskrif, Rooi Rose, het saam met ander tydskrifte in die Caxton-stal in Mei 2020 ophou bestaan. Dit was een van die oudste Afrikaanse vrouetydskrifte en het sedert 1942 verskyn. En hierdie week is aangekondig dat Volksblad, die Afrikaanse dagblad in Bloemfontein, voortaan ’n digitale koerant sal wees.
Dustin Wetdewitch wat die leisels van die Herald in Maart 2019 oorgeneem het, moes dié aardskuddende besluit neem om die Herald ’n gratiskoerant te maak. Hy het redakteur geword na die langsdienende redakteur van die Herald, Hennie Stander, na 32 jaar in die redakteurstoel afgetree het.
Dit was nie maklik nie. Ou koerantmanne het niks goeds te sê nie oor “knock-and-drops”, soos gratiskoerante in die bedryf bekendstaan. Advertensiebelading van gratiskoerante is tradisioneel swaar, wat beteken dat meer as 50% van ’n koerantbladsy uit advertensies bestaan. Hennie Stander sê:
Wat nou in die slag kan bly met ‘n gratis koerant is dat daar minder ruimte vir nuus gaan wees as gevolg van die verhoogde advertensieladings om te betaal vir die verlies aan koerantverkope en natuurlik die verhoogde drukoplaag. Dit beteken waarskynlik ook minder ruimte vir lang in-diepte-beriggewing en ondersoekende joernalistiek.
Die toesig wat die ABC (Auditbureau for Circulation) oor verkoopkoerante hou verval ook en adverteerders het geen versekering dat die koerant ’n sekere hoeveelheid lesers sal bereik nie. In 2019 het die Herald ’n sirkulasiesyfer van tussen 6 000 en 7 000 koerante per uitgawe gehad. Nou word 15 000 eksemplare gedruk.
Volgens Stander is dit ongelukkig die teken van die tye met veral die digitale media wat so ’n groot rol speel. Hy meen ook dat die Herald se eie digitale been eintlik kompetisie vir homself gebring het.
Maar dit is al hoe die Herald kan oorleef. Alhoewel die besluit om die Herald ’n gratiskoerant te maak geneem is om by die reëls van die inperking te hou, is dit al lankal op die tafel, sê Dustin. Dit sou aanvanklik ’n tydelike maatreël wees, maar is nou permanent.
Dustin verseker die Herald se lesers dat die gehalte van die beriggewing nie gaan skade ly nie. Een van die redes vir die besluit was juis om in die onseker en vreemde tyd van inperking meer lesers met betroubare nuus te bereik, anders as die ongekontroleerde nuus wat op sosiale media rondvlieg. Stander sê ook dat die uitdaging gaan wees om steeds in die gratis uitgawe gehalte beriggewing te doen met minder mense en minder ruimte en steeds daardie geloofwaardigheid te behou wat so uiters belangrik is.
Die nuwe tydperk wat nou betree is, hou nog ’n ingrypende verandering in. Die Herald se kantoor sluit en werknemers werk sedert die begin van die inperkingstyd van hulle huise af.
Lees meer oor wat die Herald self oor die veranderinge skryf.
https://potchefstroomherald.co.za/71412/editor-herald-available-free-lockdown/
https://potchefstroomherald.co.za/73013/from-the-editor-herald-will-remain-free-in-future/
https://potchefstroomherald.co.za/73507/new-era-for-potchefstroom-herald/
Herald meer as 112 jaar gelede gestig
Die Potchefstroom Herald het die eerste keer op 1 Mei 1908 verskyn en in die eerste redakteursbrief skryf CV Bate, die stigter: The Herald will be primarily a Potchefstroom newspaper, aiming at giving a reliable and impartial service of local news and offering such comment as it may humbly deem to be for the common weal.
En dit is nog net so waar as 112 jaar gelede, sê Dustin Wetdewitch. “Vir ons is dit nog steeds belangrik om die dieselfde Herald as waaraan jy aan gewoond is uit te gee.”
’n Stryd om behoue te bly is niks vreemds vir die Herald nie. Daar was heelwat groeipyne in die begin en Bate skryf later dat die vyf uitgawes wat in die eerste maand van die Herald se bestaan verskyn het, ’n skamele inkomste van £47 ingebring het. Bate het opgemerk: “It was many months of struggling before revenue reached respectable proportions.”
Aanvanklik het Bate net enkele personeellede gehad, soos blyk uit ’n foto wat in die vroeë jare geneem is.
Boonop het Bate die Herald begin voor elektriese krag in Potchefstroom beskikbaar was en die drukpers is bedien deur twee arbeiders, ”struggling and perspiring over the wheel that turned the heavy machine”.
Drukwerk is gedoen op ’n Wharfedale-drukpers. Kyk hier hoe die drukpers werk.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog het ’n papierskaarste wêreldwyd alle koerante gekniehalter. Dit kan ’n mens sien aan die gehalte van die papier waarop die koerant toe gedruk is. In teenstelling met die 1908-Heralds, wat feitlik glad nie verkleur het nie, het dié wat in die later jare van die oorlog verskyn erg vergeel en is die papier bros van ouderdom.
Die Herald het stadig maar seker gegroei en eers in 1925 kon Bate ’n ander redakteur as hyself vir die koerant aanstel. Ernest Jenkins sluit in 1925 by die koerant aan en bly aan tot enkele maande ná Bate die Herald verkoop het.
Bate het egter in 1912 reeds besluit om twee uitgawes per week te publiseer en die eerste Dinsdag Herald verskyn op 3 Desember 1912. Dié tweede uitgawe per week verdwyn in die depressiejare toe inkomste net nie genoeg was om dit te dra nie.
Eweneens was die Tweede Wêreldoorlog ’n uitdaging vir die Herald. Weer eens het ’n skaarste aan papier die koerant beïnvloed. Teen Mei 1942 het dit die koerant tot besparings genoop. Dit is gedoen deur die redaksionele inhoud in ’n kleiner lettertipe te druk, sodat daar meer nuus op een bladsy ingekry kon word. Aanvanklik is enkele berigte só gedruk maar vanaf 29 Mei 1942 lyk al die redaksionele kolomme so. Die grootte van advertensies se lettertipe het egter deurgaans dieselfde gebly.
CV Bate was ’n suksesvolle sakeman, filantroop en stadsraadslid. Hy het in 1913 die Potchefstroom Budget, later Western Chronicle, gekoop en geïnkorporeer by die Herald. In 1936 het hy die Klerksdorp Record gekoop, maar verkoop sy aandele in dié koerant in 1955.
Terselfdertyd is die drukkery, wat die Herald gedruk het, verkoop, maar Bate het die reg om die Herald uit te gee tot in 1957 behou.
Later skryf Bate oor die jare wat sy pad saam met die Herald s’n geloop het:
The story of the newspapers of the West has an element of romance in and my fifty five years of newspaper ownership in Potchefstroom have made up a very full life, most of it comprising happy memories, but inevitably interspersed with anxieties and stress and strain of political and other differences in opinion which free criticism and independent thought brought about.
Bate verkoop die Herald aan ’n groep sakepersone onder voorsitterskap van Henry Thomas Cooper met die bekende Joan Ingram, dogter van ds Barrish van die NG-gemeente Mooirivier.
Herald in die moeilikheid
Die groot planne wat die nuwe direkteure vir die koerant gehad het, het egter gou in die niet verdwyn. Teen 1958 het hulle ’n meningsverskil met die eienaars van die Herout Drukpers, drukkers van die koerant, gehad en daarna word die Herald op Klerksdorp gedruk. Die Herald is daarna as ’n Klerksdorpse koerant beskou en die sirkulasiesyfer het skerp begin daal, selfs tot onder ’n duisend.
Dit gaan dus nie goed met die Herald nie en teen die einde van 1959 onderhandel ’n deeltydse verslaggewer van die koerant, prof Sarel du Plessis met HB van der Walt oor die moontlike oorname van die koerant. Van der Walt, een van die drie vennote wat aan die einde van 1959 tot die Herald se redding kom, beskryf in die 75 Jubileumuitgawe op ’n eufemistiese trant die haglike omstandighede waarin die Herald hom bevind het só:
Toe ons die aankoop van die perd (die Herald) oorweeg het, het ons vermoed dat hy nie meer te gesond is nie. Later het ons, met alle inligting tot ons beskikking, gevind dat die perd baie siek is en baie min kans op oorlewing gehad het. Die sirkulasiesyfer was gevaarlik laag en die advertensie-inkomste swak. Die Herald was op daardie stadium feitlik eentalig Engels en met ’n sterk plaaslike blad naamlik Die Nuus wat in Afrikaans verskyn het, was sy voortbestaan nie meer rooskleurig nie.
Du Plessis, Van der Walt en die suksesvolle advertensieman van Johannesburg, Andries Kolbe, neem die koerant aan die einde van 1959 oor vir die som van sy bankoortrekking, wat toe £2 000 beloop het.
Die eerste ruk daarna het dit maar broekskeur gegaan. Du Plessis het vir die redaksionele inhoud gesorg, Kolbe het een keer per week van Johannesburg af gekom om advertensies te werf en Van der Walt, ’n rekenmeester, het administratiewe aspekte behartig.
Hulle is bygestaan deur mev Lenie van der Walt, wat die kantoor beman het. Aan die begin van 1961 het die pasafgestudeerde Schalk Hoogenboezem by die koerant aangesluit. Hy was een van die eerste studente wat Perswetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit studeer het.
Hoogenboezem het gou ’n integrale deel van die Herald geword. In 1963 koop hy Du Plessis se aandele en in 1965 word hy redakteur. Teen 1977 was hy die alleeneienaar van die koerant.
Juis om sirkulasie te stimuleer besluit die Herald om in 1963 toe die koerant 55 jaar oud was en Potchefstroom 125, om ’n spesiale uitgawe uit te gee. Met die finansiële bydrae van sakemanne van Potchefstroom, hoofsaaklik mnr Andries Turkstra, kon ’n groot genoeg oplaag gedruk word, sodat ’n eksemplaar in elk van die posbusse in die strate van Potchefstroom geplaas word.
Sterk groei
Die Herald het in dié tyd sterk gegroei. Die Carletonville Herald is in 1972 tot die stal gevoeg. Sirkulasiesyfers styg fenomenaal. Dit is deur die wet verbied dat ’n koerant sy eie sirkulasiesyfers publiseer, maar die koerant het maniere gevind om daarmee te spog. Breëbors skryf die koerant dat die gemiddelde sirkulasie per week vir die drie maande Oktober tot Desember 1970 veertig persent hoër was as die gemiddelde syfer vir hierdie tydperk in 1969.
Nie die koerant self nie, maar die gesondheid van sy eienaar veroorsaak aan die einde van die 1970’s vir die Herald probleme. Schalk Hoogenboezem het aan nierversaking gely en hy moes hy twee keer per week dialise in Pretoria ondergaan. Sy gesondheidstoestand was van so ’n aard dat daar getwyfel is of hy kon voortgaan as eienaar van die Herald en ander koerante wat toe in sy besit was. Uiteindelik ondergaan hy in Januarie 1980 ’n nieroorplanting.
Onderhandelinge vir die verkoop van die Herald is reeds aan die einde van 1979 met Nasionale Koerante gevoer. Vir R387 000 verkoop Hoogeboezem die Potchefstroom en Carletonville Herald in Maart 1980 aan Nasionale Pers. Hoogenboezem herstel dermate dat hy aanbly as algemene bestuurder.
Hierna het die koerant van krag tot krag gegaan. In 1980 was daar slegs drie redaksielede, terwyl dit in 1983 aangegroei het na agt verslaggewers en ’n redaksiesekretaresse. Die groei van die koerant word ook weerspieël in die dikte van die uitgawes. Een van die dikste koerante ooit verskyn op 22 Augustus 1986. Onder die opskrif: “Lywige Herald: ’n mylpaal” word lesers daaraan herinner dat hulle dié koerant van 104 bladsye vir net 30c kry.
In 1983 word ’n grootse poging aangewend om die koerant se 75-jarige geskiedenis te boekstaaf met die uitgee van ’n spesiale uitgawe van 120 bladsye daaroor. In 1988 verskyn twee mylpaal-uitgawes, een oor die Herald self en nog een om die 150-ste bestaansviering van Potchefstroom te herdenk. Die bylaag van 164 bladsye is die dikste koerant ooit.
Gratiskoerant as teenvoeter vir opposisie
Volgens Willie Louw was daar in die jare waarin hy redakteur was, (1979 tot 1987) geen noemenswaardige opposisie vir die Herald in Potchefstroom nie. Dit verander egter in 1995 toe die Noordwes Gazette in Maart 1995 sy verskyning op Potchefstroom maak. As teenvoeter verander die Herald die Dinsdag-uitgawe in ’n gratiskoerant met die titel Herout.
In 1997 koop Nasionale Streekkoerante, die eienaar van die Herald, die Noordwes Gazette, die Herout word gestaak en met die Noordwes Gazette vervang.
Die volgende stroomverstelling tref die Herald in hierdie jare toe daar begin word daarna om die koerant elektronies te produseer. Gedurende 1995 en 1996 dui talle setblapse en die swak kwaliteit van foto’s aan dat dié omskakeling nie so seepglad verloop het nie. Dis eers toe die Herald in 2004 digitale foto’s begin gebruik dat die proses voltooi is. Deur die jare is talle verbeterings aan die digitale set- en drukproses aangebring.
Die koms van die Internet en die onmiddellike beskikbaarheid van nuus het vir baie koerante niks goeds voorspel nie. ’n Voormalige redakteur van die Volksblad beskryf dit as die “internetskrik”. Nadat die Herald in September 1997 sy eie e-posadres gekry het, word die koerant se webblad in Augustus 2000 bekendgestel.
Aan die einde van 2009 word die geklater van die Herald Drukkery se setperse stil in die gebou in Olënlaan waar dit sedert 1939 was. Die word sedertdien in Johannesburg gedruk.
In 2008 het die Herald sy eeufees met ’n reusebylaag van 124-bladsye gevier en die 110de bestaansjaar met nog ’n bylaag.
Niemand het die omwentelinge voorsien wat die Covid-19-pandemie in die wêreld veroorsaak het nie. Gesien in die lig van wat by ander publikasies gebeur, is die Herald se verandering na ’n gratiskoerant hopelik net nog een van die talle stroomversnellings waardeer die koerant in sy lang bestaan moes gaan en sal daar steeds in die toekoms ’n Herald in Potchefstroom wees.
Bronne anders as in die teks genoem:
HS Gouws, “Die Potchefstroom Herald: 1908 – 2008 – ’n mediahistoriese studie” (MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit), 2009.