Meer as 100 jaar van vlieg in Potchefstroom

by | May 13, 2020 | Events, Places, Technology | 0 comments

Een van die gevolge van die Coronavirus-pandemie, is die grootskaalse staking van passasiersvlugte. Selfs in Potchefstroom, wat nou nie eintlik ’n lugvaart-brandpunt is nie, is die lug stiller as voorheen. Die paar vliegtuie wat deesdae hier land en opstyg lok ingeperkte Potchefstromers na buite om die geleentheid te beleef.

Die eerste keer dat ’n vliegtuig in Potchefstroom geland het, het dit eweneens groot konsternasie veroorsaak. Dit was op 8 Desember 1917 toe majoor Allister Miller op Potchefstroom geland. Foto’s wat dié dag geneem is, is as poskaarte gedruk wat verkoop is, ’n aanduiding van hoe belangrik dié geleentheid geag is. Van dié poskaarte word nog steeds in die Potchefstroom Museum bewaar.

Majoor Allister Miller het op 8 Desember 1917 in Potchefstroom geland as deel van ’n reis deur die land om rekrute te werf vir vliegopleiding. Sover bekend is dit die eerste keer dat ’n vliegtuig op Potchefstroom land. ’n Skare het opgedaag om die vliegtuig te besigtig. Foto’s: Potchefstroom Museum

Luitenant-kolonel Allister Mackintosh Miller (1892-1951) het grootliks bygedra tot die bevordering van burgerlugvaart in Suid-Afrika tydens die eerste helfte van die twintigste eeu. Lees hier meer daaroor.

Allister Mackintosh Miller was ’n Suid-Afrikaner wat met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog by die Royal Flying Corps aangesluit en het as loods in Frankryk en België geveg het.

In 1916 en 1917 het hy reise deur Suid-Afrika onderneem om vrywilligers te werf om as vlieëniers opgelei te word.

Sy besoek aan Potchefstroom was deel van dié werwingspoging. Hy het met ’n BE2e-vliegtuig van die Royal Aircraft Factory gevlieg. Dit is gekoop met geld wat deur die Engelse gemeenskap van Rio de Janeiro geskenk is. Uiteindelik is 2 000 vlieëniers opgelei wat hy landswyd gewerf het.

Teen 1926 het ’n landingstrook vir vliegtuie op Vyfhoek bestaan. Dié landingstrook het egter heelwat ‘verkeer’ gehad in die vorm van donkies en koeie en in 1931 word besluit dat ’n ander landingsplek gevind moet word.

Toe Potchefstroom in 1939 ’n jaar laat sy eeufees vier, was die amptelike opening van die nuwe munisipale vliegveld een van die hoogtepunte van die dié viering. Die Potchefstroom Herald sê dat hierdie vliegveld “at the south end of town” was, blykbaar in die omgewing van die huidige rioolplaas.

Die Herald se berig op 29 April 1939 dat daar toe reeds 30 ‘civil aeroplanes’ op Potchefstroom was en dat die vliegveld, een van 75 in die land, beskou word as “one of the best aerodromes between the Cape and Pretoria”.

Die burgemeester van 1939, Carl Olën, was hoogs beïndruk met die nuwe vliegveld en is by dié geleentheid deur nog ’n bekende Potchefstromer Hugh Calderbank vir ’n vlug oor die dorp geneem.

Daarna het hy gesê dat hy nog altyd gedink het om te vlieg net vir voëls is en dat mense op die grond moet bly, maar nou meen hy mense moet vlieg en voëls op die grond bly!

Hugh Calderbank was ‘n bekende Potchefstroomse sakeman en entoesiastiese vlieënier. Hy het die latere rektorswoning van die NWU in Calderbanklaan (na hom vernoem) reg by die dam laat bou en was ook in 1940/41 burgemeester van Potchefstroom. Hy was ‘n stadsraadslid van 1935-1949 en weer vanaf 1956 tot 1962. Sy vader het die Calderbank’s Garage besit en hy het dit later oorgeneem. Na hy in 1960 die garage verkoop het, het die egpaar in Durban afgetree. Daarna het hy gereeld elke maand na Potchefstroom gevlieg vir stadsraadsvergaderings. Hy sterf in Oktober 1972 in ‘n lugramp aan die kus van Griekeland, terwyl sy vrou, Pat, dit oorleef.

 

Die amptelike opening van die nuwe Potchefstroomse vliegveld, suid van die dorp, was deel van die dorp se eeufeesviering op 29 April 1939. Hierdie program daarvan is as ’n pamflet in die Herald gevoeg. Nêrens hierop of in dié koerant word genoem waar die vliegveld was nie en die Herald skryf later dat dit aan die suidpunt van die dorp was.

Op 5 April 1940, terwyl die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, word die beheer van die munisipale vliegveld aan die militêre owerheid oorhandig. Dieselfde maand, op 26 April 1940, tydens die 486e vergadering van die dorpsraad van Potchefstroom word aanbeveel dat ’n stuk grond 452 241 morge (sowat 113 000 hektaar) “geleë tussen die destydse Waterberge en die Huisvlytskool aan die regering van die Unie geskenk word”.

Dit is tot vandag toe die vliegveld van Potchefstroom. In 1940 was dit bekend as die “Potchefstroom Military Aerodrome” en het 6 EFTS (Elementary Flying Training School) gehuisves.

Generaal Jan Smuts het op 8 November 1940 Potchefstroom per vliegtuig besoek, vergesel van verskeie militêre hooggeplaastes, onder andere die bekende generaal Sir Pierre van Ryneveld.

Die vliegtuig waarmee hulle gereis het was ’n Lockheed Lodestar en die Herald sê dit was dié dag bewolk en het gereën. Die landing van die vliegtuig in die gure weer word só beskryf: “Gradually descending like a gigantic, graceful bird until its wheels touched the ground in a perfect landing which drew the unstinted admiration of even the military men who were watching”.

’n Lockheed Lodestar, soortgelyk aan hierdie een, het generaal Jan Smuts en sy geselskap in 1940 na Potchefstroom gebring. Die vyf Lockheed Lodestars van die Suid-Afrikaanse Lugmag is in 1944 aan die pasgestigte Suid-Afrikaanse Lugdiens oorgedra. Foto: Etienne du Plessis/flickr.com

Teen 30 Junie 1941 is 10 Tigermoth-vliegtuie op Potchefstroom gestasioneer en in Augustus 1941 is twee loodse is opgerig en word die vliegveld amptelik geopen met 35 vliegtuie hier.

In April 1967 het Potchefstroom sy eie lugdiens gehad, toe ’n plaaslike sakeman, Monty Joubert, die diens ingestel het. Joubert het twee vliegtuie gehad en die tarief was 22 sent per myl vir die kleiner vliegtuig en 36 sent per myl vir die groter vliegtuig. Dié jaar is die vliegklub van Potchefstroom gestig. Toe die eerste solovlug deur ’n leerlingvlieënier in Maart dié jaar onderneem is, het die klub 16 aktiewe lede gehad.

In 1973 neem die Lugmag die eerste Bosbokvliegtuie op Potchefstroom in gebruik en hulle het daarna vir baie jare tydens nagvlugopleiding inwoners uit die slaap gehou. Bedags het die vliegtuigies wat oor hulle koppe gedreun het dosente en onderwysers wat moes klasgee, gryshare besorg.

“Ontstoke” skryf op 23 Junie 1989 aan die Herald: “Nou wil ek en ander studente net graag weet hoekom die Lugmag aldag en heeldag met hulle – en ek noem dit sommer die eentonige ‘popcorn’-masjiene – hulle vliegkuns bokant die dorp moet beoefen. Ek wonder of dit die vlieënier plesier gee om brom-brom elke vyf minute oor jou dak te vlieg en alle konsentrasie te verbreek – en dit tot in die middernagtelike ure!”

Een van die Bosbok-vliegtuie wat van 1973 tot in die 1990’s Potchefstromers hoofbrekens besorg het. Foto: Piet van Maarleveld/Potchefstroom 1988

 

In Februarie 1990 neem die Lugmagbasis ’n nuwe beheertoring in gebruik, nadat die vorige een vir 50 jaar gebruik is. Foto: Herald

’n Jaar later, op 5 April 1991, word aangekondig dat 10 Eskader, die eerste van die drie Lugmageenhede op Potchefstroom, ontbind. Die Lugmagbasis sluit in 1992.

In 2010 is die aanloopbaan van die vliegveld met 400 m verleng. Dit is gedoen om dit moontlik te maak vir die vliegtuig waarmee die Spaanse sokkerspan gereis het om in Potchefstroom te land. Dié span is in Potchefstroom gehuisves tydens die Wêreldsokkerbeker wat dié jaar in Suid-Afrika plaasgevind het.

Nadat die broers Uys en Attie Jonker in 2004 Jonker Sailplanes gestig het, open hulle fabriek waar sweeftuie gebou word by die Potchefstroom vliegveld. Jonker Sailplanes se eerste prototipe sweeftuig is in 2006 voltooi. Teen 2020 het Jonker Sailplanes 110 werknemers in diens met 16 gekwalifiseerde ingenieurs. Kyk gerus na hulle webtuiste en lees hier meer oor hul geskiedenis.