Enkele dae gelede, op 27 Augustus, is die amptelike ontvangs van die eerste Bybel in Afrikaans negentig jaar gelede gevier. Dis alombekend dat prof JD du Toit, of Totius soos hy beter bekend is, een van die vyf eindvertalers van die Bybel is. Wat egter minder bekend is, is dat prof LJ du Plessis, ’n kollega van Totius aan die Potchefstroomse Universiteitskollege, ’n leeueaandeel aan die vertaling gehad het.
In 2015 het die Fakulteit Regte aan die Noordwes-Universiteit sy vyftigste bestaansjaar gevier. Ek het ’n opdrag ontvang om die geskiedenis van die Fakulteit op te teken. Hierdie artikel is ’n verwerking van die een wat in Fakulteit Regte 50 Jaar oor LJ du Plessis verskyn het, na my mening een van die miskende reuse in die geskiedenis van die PUK en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
LJ du Plessis – “die slimste man op aarde . . .”
LJ du Plessis is een van die mees merkwaardigste mense wie se pad saam met dié van die PUK geloop het. Hy was ook die eerste dosent in regsvakke aan die Universiteit.
“Hy was ’n oorspronklike en geniale denker – die oorspronklikste denker wat nog by die Potchefstroomse Universiteit was – wat oor die vermoë beskik het om tot die kern en wese van ’n saak deur te dring.” Die Potchefstroom Herald publiseer dié aanhaling van prof CP van der Walt van Staatsleer op 25 Oktober 1968 in prof Du Plessis se doodsberig.
Sy studente sou hom nooit vergeet nie. So skryf die PU-Kaner 1:91 en beskryf hom verder as “Die slimste man op aarde . . .” Dit is in ’n artikel oor die viering van Fakulteit Regte se 25ste bestaansjaar in 1991:
Hy was volkome tuis in die klassieke tale soos Grieks en Latyn. Terwyl prof Du Plessis voor sy studente Latyn gelees het, kon hy dit daar en dan vertaal dat dit klink of hy Afrikaans lees! Een van sy destydse studente, Ig Vorster, vertel: ‘Dit was ’n wonderlike voorreg om by so iemand klas te kry. Een keer het die klasbespreking so gevorder dat daar naderhand oor die samestelling van materie gefilosofeer is. En net daar het prof Wikus se merkwaardige beheersing van kennis na vore gekom. ’n Volwaardige lesing in Fisika het gevolg – kompleet met verduidelikings van atome, protone en neutrone. Hy het die Europese manier van klasgee gehad. Die amptelike lesing het gewoonlik nooit langer as tien minute duur nie. Hy het die hoofstuk wat vir die volgende week voorberei moes word, aangekondig, en as daar geen vrae was nie, het ons in die kafeteria langs die Totiusgebou gaan tee drink. En hier het die eintlike lesing eers begin. Ons het ’n Staatsleerlesing gekry soos wat jy by geen ander mens kon kry nie, by geen ander universiteit nie. Hy het niks meer geniet as dat iemand ’n klip in die bos moes gooi nie. Daarna het ’n uitgebreide redenasie en debat gevolg en eers die aand het jy agtergekom dat hy eintlik gate in jou redenasie gepraat het, en ’n hoëvlak akademiese gesprek gevoer het.’
Prof Du Plessis was nie net dosent in die klassieke tale, ekonomie en regsvakke nie. Hy het ook in die breë politieke lewe van Suid-Afrika ’n groot rol gespeel en woord en daad gevoeg by die bevordering van die ekonomiese omstandighede en kultuur van die Afrikaner.
Sy pa was professor op Burgersdorp
LJ du Plessis se bestaan is ingebed in die PUK. Prof PJJS Potgieter skryf in 1976 in LJ du Plessis as denker oor staat en politiek: “Lodewicus Johannes du Plessis is op 10 Februarie 1897 te Burgersdorp gebore waar sy vader hoogleraar aan die Literariese Afdeling van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk was. Nadat hy skoolopleiding ontvang het aan die Vrye Christelike Skool van Burgersdorp en die openbare skool van Reddersburg, het hy in 1912 in die Matrikulasie-eksamen op Potchefstroom geslaag, waarheen die Teologiese Skool intussen verhuis het.”
Wonderdaad voeg by dat hy vir sy “prestasie in die matriekeksamen ’n beurs van die UKGH (Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop) verwerf het maar dit nie aan die Teologiese Skool kon benut nie. Afgesien van die Senaat se protes, het prof Ferdinand Postma destyds persoonlik in Stellenbosch en Kaapstad by raadslede van die UKGH gepoog om ‘de student recht te laat geschieden’, maar sonder sukses.
Deur oproepe in Het Kerkblad is fondse ingesamel ‘tot verdelging van onrecht’. Só kon die slimkop sy studies rustig op Potchefstroom voortsit en behaal hy aan die begin van 1917 sy BA- graad, met lof in al sy vakke. Weer verwerf hy ’n beurs vir verdere studie, ter waarde van £40, maar steeds is die onverbiddelike voorwaarde dat hy sy studies aan ’n erkende instelling voortsit.
Potgieter skryf dat toe hy nie met sy beurs aan die Teologiese skool verder kon studeer nie, het hy in 1917 sy BA-Honneurs in Klassieke Tale aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria (Tukkies) verwerf. In 1918 is hy as lektor in die Klassieke aan die Teologiese Skool aangestel. “Sy werk as lektor was egter maar van korte duur, want in September 1919 vertrek hy na Nederland vir verdere studie in die Klassieke. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1921 is hy weer aangestel as lektor in die Klassieke aan die Potchefstroomse Universiteitskollege.”
Spoedig is sy doseerverpligtinge so uitgebrei dat dit ook die Ekonomie, die Staatsleer en die Etiek ingesluit het. Potgieter gaan voort: “Deels as gevolg daarvan, maar ook vanweë sy aanleg, het sy belangstelling begin wegbeweeg van die Klassieke in die rigting van die Ekonomie en Staatkunde.”
Hy het die MA-graad in Klassieke in 1923 (met ’n verhandeling oor die Sokrates-probleem) behaal. Direk daarna het hom begin toelê op die Ekonomie en die Regs- en Staatsleer. In 1931 het hy ook die graad MEcon in Staatsleer en in 1934 die LLB-graad behaal. Op 1 April 1933 is hy benoem as professor in Staatsleer en Regte aan die PUK vir CHO.
1932 was die jaar waarin daar ’n begin gemaak is met die aanbied van regsvakke en hy was die eerste dosent.
Prof Du Plessis se universitêre werksaamhede was nie tot die PUK beperk nie. Só skryf Die Veteraan by monde van sy jarelange kollega en vriend DJ (Joon) van Rooy in 1946 in ’n artikel oor hom toe hy die PUK vir die sakewêreld verlaat het: “Ook op die breër terrein van die Universiteit van Suid-Afrika het hy ’n belangrike rol gespeel. So was hy ’n keer dekaan van die fakulteit van Lettere en jare lank voorsitter van die Studiekomitee vir Staatsleer en Administrasie. Van sy hand het onder andere verskyn: Totius in sy Verse, Socrates, ’n probleem?, Staatsteorie van Jean Calvin, ’n vertaling van Oedipus Rex met inleiding, Inleiding tot die Algemene Regsleer of Jurisprudensie en Die Moderne Staat.
Die volgende dertien jaar wy hy hom hieraan, tot in Desember 1946, toe hy bedank om ’n sakeloopbaan in Johannesburg te volg. “Ongetwyfeld was dit kommer oor die ekonomiese posisie van die Afrikaner en sy eie geroepenheid om ’n bydra te maak tot die verbetering daarvan wat hom op dié stap laat besluit het,” vervolg Potgieter.
Bybelvertalers se steunpilaar
Sy grootste prestasie, sê die Herald in sy doodsberig, “was seker dat hy die hele Bybel in Afrikaans getik het toe hy sekretaris van die Bybelvertalers in die dertigerjare was.” Potgieter haal prof Du Plessis self hieroor aan: “Oor sy werk as sekretaris skryf hy soos volg: ‘Eers is sekere leidrade in formele vergaderings van tyd tot tyd vasgestel. Daarna het die vertalers hiervolgens hulle individuele take aangepak. . . . Dan is hulle manuskripte stuk-stuk na my gestuur; dié moes ek aftik in ’n paar kopieë, een vir elke vertaler (daar was vyf) . . . Maar ek het al dadelik uitgevind dat ek nie die manuskripte slegs meganies kon oortik nie, nóg ook die kommentare van die adviseurs, omdat beide myns insiens te veel onmiddellike korreksies nodig gehad het, sowel wat die taalaspek betref asook die vertaling self, laasgenoemde veral in die Nuwe Testament, omdat ek wel Grieks geken het maar geen Hebreeus nie.’”
Prof Du Plessis sê ook dat sy aanstelling as sekretaris van die Bybelvertalers waarskynlik op aanbeveling van Totius was: “omdat ek toe reeds in ’n mate met hom saamgewerk het in sporadiese vormingswerk aan die moderne Afrikaans en omdat ek in die pers ’n paar proewe gelewer het van stukkies Bybelvertaling in ’n meer Afrikaanse Afrikaans.” Die aanhaling is in ’n hoofstuk deur prof Hertzog Venter In Potchefstroom Gimnasium 1907 – 1982. Prof Venter sê oor prof Du Plessis: “Hy was in alle opsigte ’n man van groot bekwaamheid, ook ten opsigte van die taal.”
Verder was hy Totius ook behulpsaam met die taalkundige versorging van die Afrikaanse Psalmberyming. Die doodsberig in die Herald beaam: “Dit is bekend dat Totius sy hulp dikwels ingeroep het om sy sterk Hollandsgekleurde Afrikaans so Afrikaans moontlik te maak, in die Bybelvertaling, die Psalmberyming en in Totius se gedigte.”
Huispa vir PUK-studente
Benewens sy akademiese verpligtinge en buitemuurse verpligtinge, was prof Du Plessis ook vanaf 1933 tot met sy vertrek in 1946 koshuisvader vir al die PUK se koshuise. In die 1947-Jaarboek van die PUK word ’n huldeblyk aan hom gelewer: “In hierdie opsig het hy saam met mev Du Plessis ’n groot en belangrike werk gedoen, en onder hulle leiding ’n gesonde, opgewekte gees onder die inwoners geskep.”
Van Rooy sluit sy 1946 artikel in Die Veteraan af: “Ten slotte bring ek in herinnering dat Wicus te midde van sy drukke werksaamhede ook nog daarin geslaag het om getroud te raak, en wel in 1926 met mej ES van der Merwe. Daar sit miskien die geheim van sy inspirerende optrede en dryfkrag van sy daadkrag! Ook mev Du Plessis het haar plek hier volgestaan. Ons dink onder andere aan die groot sukses wat sy hier en elders van volkspele gemaak het.”
Prof Du Plessis en sy gesin het aanvanklik in die dameskoshuis, Postmahuis, gewoon, maar in 1936 verhuis na die nuutgeboude, Piet Groblerhuis, ’n dameskoshuis by die suidelike hek van die kampus. Dis volgens die PU-Kaner van 14 Februarie 1975 wat ook skryf dat prof Du Plessis onder die studente bekendgestaan het as “Broeder, omdat hy mens altyd met die amikabele woord aangespreek het”.
Een van sy studente, later prof Johann Bekker, skryf in 1980 vir die PU-Kaner sy herinneringe van prof Wicus. “Wat my altyd getref het,” skryf prof Bekker, “is dat hy so lief was vir stap. Hy stap daardie paar kilometers van die PUK-gronde tot onder in die dorp en terug wanneer hy die kans kon kry. Ons het nie saam met hom geloop nie, want dit het gelyk of hy diep met sy gedagtes besig was, en so was dit seker ook, maar ons het soms naby hom geloop en probeer tred hou. Hy het skoon onder ons uit geloop, met sy paar lang bene en gemaklike pas wat met lang treë en so byna sonder inspanning die aarde onder hom laat deurskuif het.”
Hy het altyd gekorswel met paartjies wat sleep. Só skryf Ex Jure in 1991: “As ’n man in sy klas was en hy kry die tweetjies langs die pad, sou hy eers van sy fiets afklim, en ‘’n besondere meelewing met die verliefde paartjie se romanse toon. In 1958, toe FW de Klerk in sy finale was en hy en Marike net begin sleep het, het prof Du Plessis haar eendag iewers langs die pad gekry, en haar met die woorde gegroet: ‘O ja, natuurlik, u is die dametjie wat belangstel in mnr De Klerk.’”
Prof Wicus verower die sakewêreld
In 1934 was hy saam met vier-en-dertig ander Afrikaners stigterslid van Volkskas (tans deel van ABSA-bank) en was elf jaar daarna voorsitter van die direksie.
Willem Nel, oordragsekretaris en later skakelbestuurder van Volkskas, het ’n spesiale huldeblyk aan prof Wicus geskryf in die boek oor Volkskas se ontstaan, Die bank van oom Bossie:
Sy groot bydrae was tot die ontstaan en groei van die FAK en veral van die Ekonomiese Instituut waarvan hy voorsitter was. Hy was gedurende 1933 die voorsitter van die hoofbestuur van die Nasionale Party en onderleier in Transvaal. Gedurende die vroeë veertigerjare het hy op die Groot Raad van die Ossewabrandwag gedien.
Benewens sy verbintenis met die stigting van Volkskas was hy stigterslid en voorsitter van die eerste direksie van Dagbreek, een van die stigters van die Ekonomiese Instituut, voorsitter en besturende direkteur van die Kopersbond en stigterlid van Uniewinkels en Karoo-Vleisbeurs.
Weens die ineenstorting van die Kopersbond het hy as direkteur van die Bank bedank en ’n jaar later (1948) het hy ook sy professorskap neergelê om in Johannesburg ’n sakebestaan te voer. (Prof Du Plessis het in werklikheid aan die einde van 1946 die PUK verlaat.)
Sy aktiewe toetrede tot die sakewêreld was minder suksesvol en hy het later as advokaat in Johannesburg gepraktiseer.
Met sy akademiese kennis van die regte en ekonomie was hy JJ Bosman se raadgewer, vriend en vertroueling. Onprakties, maar versiende vanweë sy wye kennis, kon hy tendense uitspel en die praktiese bestuur van die Bank aan die stigter oorlaat.
Lank, skraal, altyd netjies in sober bruin of grys gekleed met ’n vierkantige snor was hy ’n voorsitter wat status aan die jong instelling verleen het.
Vanweë sy maklike manier van omgang en gemoedelikheid was hy gewild onder die personeel.
Die Veteraan skryf in 1946: “Eindelik moet nog melding gemaak word van die manier waarop die sakewêreld gaandeweg al meer van sy belangstelling gaan opeis het . . . Volkskas is alreeds genoem, maar Volkskas was maar ’n fase.” Hy was ook direksielid van die Voortrekkerpers, Asokor, die Pro Ecclesia-drukkery en Perskor. In 1946 word hy voorsitter van die direksie van Perskor asook voorsitter van die direksie van Kopersbond Beperk en was ook voorsitter van ’n Afrikaanse versekeringsmaatskappy, waarin geld belê is uit Nederland en Brittanje. Hy het die PUK in 1946 verlaat om voltyds besturende direkteur van Kopersbond te word.
Prof Wicus se betrokkenheid by die Afrikaanse sakewêreld was dus wyd. Potgieter haal Marius Jooste van die Afrikaanse Pers Beperk aan wat sê dat prof Du Plessis ’n stigter van Afrikaanse ondernemings sonder gelyke was. “Hy sê: ‘Tot op daardie tydstip (die begin van die vyftigerjare) weet ek nie van ’n enkele stigting in die Noorde, asook baie in die suidelike deel van Suid-Afrika, waarin Wikus du Plessis nie ’n aandeel gehad het nie . . . Ek verstout my om te sê dat geen ander Afrikaner van wie ek weet, hiermee kan vergelyk wanneer dit kom by die stigting van Afrikanersake nie.’”
Ten spyte daarvan dat hy meer as ’n dekade die voorsitter van die direksie van Volkskas was en stigter van die Ekonomiese Instituut, skryf die PU-Kaner in 1968: “Prof LJ, soos ons hom genoem het, was ’n man wat hom nooit aan geld gesteur het nie. Trouens hy het hom so min daarmee bemoei dat hy nooit ’n bemiddelde man kon word nie. Dit kon hom nie skeel of hy werk verniet verrig het nie, solank hy net die pot aan die kook kon hou by sy huis.”
Boonop was hy ook voorsitter van ’n komitee wat die bekende ontwerpgrondwet vir die republiek in die laat vyftigerjare opgestel het. Potgieter sê dat dié grondwet byna uitsluitlik prof Wicus se skepping was en dus ’n uitkristallisering van sy staatkundige beskouings. “Dit is geen geheim meer nie dat dr Malan op een stadium aan prof Du Plessis as sy opvolger gedink het.”
In ’n huldeblyk in die Besembos van 1961 skryf DJ van Rooy: “Maar hy besit ook sienersgawe, hy leef ook sy tyd en volk vooruit. Dit kom veral in sy politieke uitinge tot openbaring. Dan spreek en skryf hy soms ’n taal wat vreemde aandoen en aanstoot gee.”
Terug by die PUK
Nadat hy in 1951 gekies is as voorsitter van die Konvokasie van die PUK, was prof Wicus in 1953 terug by die Universiteit – weer as professor.
So ’n uitmuntende dosent en uitsonderlike mens as wat Wicus du Plessis was, so is sy lewe gekenmerk deur teenkanting en misverstande. Potgieter wys die ander, donker kant van sy lewe:
“Hy is egter so vasgevang deur gebeurtenisse en uitdagings van sy tyd dat hy rusteloos voortgehaas het sonder om sy beskouing tot ’n eenheid te verwerk. Daarby het hy homself nooit as ’n wysgeer beskou nie. Dit was net nie in sy aard om ‘skematies en kategoriaal’ te dink nie.” Hy skryf self in Die Veteraan van 1936 waarin oudstudente een en ander oor hulleself sê, ironies genoeg oor hómself: “Baie bedink, min bereik.”
“LJ du Plessis het hom nie met allerlei kleinighede bemoei nie,” vervolg Potgieter. “Hy het na die groot lyne van die wesenlike van staat en reg gesoek. Hy was onverbiddelik vas aan ’n wysgerige stelsel of skema nie. Hy was geen beginseljagter wat alles verwerp wat nie mooi in sy skema inpas nie. Sy blik het wyd gestrek – soms so ver oor die grense van die tradisionele denkpatrone dat hy snodelik misverstaan is. Onder sware roepingsbesef was sy standpunte dikwels onverskrokke skerp. Hy het sy tyd en krag gewy aan die oplossing van die vraagstukke van sy eie tyd, maar sy aandag was ook toegespits op die tyd wat kom. Daarom het sy werk blywende waarde.”
LJ du Plessis word, saam met onder meer JD van der Vyver, Hennie Bingle en Hennie Coetzee, gereken as een van die “stemme van Potchefstroom”. In U Lig verduidelik: “Op nasionale vlak is dit ’n bekende feit dat sommige dosente van die PUK hulle stem van protes duidelik laat hoor het en selfs ‘gerebelleer’ het teen sake wat hulle as diskriminerend en onregverdig aangevoel het.”
Oor Du Plessis skryf In U Lig: “As ’n mens praat van die Potchefstroomse bydrae van eerlik vooruit dink, dan moet veral hulde gebring word aan wyle prof Wikus (sic) du Plessis., “so uit die ruggraat van Potchefstroom . . . As vurige voorstander van onafhanklikheid vir die Bantoetuislande het Wikus du Plessis nogtans sterk gestaan op noue skakeling en samewerking met die Bantoe . . reeds in die vyftigerjare het Wikus du Plessis in ’n kerklike kommissie gepleit dat geleenthede en fasiliteite gekry word waar blank en nie-blank mekaar kan raadpleeg en saam verkeer. Teen die strenger vorms van apartheid het hy selfs gebrong: ‘Daar is nie eens meer plek waar mens met ’n Bantoe ’n koppie koffie kan drink nie . . .’”
Saam met proff JH (Hennie) Coetzee en DW (Daantjie) Kruger is hulle uitsprake in 1959 in die Sunday Times beskryf as ’n “professorale rebellie”. Hulle het daarop gewys dat swart nasionalisme nie verontagsaam kan word nie en het skakeling met die ANC bepleit.
Prof Du Plessis se lidmaatskap van die Nasionale Party is in 1961 onthef en politieke leiers het daarna nie meer ag geslaan op sy uitsprake nie.
Breinoperasie volg na vroeë bedanking by PUK
Hy sou aan die einde van 1962 afgetree het, maar sy bedanking is 20 September 1961 deur die Raad van die PUK aanvaar nadat hy in Augustus dit per brief versoek het. Hierna het prof Wicus weer op 27 Oktober 1961 ’n brief aan die Raad gerig waarin hy versoek dat sy bedanking teruggetrek word. Die Raadsnotule van 22 November 1961 sê dat hy in die brief “een en ander vermeld in verband met sy gesondheidstoestand gedurende die afgelope jare wat tot gevolg gehad het dat hy soms onverantwoordelik opgetree het. Hy spreek sy innige spyt uit waar hy die Universiteit in gedrang gebring het en stel dit dat hy homself aan ’n mediese behandeling wil onderwerp. Hy vra verlof om sy bedanking wat die Raad reeds aanvaar het terug te trek.”
Die Raad het egter “na ernstige bespreking” besluit om by hulle vorige besluit te hou.
Dit blyk dat prof Du Plessis in 1962 ’n pos aanvaar het aan Universiteit in Natal in Durban. Die Potchefstroom Herald berig op 23 Februarie 1962 dat ’n afskeidsgeselligheid vir prof Du Plessis en sy vrou Lilly by die Potchefstroomse Buiteklub gehou is. Vroeër die middag het mev Du Plessis se vriendinne van haar afskeid geneem. Die berig sê voorts: “Daar is op gewys dat mev Du Plessis altyd in alle opsigte haar plek volgestaan het in die kring van die Universiteitsdames en in die sustersorganisasie van haar kerk. Mev Du Plessis was een van die eerste volkspeleleidsters op Potchefstroom en iemand wat veel belanggestel het in kuns- en kultuuraangeleenthede.”
Of hy wel na Natal is, is onbekend.
“Teen die begin van die sestigerjare het dit duidelik geword dat sy waardering van homself teenoor die buitewêreld nie meer normaal was nie.” So stel prof Potgieter dit. “Mens sou dit ook só kon stel dat die sosiale aspek van sy lewe, waar hy teenoor ander mense en samelewingskringe te staan gekom het, nie meer in perspektief was nie. Nadat dit duidelik geword het dat die neerdrukkende uitwerking van verskeie omstandighede (huislik, sowel as akademies en politiek) gedreig het om sy lewe te verwoes, is in 1963 ’n breinoperasie op hom uitgevoer, bekend as die gewysigde frontale leukotomie.”
In 1963 was ’n leukotomie gereken as die voorpunt van tegnologie en die Portugees, António Egaz Moniz, wat dié operasie die eerste keer gedoen het, het in 1949 ’n Nobelprys daarvoor gekry.
Vandag word dit beskryf as ’n ruwe, onwetenskaplike en gevaarlike prosedure. Tydens die operasie word ’n dun metaalstaaf, deur ’n gat wat in die skedel geboor is of deur die oogkas, in die brein gesteek. Dit is heen en weer beweeg en die doel was om die senuwees wat die frontale lob met die res van die brein verbind te vernietig. Daar is gereken dat dit verligting bring vir toestande soos depressie en skisofrenie en studies het wel uitgewys dat daar verligting was van sekere psigiatriese toestande wat rusteloosheid en ontwrigtende gedrag as simptome gehad het.
Die nagevolge van die operasie was erger. Dit het senuweetoevalle, beperking van beweging, emosionele probleme, beperkte verstandelike vermoë, persoonlikheidsveranderings, apatie en inkontensie ingesluit.
Dit is dus geensins vreemd dat Potgieter skryf dat prof Wicus lewe daarna verstil het nie. “Sy stem is nie meer in heldere en oortuigende betoog gehoor nie. Sy vaardige pen het nie meer geskryf nie.”
“Sy energieke lewe het só skielik tot ’n einde gekom, en daarby was die omstandighede aan die einde van sy lewe sodanig dat hy nooit so ver gekom het om te konsolideer wat hy op wetenskaplike gebied tot stand gebring het nie. Hoewel hy sedert 1933 al professor was, het hy byvoorbeeld nooit ’n doktorsgraad behaal nie.
Hy is Saterdag 19 Oktober 1968 stil by sy huis by Van Graanstraat 2 dood nadat hy ingesluimer het, volgens die PU-Kaner van 19 November 1968.
Hy is oorleef deur sy vrou, Lilly, sy seun, dr JA du Plessis van Johannesburg, en dogters, mevv L Opperman van Kimberley en Renee Bisschoff van Windhoek.
Die LJ du Plessis-lesingreeks is by die nuutgestigte Fakulteit Regte ingestel om sy grondlegger te eer. Dit het egter na ’n dekade doodgeloop.
Die ou administrasiegebou (F4) is enkele jare na dit gebou is na hom vernoem, maar meer as ’n halwe eeu na sy dood, is LJ du Plessis grootliks vergete. Sy erfenis aan die Universiteit in die vorm van die Fakulteite Regte en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is egter van onskatbare waarde.