Met die afsterwe van die kunstenaar J Petro van der Walt op 7 Februarie 2023 het Potchefstroom ‘n kunstenaar verloor wie se kunswerke die stad verryk het.
Hier is die teks wat ek vir sy doodsberig geskryf het en wat op 23 Februarie 2023 in die Potchefstroom Herald verskyn het.
Een van die mees gerespekteerde kunstenaars van Potchefstroom is Dinsdag 7 Februarie 2023 oorlede. J. Petro van der Walt is die naam waarmee Hannes van der Walt (93) sy kunswerke geteken het.
Sy groot nalatenskap is op die kampus van die Noordwes-Universiteit waar talle van sy kunswerke die kampus versier. Die bekendste hiervan is die beeldhouwerk wat die Studenteraad in 1969 tydens die Potchefstroomse Universiteit se eeufees aan die universiteit geskenk het. Dié werk simboliseer die inkomende en uitgaande studente. In die middel is ’n ligtoring wat die karakter van die PU vir CHO simboliseer wie se leuse: “In U lig sien ons die lig” was. Dié beeldhouwerk staan op die hoofroete tussen die weskampus en die Studentesentrum en staan onder die studente bekend as die “wasgoedpennetjies”.
In die administrasiegebou van die NWU hang ’n 5 meter-lange beeld van vlekvryestaal deur Van der Walt geskep, wat met die ingebruikneming van die gebou deur die argitekte, Conradie Müller & Van Rooyen aan die PU vir CHO geskenk is.
Hannes van der Walt is in 1929 in Paulpietersburg in KwaZulu Natal gebore. Die grootste deel van sy skoolopleiding het hy in Potchefstroom ontvang by die Laerskool Mooirivier en die Potchefstroom Gimnasium. Hy het daarna by die pasgestigte WNNR in Pretoria gaan werk en terselfdertyd die graad BSc met hoofvakke Fisika en Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Dit was in hierdie tyd dat sy belangstelling in kuns begin ontwikkel het.
In 1959 keer hy terug na Potchefstroom toe hy hoof van die Potchefstroomse Universiteit se instrumentmakery word, waar hy in 1989 afgetree het.
Hannes van der Walt het ’n merkwaardige huis vir hom en sy vrou Mona gebou wat op hulle kleinhoewe in Mooivallei gestaan het. In die binnehof van die huis was ’n swaeltjie van vlekvryestaal wat deur die dag lig in die huis weerkaats het. By die hek staan ’n muur met mensfigure uit baksteen in die hek gebou. Dié tema was deur die hele huis te sien en daar was uiteindelik meer as 2 000 van dié figure in die huis: in loodglasvensters en om die rand van die eetkamertafel- en stoele wat hy eiehandig gemaak het.
Die Van der Walts het in 2012 na Huis Eikelaan verhuis, waar hulle gewoon het tot en met sy dood aan leukemie.
Hannes van der Walt word oorleef deur sy vrou Mona, vyf kinders en 12 kleinkinders en 12 agterkleinkinders.
Die troosdiens en begrafnis was Vrydag 10 Februarie 2023.
Die doodsberig is die derde keer wat ek oor J Petro van der Walt skryf. Die eerste keer was in 1993.
Kunstenaar ver buite dorp bekend
Ongelukkig het die hek by Liggaamlike Opvoedkunde verdwyn toe die palissade-heinings geïnstalleer is. Die hek by die Botaniese Tuin is deesdae ook agter nog ’n heining versteek met onklaar werk aan die voormalige parkeerterrein voor die hek waar hope grond al baie lank rondlê.
My tweede artikel oor Hannes van der Walt was in 2015. In Februarie 2015 is die boek bekendgestel om hom te eer. Hier is die teks van my artikel oor hom wat op 8 Maart 2015 in die Herald verskyn het.
J Petro van der Walt met boek vereer
’n Potchefstroomse kunstenaar het die sonderlinge eer te beurt geval om met ’n boek vereer te word. ’n Retrospektiewe uitstalling van die werke van J Petro van der Walt (85) het Woensdag 18 Februarie in die foyer van die Sanlam-Ouditorium geopen. Terselfdertyd is die boek, wat deur John R Botha saamgestel is, vrygestel.
Dié gedagte vir dié boek, kom van prof Piet Stoker af met wie Van der Walt jare lank saamgewerk het.
J Petro van der Walt is niemand anders nie as Hannes van der Walt wat van 1959 tot 1989 die hoof van die PU vir CHO se instrumentmakery was. Die instrumentmakery het vroeër onder die departement Fisika, waarvan Stoker baie jare lank hoof was, gefunksioneer.
Van der Walt bly feitlik sy hele lewe in Potchefstroom en het in 1939 as skoolseun saam met sy ouers hierheen verhuis. Na hy aan die Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer het, is hy na Pretoria, waar hy 12 jaar gewoon het, voor hy en sy gesin in 1959 weer teruggekeer het.
Sy kunstalent kom waarskynlik van sy ma, wat skilderwerk op tekstiele gedoen het. Dit is egter terwyl hy by die WNNR in Pretoria gewerk het en nauurs aan Tukkies studeer het, dat hy begin kunsuitstallings bywoon het. Dit het die drang om self te skep begin wakker gemaak en “ek het in los tydjies begin speel,” voeg hy beskeie by.
Sy eerste uitstalling op Potchefstroom was in 1963 saam met Nico van Rensburg. Daarna volg ’n artikel oor sy kunswerke in die tydskrif, Lantern, deur Susan Coetzee, wat Woensdagaand die gasspreker was. (Sy en haar man, Willem, het spesiaal van die VSA gereis om die uitstalling te kon meemaak.)
In 1968 is ’n uitstalling van sy werke deur prof Gerrit Dekker geopen. Kort daarna het die eerste opdrag vanaf die PU vir CHO gekom. Dit was juis die artikel in Lantern wat die studente geïnspireer het om hom te vra om ’n werk te skep vir die eeufees van die PU vir CHO in 1969. Die gedenkteken, noord van die LJ du Plessis-gebou, wat die inkomende en uitgaande studente simboliseer, het gevolg.
Nog ’n bekende kunswerk van Van der Walt is die werk van vlekvrye staal wat aan die dak van die binnehof van die Joon van Rooy-gebou hang. Vandag is daar talle van sy werke oral op die Potchefstroomkampus van die NWU te sien.
Dit was vir hom net ’n plesier om die werke te skep, vertel hy “niks was moeite nie”.
Die uitstalling en boek fokus op sy werk as beeldhouer, maar Hannes se ander liefde is om meubels te maak. In sy sitkamer staan ’n tafeltjie met ’n sterpatroon in inlegwerk wat hy in matriek gemaak het.
Toe die Instrumentmakery ’n nuwe gebou betrek het, wou hy gaan stoele koop vir die ontvangslokaal, maar kon niks na sy sin vind nie. Hy het besluit om self die stoele te maak en mense wat hulle gesien het, wou ook gehad het. Uiteindelik het hy meer as ’n honderd van die gemaklike kantoorstoele gemaak.
Sy groot trots is ’n reusestaanhorlosie wat hy in 1997 voltooi het. Dit is van stinkhout gemaak. Anders as gewone staanhorlosies met ’n gewelvorm aan die bokant, het dié een ’n kasteelkroon. Dit het hy gedoen omdat die uurwerk van die horlosie van Duitsland af kom. Na ’n vriend van hom die horlosie gesien het, wou hy ook een hê en hy het nog een gemaak.
Hannes en sy vrou, Mona, het in 1959 ’n lappie grond in Oudebrugweg gekoop. “Toe was daar net mielielande” vertel hy. Hy en ’n helper het die huis gebou waarin hulle tot in 2012 gewoon het, voor hulle na Huis Eikelaan verhuis het.
Terwyl hy dié huis gebou het, het hy ’n stilistiese mansfiguur met bakstene en beton ontwerp voor ’n venster om diefwering te vorm. Die mannetjies het hulle weg gevind na talle plekke op die erf. Dit is te sien in die hek by die ingang en marsjeer al om die rand van ’n tafel en aan die bokant van die bypassende stoele. Dié tafel is te groot vir hulle knus aftreehuis en hy het ’n viersitplektafel gemaak, weer eens met ’n regiment mannetjies om die rand. Die enkelvoetstuk van die tafel is versier met ’n mannetjie van houtinlegwerk. By die Boskop Seiljagklub, waar die Van der Walts baie jare lede is, is ook van sy mannetjies te sien.
Nadat Hannes en Mona in 2012 na Huis Eikelaan verhuis het, woon sy kleinkinders in die huis, maar sy werkswinkel is nog daar en hy gaan werskaf nog elke dag.
Vir die donateurs wat die boek oor sy werk moontlik gemaak het, het hy elkeen ’n valk uit glasvesel gemaak. Dan is daar nog enkele werke wat moet klaarkom.
By die PUK het Hannes ook bekend geword vir die talle trofees wat hy ontwerp het. En elkeen het net soveel tyd en aandag geverg as sy kunswerke, want hy wou graag die prestasie wat dit verteenwoordig uitbeeld.
Vandag kan die 85-jarige terugkyk op ’n kunstenaarsloopbaan waarin daar baie hoogtepunte is.
Sonder die kunswerke van J Petro van der Walt, wat hoofsaaklik op die kampus van die NWU is, maar ook ’n staanplek gevind het in talle inwoners se wonings, sou Potchefstroom ’n armer plek gewees het.