Met die stilte van die afgelope paar dae, hoor ’n mens waarskynlik die enigste werkende kerkhorlosie met klokke in Potchefstroom, dié van die Gereformeerde Kerk (GK) Potchefstroom Die Bult, kilometers ver. Dié horlosie en klokke het ’n storie met talle kinkels en draaie.
GK Potchefstroom Die Bult deel sy kerkgebou met die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op die hoek van Borcherdstraat en Thabo Mbeki-rylaan. Die gebou is deur die bekende Suid-Afrikaanse argitek Gerhard Moerdijk ontwerp is. Nadat die hoeksteen op 2 Februarie 1952 deur prof SP van der Walt gelê is, is die kerkgebou en Teologiese Skool amptelik ingewy op 18 Oktober 1952.
In 2011 het GK Potchefstroom-Noord met die GK Noordbrug saamgesmelt om GK Potchefstroom Die Bult te vorm.
Die merkwaardige verhaal van dié kerkhorlosie en sy klokke is opgeteken in die Nuusbrief van die GK Potchefstroom-Noord in September 1974. Dit is geskryf deur prof SP van der Walt, die groot dryfkrag agter die bekom van die kerkhorlosie en klokke.
Die Potchefstroom Herald het grootliks dié berig uit die Nuusbrief oorgeneem en gepubliseer in sy uitgawe van 7 Januarie 1975:
Die gedagte aan ’n horlosie en klokke het in 1949 by prof SP van der Walt opgekom toe hy ’n besoek aan Calvin College in Grand Rapids gebring het waar ’n soortgelyke klokkespel in die toring van die inrigting se biblioteekgebou vir hom besonder treffend was. Hy het dadelik gedink dat dit gepas sou wees as die Teologiese Skool op Potchefstroom ook dieselfde duidelike klanke kan laat hoor.
Prof Van der Walt het begin om hom daarvoor te beywer. By sy terugkoms het hy aan wyle prof JP van der Merwe voorgestel dat sy skenking van £200 (R400) vir ’n artistieke venster in die kerkgebou wat toe in aanbou was, liewer vir ’n klok aangewend word. Hiertoe het prof Van der Merwe ingestem.
Al die pad uit Durban
Op ’n dag het wyle prof APG Goossens aan prof Van der Walt vertel van ’n groot klok met kleiner klokke wat in die goedereloods van die Durbanse stasie staan.
Die Nuusbrief vervolg:
Die verhaal was dat in die hoofkwartier van die leër in Snellparade was daar ’n vierkantige toring. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die weermag besluit dat hierdie toring ’n duidelike skyf is vir vyandelike seevaartuie en daarom is die toring afgebreek en die klokke met oorlosie verwyder.
Hy wis nie wat van die raderwerk (beter bekend as ratwerk) van die oorlosie geword het nie, maar die vier klokke van die klokkespele en die groot klok staan nou reeds elf jaar lank op die laaisone. Die spoorweg is van voorneme om dit vir afval te verkoop en alles sal dan gesmelt word. Ons sou dadelik moes onderhandel, omdat die advertensie van die rommelverkoping voorberei word.
Dié mededeling is in 1949 gemaak.
Die kontrakteur wat die bouwerk behartig het, TH Bolton (Edms) Bpk, was al met die toring se bou besig en hy is gevra om voorlopig daarmee te wag.
Prof Van der Walt is na Durban om met die Spoorwegowerhede te onderhandel en het gevind dat dit alreeds byna te laat was om die klokke te kon aanskaf. Vandaar moes hy na Pretoria om alle inligting in verband met ’n moontlike transaksie te verkry.
Die Herald vertel verder:
Een saak wat sterk in die kerkraad se guns was, was dat die kerk ’n toring moes kry en dat die regering so min as moontlik geld wou laat gaan. Daar moes egter gou gespeel word.
Prof Van der Walt is met die hulp van die destydse LV vir Potchefstroom dr JH Steyn na die Uniegebou om vas te stel waar aangeklop moes word. Eers is hulle na min JC Erasmus, Minister van Verdediging, omdat die artikels uit die Weermaghoofkwartier kom. Hy was baie behulpsaam, maar na ondersoek het geblyk dat sy departement niks meer daarvan weet nie.
Van bakboord na stuurboord
Hy het aanbeveel dat min Ben Schoeman gespreek moes word omdat behuising en openbare werke deel vorm van die Ministerie van Arbeid. Ook hy was uiters behulpsaam, maar ook hier is verneem dat sy departement onbewus is van die klokke en dit lankal afgeskryf het.
Die Herald gaan voort:
Uiteindelik is min NC Havenga, Minister van Finansies, gespreek. Prof Van der Walt het by hom aansoek gedoen om die klokke te koop omdat dit valutabesparing sou meebring en omdat kunsvoorwerpe tog nie vir koperherwinning opgesmelt kon word nie. Sy argument was egter onomstootlik: hoe kan ek verkoop wat ek nie het nie? Die ouditeur-generaal sou dadelik sy departement in die verleentheid stel. Hy wou graag help, maar kon nie.
Toe kom mnr Isak Meyer, Sekretaris van die Tesourie, met ’n blink gedagte en stel aan min Havenga voor: kom ons vra stoorgeld aan die kerk vir iets wat nou al elf jaar op staatseiendom staan. Onmiddellik antwoord min Havenga: wat sal julle betaal vir stoorgeld vir soveel jare?
En prof Van der Walt antwoord: eenhonderd pond. Die bedrag is aanvaar en toestemming is ontvang om alles so gou as moontlik van die spoorwegwerf te verwyder.
Op Potchefstroom terug, is met mnr Job Tait se vervoerdienste gereël dat twee vragmotors die vrag moes gaan haal. Daar was talle kaste met raderwerk (ratwerk) van die horlosie, die elektriese motors, die staalrame van die vensters, die staallere waarmee die toring bestyg kon word en dan die vyf klokke met die swaar staal raamwerk waaraan die klokke hang.
Hier kon alles afgelaai word. Die vragwa is teen ’n groot sandhoop getrek en sy wipbak het dit laat afgly op die sand, waarin die klok diep ingesak het.
Nou moes aan die werk gespring word om die raamwerk en klokke in die toring te kry en dit moes gedoen word deur dit met ’n kragtige hyser van bo af te laat insak.
Die vierkantige toring kon dit alles mooi bevat, maar moes versterk word om die ekstra gewig te kon dra. ’n Hyskraan moes laat kom word om die taak met die installering van die klok. Daarna kon die bouwerk voortgaan.
’n Ander groot werk het nog gewag. Die kaste met die horlosie se raderwerk (ratwerk) was oop en buite werking. Alles is na Pretoria geneem na ’n horlosiemaker wat in toringhorlosies spesialiseer. Hy het dit inmekaar gepas en wonder bo wonder was alles byderhand. Hy het ook die toestel skoongemaak en ’n klein modernisering aangebring. Sy kommentaar was dat dié uurwerk menseleeftye sou verduur. Alles is in die toring geplaas, die wyserplate van onbreekbare materiaal aangebring en die klokkespel ingestem. Vir die lui van die klok is ook ’n elektriese toestel aangebring wat met die druk van ’n knoppie beheer kon word.
Op die ou end het die vervoerkoste, hyserkoste en herstelwerk meer bedra as die “koopprys”, maar dit was die prys dubbel en dwars werd.
Dit word bereken dat benewens die stoorgeld van £100 die vervoerkoste, herstelkoste en huur van die hyskraan ’n verdere £500 gekos het.
80 jaar later
In 2017, die jaar waarin die horlosie 80 jaar oud was, het die destydse koster, Piet van Maarleveld, vir Chris van der Walt gevra om vas te stel watter herstelwerk nodig is en prof Jan de Kock is genader om die herstelwerk te doen.
Benewens die feit dat hy ’n professor in Elektriese Ingenieurswese is het prof De Kock ook jare vir ’n Kaapse horlosiemaker gewerk wat aan die hoof staan van herstelwerk aan horlosies van die Kultuurhistoriese Museum in Kaapstad.
In die sowat drie jaar wat hy met die herstelwerk en restourasie van die kerkhorlosie besig is, het hy nie net die klokke en uurwerk baie goed ondersoek nie, maar ook deeglik navorsing daaroor gedoen.
Op die groot klok is die naam van die gietery “John Taylor & Co” gevind. Dié gietery bestaan steeds en op hulle webblad het Prof De Kock vasgestel dat die plaaslike klokke in 1937 gegiet is.
Die klokke is bestel deur die Durban Active Citizen Force of the Union Defence Force. Dit was bestem om geïnstalleer te word in ’n gebou in Old Fort Road in Durban, regoorkant die Kingsmead-stadion. In 1937 was die gebou van Kommandement Natal in Snell Parade egter in aanbou en is die horlosie en klokke in die toring van dié gebou geïnstalleer.
Vir besoekers aan die kerk en Teologiese Skool en verbygangers is tans al merkbare teken van die herstelwerk in proses dat die klokke wel lui, maar dat die wysers verwyder is.
Volgens prof De Kock het die wysers, waarvan die uurwyser 105 cm lank is en die minuutwyser 126 cm, uitgeslyt geraak en moes herstel word. Dit moet ook geskuur en geverf word.
Voorts moes een van die motors op die uurwerke vervang moet. Boute wat die hoofklok aan sy juk heg, is ook vervang nadat dit gebreek het. Die wyserplate, wat van wit deurskynende kunshars, sowat 5 mm dik, gemaak is, het begin bars en moes vervang word. Elk van die vier wyserplate bestaan uit ses plate wat soos ruite in ’n vensterraam pas. Nuwe plate is reeds gemaak, maar kan eers aangebring word nadat die ou plate verwyder is en die ysterrame waarin dit pas, se roes verwyder en geverf is. Dit moet in situ bo in die toring plaasvind!
Ratte agter die wyserplate, wat die uurwyser beheer, word tans herstel. De Kock verduidelik dat die minuutwyser deur die horlosie beheer word, maar ’n ratstelsel agter elk van die vier wyserplate herlei die minute na ure om die uurwyser te beheer. Na jare is dié vier ratstelsels nie meer gesinchroniseer nie en onderdele moes vervang word om dit te herstel. Dit het nie gehelp om die horlosie net op tyd te stel nie, want die minuutwyser van elk van die vier wyserplate kon korrek gestel word, maar die uurwysers het tot soveel as ’n uur van mekaar verskil.
Prof De Kock reken dat die herstelwerk teen die einde van die jaar voltooi sal wees. Dan kan Potchefstromers – en veral die inwoners van die Bult – hulle, soos vir die afgelope 68 jaar, met groot gemoedsrus op die akkurate tyd van die horlosie verlaat.
Feite oor die horlosie en klokke verskaf deur prof De Kock:
- Die horlosie het vyf klokke.
- Die klokke is in 1937 gegiet deur John Taylor & Co van Loughborough in Leicestershire, Groot Brittanje.
- Die grootste weeg 1 244 kg weeg en die deursnit op sy breedste is 128,2 cm.
- Gewig en deursnit van die ander vier:
406 kg – 86,0 cm
204 kg – 65,5 cm
152 kg – 59,6 cm
117 kg – 55,5 cm
- Die groot klok is die enigste een wat kan swaai. Dit word elektries beheer deur ’n wiel wat aan ’n ketting gekoppel is en die klok en sy juk sowat 30° draai sodat die klepel die rand kan tref. Die meganisme om die swaaibeweging te veroorsaak, is jare reeds buite werking en moet ook herstel word. Die klok het egter ook ’n hamer wat teen die rand slaan om die ure af te tel.
- Die ander klokke word net deur hamers gelui, wat ook meganies beheer word deur die horlosie en teen die rand van die klok slaan. Een van die hamers van die kleiner klokke is regs onder op die foto van die groot klok te sien.
- Die deuntjie wat die horlosie op die uur speel is dieselfde as dié van die bekende Big Ben in Londen en staan bekend as die Westminster Quarters. Luister hier na die klank. https://en.wikipedia.org/wiki/Westminster_Quarters
- Die uurwerk is vervaardig deur “Smith of Derby” in Engeland, maar die uurtrein is later vervang deur een van Hörz van Ulm in Beiere, Duitsland.
- Die wyserplate is ongeveer 2,5 m x 2,5 m groot.
- Die uurwyser is 105 cm lank.
- Die minutewyser is 126 mm lank
- Die toring is 20,8 m hoog tot by sy boonste punt en is terwyl dit in aanbou was met beton versterk om die gewig van die horlosie en klokke te dra.
Bronne, anders as wat in die teks vermeld word:
- https://www.artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes.php?bldgid=11905, besoek 2020-03-30.
- JK Jooste, An appraisal of selected examples of of Gerhard Moerdijk’s work (1890-1958), Ongepubliseerde artikel, Departement Argitektuur, Technikon Pretoria, 2000.
- https://www.pressreader.com/south-africa/daily-news-south-africa/20190314/281706911005223, besoek 2020-03-30.
Tensy anders vermeld is foto’s deur myself geneem.