Hans van Zyl: PUK-legende

by | Sep 17, 2022 | Forgotten Heroes, People, Places | 0 comments

Die meeste bekende mense is om een rede bekend. Hulle is óf ’n getroue administrateur, óf ’n uitstekende joernalis, óf ’n talentvolle sanger, óf ’n goeie rugbyondersteuner. Hans van Zyl was dit alles en nog meer. Ek het hom leer ken in die jare toe die helderheid van sy sterstatus effe begin taan het. Later het ek besef dat daar waarskynlik niemand anders is wat aan die Potchefstroomse Universiteit (PU) op soveel gebiede ‘n legende was nie.

Na sy dood skryf prof Willem Scott ’n huldeblyk en vat Hans van Zyl se roemryke loopbaan so saam: “Vier jaar student, vyf jaar lank dirigent tydens intervarsities, veertig jaar lank personeellid van die PUK, vier-en-veertig jaar lank in een of ander hoedanigheid diens aan PUK-rugby, vir meer as dertig jaar lank sportskrywer vir die PUK en Wes-Transvaal.”

“Hierdie vaal, skraal Kalahari-seun uit Vryburg se wêreld het oor baie dekades heen ’n eie, besondere stempel op die studente- en sosiale lewe aan die PUK geplaas,” skryf Piet van der Schyff in Sages en Legendes 1.

Hans was ’n inwoner van Heimat. Piet haal Hans aan: “Komende uit die Kalahari was dit vir my ’n geheel en al nuwe ervaring, veral die dinamiese studentelewe en lewendige koshuisaktiwiteite . . . ’n Student is mos iemand wat wel akademies dink, meganies doen, outomaties beweeg, maar prakties net pret wil hê.”

Hans van Zyl as student aan die PU. Foto: Wapad 1960

Rasieleier sonder weerga

In die jare toe Intervarsity die belangrikste gebeurtenis in die jaarlikse kalender van die Universiteit was, was Hans rasieleier. Vir almal wat sedert 2014 aan die NWU studeer het: Intervarsity was ’n jaarlikse kragmeting tussen die Potchefstroomse Universiteit, later NWU, Potchefstroom-kampus, en die UOVS. Die hoogtepunt was die rugbywedstryd tussen die twee universiteite se eerste rugbyspanne, maar daar is in talle sportsoorte meegeding. Die plek waar dit plaasgevind het, het jaarliks gewissel tussen Potchefstroom en Bloemfontein. Die boek, Dis oorlog man! wat in 2013, die laaste jaar wat dié Intervarsity met ’n tradisie van meer as sewentig jaar plaasgevind het, vertel die verhaal. Dit was terwyl ek hieraan gewerk het, dat ek besef het dat daar nie ander rasieleier was wat enigsins by Hans kon kersvashou nie. Die medeskrywer van Dis oorlog man! is Bertie Jacobs.

Die hoofwedstryd het nie net op die veld plaasgevind nie. Elke universiteit het ’n rasieleier gehad wat met sy stem, kwinkslae, magnetisme en algemene onverskrokke aplomb die skare op die pawiljoene aangemoedig en vermaak het.

Hans van Zyl was van 1959 tot 1963 rasieleier. In ’n huldeblyk na sy dood in 2000 word gesê: “Hy was ’n meester in eie klas en het nie net sy studentemakkers tot byna-raserny gedryf nie, maar ook die gewone toeskouers by sulke wedstryde laat lê van die lag.”

In Augustus 1960 publiseer Wapad ’n paar van Hans se kwinkslae van die pasafgelope intervarsity:

Jy laat my dink aan ’n Karoo-wolkie: as hy nie nat is nie, het hy ’n wind.

Jy lyk vir my na ‘n moddergat na ’n halfdag se reën.

Jy’s so skeel: as jy huil loop die trane teen jou rug af.

Jy is vandag weer so pittig soos ’n banana.

Ek wens jou brein was ’n negatief sodat ek hom kon vergroot.

Aan die einde van jou matriekjaar vertel jou pa vir sy vriend. My seun het ’n “cum” in al sy vakke behaal. Die ou vra toe: Is dit cum laude? Toe se jou pa nee, cum back.

Hans van Zyl op Olënpark in aksie tydens die 1967 intervarsity. Die foto het op 23 Augustus 1967 in die Wapad verskyn.

Sportverslaggewer met ’n marathon-rekord

Tot en met Februarie 1988, toe Hans van Zyl sy vyftigste verjaarsdag gevier het, word daar bereken dat hy sowat 200 000 cm sportkopie vir die Potchefstroom Herald gelewer het. Hy het in 1963 begin om sporadies vir die Herald te skryf as sportverslaggewer en doen dit vanaf 1969 tot 1997 gereeld.

In die 80 Jubileumuitgawe wat op 3 Mei 1988 verskyn het skryf Hans van Zyl só oor sy verbintenis met die Herald:

Wanneer ek aan die Herald dink, dink ek eerstens aan die mense wat in die sestiger- en sewentigerjare pionierswerk gedoen het om van die koerant die kolos te maak wat hy vandag is. Vanself het dit nie gebeur nie.

Dit was ’n tydperk waarin die Herald van krag tot krag gegroei het. Lees meer oor die Herald in my artikel: https://lenniegouws.co.za/pandemie-maak-herald-gratis/

Hans se kamermaat het by die Herald begin werk en hy skryf só oor hom:

Vroeg in die sestigerjare het ’n jong en voortvarende Schalk Hoogenboezem, pas gewapen met die BA-graad in Joernalistiek, begin advertensies werf. Hy en ek het in ’n agterkamertjie in Tomstraat gebly wat ons teen R10 per maand van oom David Rossouw gehuur en stiptelik betaal het. (Die huis het gestaan op die suid-oostelike hoek van Esselen- en Tomstraat (Steve Biko).) Spoedig het hy sy eerste advertensie “geskryf” en dit het hom laat oorloop van selfvertroue –’n eienskap wat hy vandag nog het.

Hoogenboezem se onvermoeide werksgeesdrif en inisiatief het hom vinnig opgang by die Herald laat maak. Heel gou was hý die baas en ek kan hom moeilik in ’n ander posisie voorstel. Harde werk was sy leuse en dit was geen ongewone gesig om hom Woensdagaande tot laat in die redaksiekantore aan te tref nie waar hy foto’s vir die litografiese proses (wat die ou blokmetode vervang het) geplak het.

Einste Hoogenboezem het ook vir een van die beste ‘koppe’ gesorg waarvan ek weet. Dit was in 1979 toe hy die PU se o.20-rugbyspan afgerig het. Jannie Tiedt was die heelagter en toe die jong heelagter vir die seniorspan gekies word, was hy so heftig teen die beginsel gekant dat hy as afrigter bedank het. ’n Koerant het die geleentheid aangegryp om ’n berig daaroor te plaas onder die opskrif ‘Hoogenboezem uit oor Tiedt’.

Vyf persone wat vanaf die vroeg sestigerjare vir dekades ’n verbintenis met die Herald gehad het is, prof. Willie Prinsloo (deeltydse subredakteur vanaf ongeveer 1960 tot in die tagtigerjare) mnr Schalk Hoogenboezem, (1961-1983 as verslaggewer, redakteur, advertensiewerwer, eienaar en direkteur), mev Lenie van der Walt, (administratief 1964-1979), mnr Hans van Zyl sportkorrespondent (1963-1997) en mnr Adri Juyn (redakteur van landboupublikasies 1973). Foto: Potchefstroom Herald

In 1988, toe Hans 25 jaar reeds vir die Herald sport geskryf het, skryf hy ’n baie kort opsomming van dié kwarteeu se sporthoogtepunte. Dit verskyn op 16 Desember 1988. Te midde van legendariese wedstryde en sportsterre, skryf hy ook van die eerste groepsgeveg in rugby (volgens hom). Dit was in 1967 toe die Franse Hane teen Wes-Transvaal op Olënpark gespeel het.

Vyf jaar later, in 1993 vier Hans sy dertigste jaar as sportkorrespondent vir die Herald en die koerant laat maak ’n spesiale trofee wat aan hom oorhandig word.

In 1993 vier Hans van Zyl sy dertigste jaar as sportkorrespondent van die Herald. By dié geleentheid het die Herald ’n spesiale trofee vir hom laat maak. Dit is in November 1993 deur Gerrie Wessels aan hom oorhandig.

Die Herald van 14 Maart 1997 berig dat Hans van Zyl ’n besondere mylpaal bereik het, toe hy oor sy vierhonderdste provinsiale rugbywedstryd verslag gedoen het.

Die trofee van die Herald nie die eerste toekenning wat hy gekry het nie. In Junie 1989 beveel die PU Rugbyklub by die Wes-Transvaal Rugby-unie aan dat ’n lapelwapentoekenning aan Hans van Zyl gegee word. “Die motivering vir die toekenning is dat mnr Van Zyl oor baie jare op verskeie terreine waardevolle werk vir die Wes-Transvaal Rugby-unie verrig het en nog steeds verrig . . . Hy was en is een van die mees lojale ondersteuners van die unie.”

In Julie 1995 ontvang hy Wes-Transvaalkleure van die Unie vir sy diens as “persman” wat hy al meer as dertig jaar aan die Unie lewer.

Hy het ook twee boeke, die Mielieboersaga oor Wes-Transvaal-rugby en Puk-rugby – 1906-1989 geskryf.

Bestuurder van die Studentesentrum

Die bou en inwerkingstelling van die Hennie Bingle Studentesentrum by die PU was ’n belangrike gebeurtenis. Voorheen het studente byeengekom in die Totiussaal en langsaan was ’n kafeteria waar hulle onder meer tee kon drink en van Turkstra se lang pasteie kon eet. Die nuwe Studentesentrum was aansienlik groter. Benewens ’n aansienlik groter kafeteria, was daar onder meer die Ouditorium met sitplek vir meer as ’n duisend mense, die Amfiteater, waar 3 500 kon inpas, kantore vir die Studenteraad, die reuse binnenshuise sportsentrum en sitkamers waar studente kon kuier.

Bouwerk het in 1974 begin en die Studentesentrum se deure is op 24 Julie 1979 geopen.

Die inwerkingstelling van die nuwe Studentesentrum het op Hans van Zyl se skouers gerus. Hy is in November 1978 as direkteur aangestel en moes sorg dat die bedryf van die kafeteria, die binnemuurse sportsentrum én die Sanlam-Ouditorium seepglad verloop. En dit het hom behoorlik laat rondspring.

Benewens talle ander take was dit sy werk om elke oggend self die grote Studentesentrum oop te sluit en saans dit weer toe te sluit.

In die Sentrum was daar toe 38 buitedeure alleen, verskeie lugversorging- en verkoelingsapparaat, ’n magdom ligskakelaars en twee TV-stelle. Met sluitingstyd moet alles gesluit, afgeskakel en nagegaan word. Hierdie lopie het ’n halfuur tot ’n driekwartuur geduur, wanneer terselfdertyd gekontroleer word dat niemand hulle meer in die gebou bevind nie.

Hans van Zyl en sy persoonlike assistent bekyk die planne van die nuwe Studentesentrum. Hans is aangestel as bestuurder met die inwerkstelling van die Studentesentrum. Die foto is op die eerste vloer van die Sentrum geneem en die Amfiteater is agter sigbaar. Foto: NWU Rekords, Argief en Museum

In die jare toe die PUK en die Bult nog fiets-”georiënteerd” was, was Hans op “Ou Dikwiel” ’n baie algemene gesig. Hans het hierdie fiets reeds in standerd 8 gekry en dit was vir 33 jaar lank sy enigste en later, toe hy reeds ’n motor besit het, steeds sy vernaamste vervoermiddel op die kampus. Foto: NWU Rekords, Argief en Museum

Piet van der Schyff skryf dat ’n minder bekende faset van Hans se lewe sy betrokkenheid by die Potchefstroomse Mannekoor was. Nie alleen was hy die sekretaris van die Koor nie, maar ook die reklameman. Hy het weliswaar talle kere sy bedanking ingedien nadat iemand in die Koor hom aanstoot gegee het, maar later dit maar weer teruggetrek.

Op 4 Oktober 2000 sterf hy na ’n kort siekbed. Sy galblaas is kort tevore verwyder en hy het daarna geelsug opgedoen. Op 6 Oktober 2000 verskyn ’n doodsberig in die Herald. Dit beskryf hom as ’n legendariese figuur op die Puk en in plaaslike rugbykringe.

Volgens dié berig is hy ’n gesogte seremoniemeester – ’n talent wat hy al sedert sy dae as Puk-rasieleier baie jare vantevore ontwikkel het. Later was hy juis in dié hoedanigheid baie gewild by oudstudentebyeenkomste.

Die Herald berig dat hy ’n paar jaar vantevore as die bekendste persoon op die PUK aangewys is. Hy was ook vir ongeveer dertig jaar die kassiere van die Cachet-gemeente van die Gereformeerde Kerk.

Prof Willem Scott skryf in sy berig oor Hans van Zyl: “Ons wat saam met hom gewerk het en sy vriende was, sal hom onthou as ’n lojale vriend en vir sy groot bydrae tot die PUK se bestuur en bedryf. Ons sal hom ook onthou as ’n nederige man . . . as ’n man wie se geloof deur vuur gelouter was – en sterker as baie van ons daardeur gegaan het. Die studente sal hom onthou vir sy humor en geestigheid en iemand wat kon geesvang en inspireer.”