Iemand wat geweet het wat inperking beteken was Beyers Naudé, voormalige predikant van die NG Kerk, Potchefstroom (Moedergemeente) en uitgeworpene tydens die apartheidsjare. Oor sy inperktyd skryf hy later: Die sewe maerste jare van my lewe (het) die sewe verrykendste jare geword.
Naudé se inperking was weliswaar lank nadat hy vir sowat vier jaar in Potchefstroom gewoon het. Vandag dra die straat waarin sy kerk in Potchefstroom staan en waar hy ook gebly het sy naam. Destyds was dit Krugerstraat.
Beyers Naudé is op 9 Mei 1915 tydens die Rebellie gebore en hy is vernoem na genl Christiaan Frederick Beyers, ’n oorlogsvriend van sy pa. Hy het grootgeword in ’n intens konserwatiewe en vaderlandsliewende gesin. So skryf hy in sy outobiografie, My Land Van Hoop – die lewe van Beyers Naudé. Dit is in 1995 deur Human & Rousseau uitgegee.
Sy pa was ’n stigterslid van die Afrikaner Broederbond, ’n geheime organisasie vir Afrikaner uitgelesenes. Later sou hyself die jongste lid van dié organisasie word.
Hy wou eintlik ’n advokaat word, maar het Teologie studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Op 3 Augustus 1940 trou hy met Ilse Weder, ’n afstameling van ’n sendeling van die Morawiese Kerk op Genadendal.
As jong NG-predikant maak hy skouspelagtige vordering. Sy eerste gemeente was Wellington (1940). Daarna is hy na Loxton in 1942, Pretoria-Suid in 1945 en word in 1949 studenteleraar by die NG-gemeente, Pretoria Oos. In 1955 word Potchefstroom sy voorlaaste gemeente en in 1959 word hy in die NG-gemeente, Aasvoëlkop, Johannesburg bevestig, sy laaste gemeente. Hy sterf op 7 September 2004 in Johannesburg in die ouderdom van 89 jaar.
NG-gemeente, Potchefstroom
Die Afrikaanse kerkgeskiedenis van Potchefstroom begin met die koms van die Voortrekkers, of emigrante soos hulle hulself genoem het, na Potchefstroom in 1838. Die eerste kerkdiens was op 26 Maart 1842 en in 2017 het beide die Hervormde Kerk, Potchefstroom en die NG-gemeente, Potchefstroom hul 175 bestaansjaar gevier.
In naam was die meeste van die Voortrekkers lidmate van die Kaapse (NG) Kerk. Een van die redes hoekom hulle die Kaapkolonie verlaat het, was juis ontevredenheid oor die verengelsing van dié kerk.
Vir die Kaapse Kerk was dit belangrik dat die gemeente noord van die Vaalrivier by hulle ingelyf word. Dit word op ’n spits gedryf in 1853, toe daar teen inlywing besluit word. Op ’n vergadering op 22 November 1853 in Potchefstroom is daar besluit dat die kerk voortaan die naam, Nederduitsch Hervormd sal dra. Die naam is in 1858 in die Grondwet van die ZAR opgeneem is en deur die Algemene Kerkraadsvergadering van 1865 bevestig.
Vir die lidmate van die Potchefstroomse gemeente wat die inlywing met die Kaapse Kerk goedgesind was, was die naamsverandering ’n waterskeiding. Hulle besluit in 1866 om ’n nuwe Nederduitse Gereformeerde gemeente in Potchefstroom te stig. Hul eerste leraar was ds F Lion Cachet van Utrecht.
’n Hereniging van die twee kerke het in 1885 plaasgevind, onder die naam die Verenigde Kerk. Ds ML Fick het in 1889 as hulpprediker die gemeente bedien, saam met ds CW du Toit, oorspronklik van die Hervormde Kerk. Die twee groepe het egter nooit regtig vereniging nie en in Oktober 1890 het die Hervormde groep hulle onttrek.
Beyers Naudé in Potchefstroom
’n Berig in die destydse Potchefstroomse koerant, Die Westelike Stem, op 26 Januarie 1955, sê dat ’n rekordopkoms die vorige Sondag opgedaag het om na ds Christiaan Frederik Beyers Naudé se intreepreek te luister. Afgesien van die kerkraad het sowat 800 mense die byeenkoms bygewoon. Hy het ds GD Worst opgevolg wat die gemeente 25 jaar bedien het en wat hom na sy aftrede op ’n plaas in die Lydenburg-distrik gevestig het.
Dié Saterdagaand is Naudé deur ds Prinsloo van die NG-gemeente, Potchefstroom-Noord, ingeseën, terwyl ds Lückhoff van Pretoria dié aand gepreek het. Die bevestiging is ook bygewoon deur ander leraars van Potchefstroom, ook ds HR Barrish van die NG Mooirivier.
Sowat 30 jaar vantevore het die NG Mooirivier weens politieke verskille van die Potchefstroom-gemeente afgestig.
Die berig maak ook melding dat die Naudé-gesin reeds hulle intrek in die nuwe pastorie van die gemeente geneem het.
Rina Byleveld, tans koster van die NG-gemeente Potchefstroom het ds Beyers Naudé persoonlik geken. Sy reken dat hy nie in die nuwe pastorie gewoon het nie, maar in ’n pastorie, agter die Gerrit Worst-saal, wat sedertdien afgebreek is.
’n Gedenkalbum wat in 1967 met die 125ste bestaansviering van die gemeente uitgegee is, vertel só oor Naudé:
Deur sy kragtige prediking en besonder aangename persoonlikheid het hy ’n groot invloed op die geestelike lewe van die gemeente uitgeoefen.
Die uitstaande monument wat hy nagelaat het, is die instelling van die offergawestelsel en grensreëlings tussen Moeder- en Mooiriviergemeentes. Hierdie taak kon alleen na volhardende gebed, taktvolle en moeisame samesprekings ’n werklikheid word.
Rina Byleveld onthou ds Naudé so:
Hy was vir my ’n wonderlike leraar. Sy kragtige prediking en besondere aangename persoonlikheid het ’n groot invloed op die geestelike lewe van die gemeente gehad.
Ons het ’n baie nou band gehad. Ek het vir hom baie tikwerk gedoen toe hy betrokke was by die Sinode. Lui was hy beslis nie, soms het hy die werk laataand by my kom aflewer na hy heeldag by vergaderings in Pretoria was.
Sy vertel dat die offergawestelsel wat hy in gebruik gestel het, berus op die beginsel van “Bring self julle offergawes kerk toe.” Talle lidmate gebruik nog dié stelsel.
Sy onthou ’n insident wat pas na sy aankoms in die gemeente gebeur het. Hy is die Saterdagaand bevestig en het die Sondagoggend sy intreepreek gelewer. Een van die ouderlinge was die posmeester van Potchefstroom.
Hy het ds Bey gevra om die Maandagoggend na die poskantoor te kom. Die posmeester het elke werker op die naam aan hom voorgestel. Ds Bey het met elkeen ’n gesprek gevoer en groot was die posmeester se verbasing toe hy elkeen op die naam groet voor hy die gebou verlaat het!
Hy het ’n wonderlike humorsin gehad. Die skriba het vir hom gesê die tuinier is vir haar ’n kruis. Hy preek toe een Sondagoggend oor “jy moet jou kruis blymoedig dra”. Dié Maandagoggend sê sy vir hom hy het haar ’n vuil streep getrek. Hy was vinnig om vir haar te sê dan moet sy maar haar kruis blymoedig dra. Waarop sy vir hom sê dat die Here nie sê sy moet hom saamneem huis toe nie!
Gewoonlik het hy op ’n Maandagoggend in sy oorpak by die kerk opgedaag. As daar herstelwerk nodig was het hy self ingespring en dit gedoen.
Dit was ’n groot voorreg om hom en sy vrou te ken. Met ons 150-jaar fees in 1992 het hulle by my en my ma tuisgegaan. Wat ’n wonderlike reünie was dit nie!
Soeke na waarheid
In sy eie soeke na waarheid het Beyers Naudé begin Bybelstudie doen oor tekste wat mense gebruik het om apartheid te regverdig. Só vertel hy in sy outobiografie. Tekste wat vir hom uitgestaan het is:
Genesis 1:27 oor die betekenis van die mens wat na die beeld van God geskape is.
Genesis 11:1-9 en die werklike betekenis van hierdie verhaal oor die toring van Babel.
Deuteronomium 32:8-9 oor die grense wat God vir mense en volkere bepaal het.
Handelinge 2:5-11 oor die uitstorting van die Heilige Gees.
Handelinge 17:26 wat handel oor Paulus se uitspraak op die Areopagus dat God al die nasies uit een mens geskep het.
Ander onderwerpe wat hom ook aangespreek het en waaroor hy die Bybel bestudeer het was:
- Die behandeling van vreemdelinge in jou midde en wat daaroor gesê word in Levitikus 19:33 en Jesaja 56:3 en Mark 11:17;
- Jesus en die Samaritaanse vrou soos vertel in Johannes 4:1-42;
- Christus se gebed om eenheid in die kerk in Johannes 17:20-23;
- Paulus se ernstige veroordeling van Petrus oor sy optrede in Antiochië en sy dubbelsinnige houding tenoor nie-Joodse gelowiges en wat daaroor gesê word in Galasiërs 2:11-21 en 3:28.
- In Efesiërs 2:11 sê Paulus ook dat in Christus ons in ’n nuwe mensheid opgeneem is waarin Hy die vyandskap afbreek wat vroeër soos ’n muur ’n skeiding gemaak het (22).
- En ook die betekenis van die ware besnydenis met verwysing na Filippense 3:1-11.
Op 21 Maart 1960 word Suid-Afrika – en die wêreld – geskok deur die gebeure by Sharpeville tydens ’n protesoptog na aanleiding van die paswette. In wat nou as die Sharpeville-opstand bekendstaan is 69 mense deur die Polisie doodgeskiet is en 180 gewond. Vandag is 21 Maart ’n openbare vakansiedag, bekend as Menseregtedag.
Na aanleiding daarvan ontmoet 80 afgevaardigdes van agt Suid-Afrikaanse lidkerke met verteenwoordigers van die Wêreldraad van Kerke vanaf 7 tot 14 Desember by Cottesloe (tussen Vrededorp en Aucklandpark – waar die SABC vandag is). As moderator van die Suid-Transvaalse Sinode van die NG Kerk, help Naudé hierdie byeenkoms reël.
By dié geleentheid word sewentien besluite geneem, waarvan vier daarvan deur Naudé as die belangrikste beskou word:
Gemeenskaplike aanbidding:
Niemand wat in Jesus Christus glo, mag uitgesluit word uit enige kerk op grond van sy kleur of ras nie. Die geestelike eenheid van alle mense wat in Christus is, moet sigbaar tot uiting kom in handelinge van gemeenskaplike aanbidding en getuienis, in gemeenskap en konsultasie oor sake van gemeenskaplike belang.
Gemengde huwelike:
Daar is geen skriftuurlike gronde vir ’n verbod op gemengde huwelike nie. Die welsyn van die gemeenskap en pastorale verantwoordelikheid vereis egter dat die nodige oorweging geskenk moet word aan sekere faktore wat sulke huwelike ongewens maak.
Grondbesit:
Dit is ons oortuiging dat die reg om grond te besit waar hy ook al gedomisilieer is en om deel te hê aan die regering van sy land, deel is van die waardigheid van die volwasse mens, en om hierdie rede kan ’n beleid wat aan nie-blankes permanent die reg tot medeseggenskap in die regering van die land waarvan hulle burgers is, ontsê, nie geregverdig word nie.
Politieke status van Kleurlinge:
(a) Dit is ons oortuiging dat daar in beginsel geen beswaar kan wees teen die direkte verteenwoordiging van die Kleurling-bevolking in die Parlement nie. (b) Ons spreek die hoop uit dat oorweging verleen sal word aan die toepassing van hierdie beginsel in die afsienbare toekoms.
Vel teenstand
In reaksie daarop maak die Hervormde Kerk die beraad en sy besluite af as politiekery en die dagblad die Die Transvaler skryf dat “die konsekwente toepassing daarvan tot die volledige ineenstorting en verdwyning van die Christendom selfs hier aan die suidpunt van Afrika moet lei.”
Die eertydse eerste minister HF Verwoerd was van mening dat dit ’n poging van buitelanders was om hulle in interne SA sake in te meng.
By die daaropvolgende Transvaalse sinode van die NG Kerk sê Naudé dat hy hom nie wil distansieer nie, maar “dat ek vir die formulering en die besluite medeverantwoordelik was. Ek sal enige wysigings in die besluite aanvaar as ons vir onsself op Skriftuurlike gronde rekenskap daarvoor kan gee.”
Die Sinode reageer met ’n besluit waarin hulle sê dat hulle “ingrypende” besluite te “betreur”.
Op 27 Mei 1962 gebruik Naudé 1 Korintiërs 2:2 as teks in ’n preek by die NG-gemeente, Aasvoëlkop: “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, Hom as gekruisigde.” In reaksie daarop blyk dat dit klein groepe in die gemeente simpatiek is, maar ’n aantal kerkraadslede is ongelukkig oor hy oor kontroversiële sake preek. Naudé skryf in My Land van Hoop dat die grootse gros stil was, dat hulle verward en onseker was oor hierdie Skrifbenadering wat verskil van ander preke.
In April 1963 word die Christelike Instituut (CI) gestig, ’n gestruktureerde interkerklike, veelrassig, ekumeniese liggaam, met die doel om eerstens die Bybelse opdrag van Christelike eenheid oor die grense van ras, kleur, taal en kultuur te bevorder sonder ontkenning van die verskeidenheid tale en kultuurgroepe in Suid-Afrika. Die tweede doel is om die Bybelse opdrag van sosiale geregtigheid onder alle bevolkingsgroepe te bevorder.
Beyers Naudé word die pos as direkteur van CI aangebied, wat ’n storm tot gevolg het en kerkrade neem mosies aan om hom te versoek om te bedank, wat hy doen. Tydens sy afskeidspreek by Aasvoëlkop op 22 September 1963, waartydens hy Handelinge 5:29 as sleutelvers kies, sê hy: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.” In My Land van Hoop skryf Naudé: “My antwoord aan hulle was dat as daar tien predikante van die NG Kerk was wat bereid sou wees om in die openbaar hul oortuigings oor kerk, ras en geregtigheid – soos in die Cottesloe-besluite vervat – aan kerkrade, gemeentes, Bybelstudiegroepe en belangstellende lidmate oor te dra, ek bereid was om die aanbod van die CI van die hand te wys.”
Naudé en sy vrou verhuis na Parkhurst omdat die leraar van die NG-gemeente Parkhurst die CI goedgesind was. Hy bly lidmaat van dié gemeente tot hy in 1978 lid word van die NG Kerk in Afrika se gemeente in Alexandra.
Die CI open op 4 November 1963 in Dunwell House in Braamfontein. Aanvalle teen Naudé en sy gesin volg. Dit sluit in telefoonoproepe en sy dogter wat onder onderwysers ly.
Na inligting oor die Broederbond aan The Star-dagblad gelek is, blykbaar deur Naudé, volg dr AD Pont van die Hervormde Kerk met ’n gruwelike persoonlike aanval op Naudé deur middel van dié kerk se tydskrif, die Hervormer. Naudé het die inligting oor die Broederbond aan prof Albert Geyser van Wits gegee om te evalueer wat dié organisasie se invloed op die NG Kerk is. Geyser het die dokumente aan The Star verskaf. Naudé en Geyser maak ’n lastersaak aanhangig en ’n bevel word gemaak dat Naudé R10 000 as vergoeding en vir regskoste moet ontvang. Vanaf die 1960’s het hy maandeliks R65 in afbetaling daarvan ontvang. Teen die tyd sy biografie in die vroeë 1990’s geskryf het, het hy nog steeds betalings ontvang.
Aardsbiskop Desmond Tutu het later gesê dat Naudé ’n melaatse in die Afrikaanse gemeenskap geword het.
Die eerste klopjag van die Veiligheidspolisie op Naudé volg in 1965.
In 1972 ontvang minister Alwyn Schlebusch opdrag om ondersoek in te stel om vier anti-apartheid organisasies te ondersoek, insluitend die CI. Die kommissie staan dus alombekend as die Schlebusch-kommissie. Naudé word gedaag om voor die kommissie te getuig en hy weier. Hy word in hegtenis geneem en bring ’n nag in die selle deur. Hy ontvang ’n boete van R50 of ’n maand tronkstraf. Die boete word deur dr Gert Swart van Paardekraal betaal, ’n medeleraar in die NG Kerk.
Die verslag van die Schlebusch-kommissie word in Mei 1974 gepubliseer. Die kommissie kom tot die gevolgtrekking dat Naudé en die CI is ’n gevaar vir die staat is en dat hulle geweld en revolusie aanstig. Die CI word as ’n geaffekteerde organisasie verklaar en kon nie meer fondse van buite SA ontvang nie. Gevolglik krimp die ledetal van 3000 na 900. Die CI word uiteindelik in 1977 vir goed gesluit.
Voordat Naudé se paspoort in 1973 opgeskort is, besoek hy Duitsland en Brittanje en preek onder meer in die Westminster-abdy, die eerste Suid-Afrikaner wat dié eer te beurt val. Hy ontvang in 1974 weer ’n paspoort en besoek die VSA, waartydens hy die Reinhold Niebuhr-toekenning vir geregtigheid en vrede van die Notre Dame Universiteit in Chicago ontvang. Daarna het hy in 1979 die Bruno Kreisky-toekenning vanuit Oostenryk ontvang.
Op 16 Junie 1976 betoog Soweto leerlinge vreedsaam teen Afrikaans in skole. Die SAP kry opdrag om dit te beëindig en 176 dood sterf in wat later as die Soweto-opstand sou bekendstaan. Dié dag is tans ook ’n openbare vakansiedag en word as Jeugdag gevier.
Vir jare ingeperk
Wydreikende maatreëls volg landwyd. Op 19 Oktober 1976 doen die Veiligheidspolisie weer ’n klopjag op Naudé se huis, verwyder al sy dokumente en hy word ingeperk. Dié beperking is eers op 26 September 1984, opgehef.
Die inperking het behels dat hy:
- ingeperk is tot ’n bepaalde gebied, bv. landdrosdistrik van Johannesburg en hy mag nie na swart, Kleurling- of Indiërwoongebied gaan nie, ook nie na Alexandra om te aanbid nie.
- nie met meer as een persoon op ’n keer sosiaal mag verkeer nie.
- niks mag publiseer nie, geen mening mag uitspreek nie. Naudé beskryf dit as “monddood”.
- nie ’n opvoedingsinstelling fabriek of vakbondkantoor mag betree sonder toestemming nie.
- nie aan ’n diskussie van enige politieke vraagstuk mag deelneem nie.
- dat hy een keer per week by ’n polisiestasie moet aanmeld.
Die gevolg was dat hy geen lewensmiddele kon verdien nie, maar ontvang steun van die Anglikaanse Kerk en kerke in Holland en Kanada.
Die inperking het ’n invloed op Naudé se verdere lewensloop gehad. Hy het geloofwaardigheid onder swart gemeenskap gekry as bydrae tot die stryd om bevryding. Daar is gesê: “As daar nou nog twyfel is dat ons hom kan vertrou is dit nou uit die weggeruim.” Uitgebreide kontakte met lede en leiers van Swart Bewussynsbeweging is bewerkstellig.
Naudé skryf hieroor:
En omdat ek al hoe meer ontdek het hoe min ek werklik weet van wat diep in die hart van die meerderheid van ons bevolking geleef het, het ek begin besef dat ek my inperking moes gebruik om te luister en te leer. So het sewe jaar van luister en leer gevolg en het die sewe maerste jare van my lewe die sewe verrykendste jare geword.
Nadat hy in 1980 ’n lidmaat van die NG-gemeente in Alexandra geword het, word hy in 1987 gelegitimeer as predikant in NG Kerk in Afrika.
In Februarie 1985 word hy hoofsekretaris van SA Raad van Kerke en dien tot Julie 1988, waarna hy opgevolg word deur dr Frank Chikane.
Hy het eredoktorsgrade van agt Suid-Afrikaanse en ses buitelandse universiteite ontvang. Benewens die toekennings hierbo genoem, het hy nog dertien ander ontvang. In 1985 het hy die Robert F Kennedy Menseregte-toekenning saam met Allan Boesak en Winnie Mandela ontvang. Die Orde vir Voortreflike Diens (goud) is in 1992 aan hom toegeken. Nederland het in 1995 hom vereer met die Orde van Oranje-Nassau, terwyl hy in 2001 die vryheid van Johannesburg ontvang het.
Talle strate, soos die een in Potchefstroom, is na hom vernoem, terwyl die munisipaliteit van Graaff-Reinet bekendstaan as die Beyers Naudé Plaaslike munisipaliteit.
Hierdie is net ’n paar van die talle eerbewyse wat Beyers Naudé te beurt geval het, maar vir ’n noemenswaardige tydperk van sy lewe het hy deur vuur geloop om by sy oortuigings te bly. Potchefstroom is bevoorreg dat daar van sy spore hier lê.