Selfs toe hy ’n student aan die destydse Potchefstroomse Universiteit was, nog lank voor hy landswyd en wêreldwyd bekend geword het as skrywer, het André Brink al uitgestaan bo sy studentemaats.
Ek het hom ingesluit in my lys van merkwaardige oud-Potchefstromers wat verdien om ’n straat na hulle vernoem te hê.
Hyself en ander het heelwat oor hom geskryf wat heelwat materiaal vir hierdie artikel verskaf het.
Onder die opskrif “Ons neem afskeid van bekende figuur” skryf die Wapad op 29 September 1959:
André P Brink het alreeds ’n historiese figuur op die Puk geword. In sy geval was dit egter nie die gewone oorsake wat van ander voor hom ’n historiese figuur gemaak het nie. In die sewe jaar wat hy aan die Universiteit studeer het, het hy dubbeld, indien nie meer nie, verrig as wat die bogemiddelde student verrig.
In 1952 het André gematrikuleer aan die Lydenburgse Hoërskool. Sy sewe onderskeidings het hom die hoogste prestasie besorg vir daardie jaar se matrikulante. Op Universiteit het dit egter nie minder daaraan toegegaan nie.
In 1955 lê hy die BA-eksamen met onderskeiding in al drie sy hoofvakke af, waarna hy in 1956 Honneurs-Engels, ook met onderskeiding, en in 1957 UOD, met dieselfde uitslag verwerf. Gedurende 1958 voltooi hy sy MA-verhandeling in Engels oor enkele Suid-Afrikaanse Engelsprekende digters, lê terselfdertyd die Honneurs-eksamen in Afrikaans af en verwerf vir albei onderskeiding. Sy verhandeling ter verkryging van die Meestersgraad in Afrikaans is so pas voltooi onder die titel: Germanicus en die tragedies van Shakespeare.
Mnr Brink tree op die 3de Oktober in Pretoria met mej Estelle Naudé in die huwelik, waarna hulle op die 13de Oktober oorsee vertrek waar André van plan is om die Meestersgraad in Frans aan die Paryse Universiteit te behaal.
André P Brink is aan die breë leserspubliek bekend vanweë die talle kortverhale wat al in die tydskrifte onder sy naam verskyn het. In die afgelope ses jaar is nie minder as 150 van sy kortverhale gepubliseer nie. Hy het ook al drie publikasies die lig laat sien. Met die novelle Die meul teen die hang het André P Brink sy debuut as skrywer gemaak. Verder het reeds verskyn Die Gebondenes, ’n roman en ’n drama, Die band om ons harte. Met sy eerste roman, Die eindelose weë, het André gedurende die sewe jaar wat hy studeer het ’n leidende rol gespeel. Hy was vyf jaar lank voorsitter van die Estarte Letterkundige Vereniging, voorsitter van Thalia en twee jaar voorsitter van die ABKK (Algemene Bestuur vir Kuns en Kultuur), lettereredakteur van Die Besembos en voorsitter van die KJV. Van die Potchefstroomse tak van die Afrikaanse Skrywersvereniging was hy ook drie jaar die voorsitter.
Mnr Brink is tans behulpsaam in die Departement Afrikaans-Nederlands.
Op die verhoog
In Brink se outobiografie, ’n Vurk in die Pad, skryf hy oor sy studentejare. Sy anekdotes oor sy wedervaring by die Thalia Toneelvereniging lui só:
My eintlike vuurdoop in die teater het in my tweede jaar op universiteit begin, toe die Thalia Toneelvereniging Dorothy Sayers se stuk Busman’s Honeymoon aangepak het. Die blote feit dat ’n Afrikaanse universiteit met ’n Engelse stuk op toer sou gaan, was nie net gewaagd nie, maar vermetel. My taamlik onvaste Engels met ’n sterk Afrikaanse aksent is nog verder in die wiele gery deur my algehele gebrek aan verhoogondervinding, terwyl my patetiese onkunde oor liefdesake nie veel bygedra het tot my vertolking van Lord Peter Wimsey se pogings om sy bruid, Harriet, die hof te maak nie. . . Maar ná twee maande van harde arbeid onder die gemoedelike maar veeleisende toesig van ons Engelse professor, RE Davies, het ’n spannetjie rou Afrikaners darem die stadium bereik waarop hulle hul weergawe van Engelse maniere . . . kon blootstel aan ’n publiek wat gelukkig nie alte diskriminerend was nie.
Talle studente wat oor die jare aan toere van PU-geselskappe deelgeneem het, sal simpatie hê met hulle wedervaringe op die platteland:
Op Greytown in Natal moes drie van ons hoofsaaklik self sien kom klaar nadat die vrou van die huis toe pas met ’n minnaar die hasepad gekies en haar gebroke man aan die bottel oorgelaat het, sodat haar seuntjie van tien na die huis moes omsien; op Standerton in die Transvaal het ’n eensame oubaas van tagtig my en my vriend Christie Roode onderwerp aan eindelose ure van Boeremusiek op ’n horingou grammofoon wat 78 rpm plate teen 75 of 76 gedraai het terwyl die kos in die oond verbrand.
Elders skryf hy:
Ek het Christie al op my heel eerste dag op universiteit ontmoet. Hy was die seun van die professor van musiek; en op die aand van die dag waarop ons ontmoet het, het hy my na hulle huis oorgenooi vir ’n aand van musiek. Ek het begin met my enigste vertoonstuk, Liszt se tweede Hongaarse Rapsodie. Daarop het hy gevolg met Chopin se Grande Polonaise. Daar en dan het ek besluit dat ek nooit weer my vinger op ’n klavier sou lê nie; en ek is Christie nog steeds dankbaar vir al die vermorste ure wat hy my gespaar het, en die talle gehore wat hy gered het van ’n aaklige dood van verveling.
André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 in die Vrystaatse dorpie, Vrede, gebore waar sy pa landdros was. Hy het twee susters, die jeugverhaalskrywer Elsabé Steenberg (1938-1996 en Marita, en ’n broer Johan. Hulle het dikwels verhuis en onder meer op Jagersfontein, Brits, Douglas, Sabie, Lydenburg, Potchefstroom en Bothaville gewoon. Sy pa was hooflanddros in Potchefstroom en het as sulks in die Drosdy gebly.
Damaskus-ervaring
Na hy aan die PU studeer het, is André Brink na Parys, Frankryk, waar hy aan die Sorbonne studeer het. Dit is hier waar hy ná die gebeure by Sharpeville op 21 Maart 1960 toe polisie op betogers losgebrand het en 69 mense dood, soos wat hyself sê “’n Damaskus-oomblik” beleef het. Hy skryf daaroor in ’n Vurk in die Pad: “Ná my aanvanklike ontnugtering en mislikheid oor Sharpeville het ek baie fluktuasies van oortuiging en onsekerheid beleef. Daar was selfs oomblikke dat ek begin wonder het of daar nie op stuk van sake iets heroïes was omtrent die Afrikaner se koppigheid nie. . . Maar meer as gereeld is ek bedruk deur die skokgolwe van Sharpeville wat bly voortduur het en my dag en nag bly teister het.”
Hy skryf dat daar insidente en mense in Potchefstroom was wat die onbewuste begin hiervan was:
Ek onthou dat een of ander vereniging aan ons universiteit in my vierde of vyfde jaar ’n swart professor genooi het om ons te kom toespreek. As ek reg kan onthou was dit professor ZK Matthews, gerespekteer as ’n man met besonder gematigde en tegemoetkomende oortuigings (en daarom verwerp deur baie swart leiers), maar vir ons was hy ’n vreemdeling so uitheems soos Langenhoven se Loeloeraai. Dit was die enigste keer in my jeug dat ek ’n swartman teëgekom het wat nié ’n bediende in iemand se huis of ’n arbeider op iemand se werf was nie. Die blote feit dat ’n swartman ’n onderwyser, of dokter, of prokureur – om nie te praat van ’n professor nie – kon wees, sou nooit eens by my opgekom het nie. En Matthews was uniek, en sy verskyning op die kampus te vlugtig, om enigiets aan die patroon van my denke in die eerste twintig jaar van my lewe te verskuif.
En elders skryf hy:
Die probleem was dat ek gewoon nie die guts gehad het om by die “gebaar” verby te kom nie; buite die laer het ek dit nog nie regtig durf waag nie. Dit was veels te donker en onseker daar buite, en ek het mos al gesien wat word van die ware ketters as hulle hulle wérklik teen die establishment draai – mense soos LJ du Plessis – professor in die regte aan die PU, wat al vroegtydig gewaarsku het dat apartheid nie kon werk nie – en kort daarna Beyers Naudé. Die meeste van hulle is fyngemaal en uitgewerp.
LJ du Plessis se lot het hom lank bygebly en hy skryf nog daaroor:
Gedurende my studentejare op Potchefstroom het ons van naby gesien hoe ’n hooggeagte professor in die Regte, LJ du Plessis, wat dit durf waag het om te sê dat Luthuli dalk nog president van Suid-Afrika sou kon word, eenvoudig vermorsel is deur die volle geweld van die staat wat daarin geslaag het om hom baie gou uit te werk en van sy kollegas en studente te isoleer.
Indrukwekkende dosente
Prof LJ (Wicus) du Plessis (1897-1968). Hy was die eerste dosent in ekonomiese vakke en ook in regsvakke. Sy studente het hom as die slimste man op aarde beskou. Sy pa was ’n dosent aan die Teologiese Skool in Burgersdorp en hyself het in 1917 ’n BA-graad aan die Teologiese Skool in Potchefstroom se Literariese Afdeling behaal.
Na ’n Honneurs in Klassieke Tale (Grieks en Latyn) aan die Transvaalse Universiteitskollege (Tukkies), is hy in 1918 aangestel as lektor in die Klassieke Tale by die Teologiese Skool. Hy het ’n MA-graad in die Klassieke in 1923 behaal, in 1931 die MEcon-graad en in 1934 ’n LLB.
Een van sy grootste prestasies was dat hy in die 1930’s die sekretaris van die Bybelvertalers was. Met sy kennis van Grieks en Afrikaans, kon hy waardevolle aanbevelings maak. In 1934 was hy saam met vier-en-dertig ander Afrikaners stigterslid van Volkskas (tans deel van ABSA-bank) en was elf jaar daarna voorsitter van die direksie.
In 1948 het hy die akademie verlaat om ’n sakeman te word. Nadat hy in 1951 gekies is as die eerste voorsitter van die Konvokasie van die selfstandige Potchefstroomse Universiteit, was prof Wicus in 1953 terug by die Universiteit – weer as professor.
Hy het in 1961 weens gesondheidsredes vroeër afgetree en in 1963 ’n leukotomie ondergaan. Dié breinoperasie was toe die voorpunt van tegnologie, maar vandag word dit beskryf as ’n ruwe, onwetenskaplike en gevaarlike prosedure.
Hy is in 1968 op Potchefstroom oorlede. Hierdie man, wat ’n baanbreker was, gereken is as ’n denker van formaat en deur die Eerste Minister, dr DF Malan, oorweeg is as sy opvolger, is in sy latere lewe deur psigologiese probleme geteister. Tog moet hy steeds gereken word as een van die mees fenomenale mense wat ooit aan die Universiteit verbonde was.
Brink het ook met TT Cloete koppe gestamp:
Gedurende my studentejare was een van my mees gewaardeerde mentors in die literatuur professor TT Cloete. Heelwat van my lewenslange passie vir literatuurteorie het ek aan hom te danke. My politieke Damaskus in Parys – eers my ontsteltenis oor Sharpeville; jare later my reaksie op die studenteopstande – het hom klaarblyklik vervreemd, sodat hy van toe af geglo het dat ek begin het om die kommunisme te bevorder en ’n vyand van die staat geword het. . . Jare daarna is die lug tussen my en prof Cloete ook gesuiwer, in dié geval in ’n gees van begrip en gulhartigheid, ongetwyfeld geïnspireer deur al die politieke veranderinge in die land; en met verloop van tyd is ek selfs genooi om ’n TT Cloete-lesing aan die Potchefstroomse Universiteit te lewer.
Nog ’n dosent wat Brink beïndruk het was prof DW Kruger.
. . . een van die merkwaardigste lesings wat ek ooit bygewoon het, (was) gelewer deur prof DW Kruger, beroemd vir sy oortuigings ten gunste van apartheid. Maar hy was ook ’n ware historikus wat sy lewe lank naarstig op soek gebly het na die historiese waarheid (wat dit dan ook al mag wees). En in dié lesing, gelewer ter voorbereiding van ’n kursus oor die Franse Revolusie, het hy die destydse situasie in Suid-Afrika vergelyk met Frankryk op die vooraand van die Revolusie. Dit was ’n kragtoer. En juis omdat Kruger se getuigskrifte so onbesproke en indrukwekkend was, het dit tog by voorbaat ’n spasietjie in my denke ingeruim vir wat later moes gebeur.
Die publikasie van Brink se Lobola vir die lewe in 1962 het groot opspraak verwek. JL van der Walt het met sy ouers gaan gesels en daarna het hierdie artikel in die Besembos van 1963 verskyn.
Sentimentele goud
In 1984 skryf Brink ’n brief aan die PU vergesel van ’n foto wat hy as “sentimentele goud” beskryf. Dele van die brief is in April 1984 in die PU-Kaner, oudstudentekoerant van die PU, gepubliseer.
Dit val nie binne die kader van hierdie artikel om meer oor André P Brink te sê nie. Daar is genoeg te lese oor sy meer beroemde lewe ná sy Puk-jare.
* Op 20 Maart het ek ‘n e-pos ontvang van dr Liz van Aswegen wat my daarop wys dat ek hier ‘n fout maak. Sy skryf: