In 2017 het ek met die VLU gesels oor snaakse en sensasionele insidente in Potchefstroom se verlede. Daar is so baie dat ek dit in drie verdeel. Hier is die eerste.
Potchefstroom – kort tydlyn
• 1838 – Gestig
• 1842 – Verhuis vanaf Oudedorp na huidige terrein
• 1880/1 – Beleg van die Fort
• 1899-1902 – Anglo-Boereoorlog: Potchefstroom word drie keer beset. Eerste Pride of India-bome word geplant om inwoners daaraan te herinner dat Potchefstroom nou onder Britse beheer staan.
• 1905 – Teologiese Skool verhuis na Potchefstroom
• 1914-1918 – Eerste Wêreldoorlog
• 1918 – Groot Griep: Dit word bereken dat sowat 500 mense in die Potchefstroom-distrik sterf, een daarvan ’n student van die Teologiese Skool.
• 1933/34 – Groot depressie: ’n Verslag van die Carnegie-kommissie dui aan dat Potchefstroom, naas Graaff-Reinet die grootste aantal armblankes in die land het.
• 1939-1945 – Tweede Wêreldoorlog: Boumateriaal in Potchefstroom is skaars. Die stadsraad skenk sowat 387 000 hektaar aan die Weermag noordwes van die dorp. In April 1940 open die huidige vliegveld daar.
• 1951 – Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys word ’n onafhanklike universiteit
• 1958-1975 – Ikageng is in 1954 as dorpsgebied verklaar en daarna volg verskuiwings ingevolge Groepsgebiedewet daarheen en na Promosa en Mohadin.
• 1994 – Nuwe politieke bedeling: Die ANC wen die kiesafdeling vir Potchefstroom met 59,98 % van die stemme. Daarna volg die Nasionale Party met 20,43 % en die Vryheidsfront met 15,4 %.
• 2004 – NWU gestig
Die wilde diere in ons midde
So twintig jaar na Potchefstroom se stigting, dus ongeveer 1858, is die jong mans van die dorp elke Saterdag opgekommandeer om wolwe te gaan uitroei. So skryf AJ van der Walt in Vastrappers. “Dit was toe glo ’n narigheid snags hier langs die riviere soos die wolwe tekere gegaan het met hulle getjank en gehuil. Eenmaal het hulle selfs ’n kalf op die teenswoordige markplein (agter die Stadsaal) gevang.”
Een van die pioniers van Potchefstroom was Christoffel Lombaard aan wie die plaas Elandsheuwel, later die Grimbeeks s’n, behoort het. Hy het ongeveer 1849 in Potchefstroom aangekom.
Vastrappers vertel: “So vertel die ou heer Lombaard ons dat in 1850 – dus 12 jaar na die stigting van Potchefstroom – eenmaal ’n spannende leeuwejag plaats gevind het op ’n plek 15 minute rydens van die Oosbrug af (brug oor die Mooirivier in James Moroka-rylaan). Omtrent 5 minute lopens van die ou opstal van wyle Kapt Bayley (eintlik Baillie) waar nou Mnr A Boshoff woon is ’n soort van ’n koppie . . . Wel daar op dieselfde plek is in die jaar ’50 op ’n dag nie minder als 8 (ag) leeus doodgemaak.”
Kaptein Hugh Baillie, na wie Bailliepark vernoem is, se opstal was wes van MC Roode-rylaan, oorkant die afdraaipad na Roots.
Van der Walt skryf verder dat so drie jaar later het ’n leeu hom in die rietvlei by die Suidbrug, die brug oor die Mooirivier op die pad na Skandinawiëdrif en Schoemansdrif, tuisgemaak. Hy het van tyd tot tyd ’n bees of ’n skaap buitgemaak totdat daar ’n jagparty georganiseer is om hom te gaan vang. Dié het egter op ’n mislukking uitgeloop, want die leeu het in die digte rietbos – wat so groot was dat dit ’n uur geneem het om rondom dit te stap – gaan skuil.
Hy het een keer uitgespring en amper ’n ruiter omgegooi, maar het toe ontsnap.
Einste oom Christoffel het ook ’n ontmoeting met ’n leeu gehad by Vaalkop in die Vredefortkoepel toe hy daar gaan houtpale saag het. Hy is vergesel van ’n Engelsman. Terwyl die Engelsman hout kap, het die oom na ’n klompie bome daar naby gestap en daar op ’n hele klomp leeus afgekom. Die oom het laat spaander en is deur ’n leeuwyfie agternagesit. “Hoe harder ons vriend hardloop, hoe harder die leeu.”
Die Engelsman het, byl in die hand, hom heeltemal stokstyf geskrik. Die oom skreeu vir die Engelsman om gereed te wees om die leeu met die byl te kap as sy spring. “Hare Majesteit gaan egter baie naby die twee mans op haar hurke sit. Al skurende en wrywende op haar agterlyf sit sy daar met glinsterende oë.” Na ’n rukkie begin sy rondom haar kyk en spring op en hardloop terug na waar sy vandaan gekom het.
Fernando Da Costa Leal – 1870
In 1870 het Fernando da Costa Leal Potchefstroom en die Transvaal besoek. Sy verslag is in die Staatskoerant van die Provinsie Mozambiek gepubliseer.
The principal square of Potchefstroom offers a picturesque sight to the stranger at the time of Nachtmaal (the same may be seen in Pretoria and other places). Everywhere are seen the heavy wagons of the Boers and square canvas tents which look like small houses.
The farmers with their large felt hats adorned with ostrich feathers and women with big headdresses with flaps go from shop to shop which are all of them full of people from morning till night.
The (church) bell rings for market and also for church. Weddings and christenings are numerous. At one of the doors is seen a long procession of mothers who are anxious to have their babies christened.
At another door youths of 17 or 18 conduct to the altar brides of 14. At night every tent on the square is lit with a lamp and all those happy families rest from the days’ devotions and toll and lift up their voices singing psalms. Imagine the effect if you can: Oxen tied in groups near every wagon, the white tents lit up inside contrasting with the dark of the night, and psalm singing going on in 50 tents all singing different psalms at the same time.
The Boers are very fond of talking about religious matters and know how to defend their opinions with quotations from the Bible. They strictly keep the Sabbath which they spend, whether at home or in town, by going to church singing psalms.
Oom Japie se groot broek
Volgens Miems Lamprecht van die Potchefstroom Museum, is hulle “snaakste” besitting Oom Japie se Groot Broek. Oom Japie het sowat ’n eeu gelede geleef en was ’n gewigtige man. Jare gelede het vier skoolseuns met gemak in die broek geklim vir ’n foto wat in die Herald verskyn het.
Oom Japie was ’n Potchefstromer wat ywerig deelgeneem het aan die Anglo-Boereoorlog.
Sy swaarlywigheid het egter sy spoed gebreek. Oorlewering wil dit hê dat oom Japie se kommando by geleentheid op vlug was voor die Engelse. Oom Japie het agter geraak en is deur die Engelse ingehaal.
Hy het in ’n stroompie gaan lê en gemaak of hy dood is. Die verbygaande Engelse wou seker maak hy’s dood en het oorweeg om hom met ’n bajonet te steek. “Nee, dis nie nodig nie,” sê die een Engelsman vir die ander een, “hy’s lankal al dood, kyk hoe opgeblaas is hy.”