Sarel Yssel – klein van statuur, groot van gees

by | Nov 30, 2024 | Forgotten Heroes, People, Places | 0 comments

Vir bykans ’n eeu was die historiese gewelhuis, net buite Potchefstroom op pad na Carletonville die tuiste van oom Sareltjie Yssel.

Vandag het sy huis ’n nuwe baadjie. Dit is uitgeskud, opgetooi en nuut gemaak. In die tuin speel kleuters in ’n moderne speelgrond terwyl hulle jong ouers ’n hoogs-gewaardeerde rus kan ervaar in ’n veilige en moderne omgewing.

Sarel Yssel se huis is nou een van Potchefstroom se jongste restaurante, vida e caffé. Dit het op 7 Oktober vanjaar sy deure geopen.

Een van die jongste toevoegings tot die kuierplekke in Potchefstroom was voorheen die huis van een van Potchefstroom se langslewende inwoners.

Sarel Yssel (1882-1985) het al sy tydgenote oorleef en was teen die einde van sy lewe waarlik die verpersoonliking van ’n ander era. In 1982, toe die kollig begin val het op die versorging van bejaardes, was hy as oudste Potchefstromer die “toonbeeld” van die beweging om beter diens aan bejaardes te verskaf. Uiteindelik is hy in 1985 dood kort na hy sy 103de verjaardag gevier het.

Ek was ’n studente-verslaggewer in 1984 toe ek gestuur is om met oom Sareltjie, soos almal hom geken het, te gaan gesels. Die berig het op 3 Julie 1984 in die Potchefstroom Herald verskyn:

Niks ontgaan sy fletsblou oë nie en daagliks fynkam hy koerante op soek na nuus, iets wat hy die grootste gedeelte van sy 102-jarige leeftyd gedoen het.

Hy is oom Sarel Yssel, Potchefstroom se oudste inwoner. Oom Sarel verjaar op 4 Julie, saam met die VSA, en word dan 102 jaar oud.

Ten spyte sy 102 jaar is hy nog baie gesond. Oom Sarel lees sonder ’n bril, was nog nooit in ’n hospitaal nie en versorg homself. Hy is egter baie doof.

Oom Sarel is een van agt kinders en is in 1882 gebore op die plaas Elandskuil in die Ventersdorpse distrik. Hy was een van die eerste leerlinge van die Teologiese Voorbereidende Skool, wat in 1908 op Potchefstroom gestig is.

Hy was later hoof van die Laerskool Gimnasium, wat in 1918 na die Noordskool verskuif is. Op aanbeveling van oom Sarel het die skool se naam President Pretorius geword.

Hy het op 46-jarige ouderdom, in 1928, sy MA verwerf aan die Potchefstroomse Universiteit.

Oom Sarel se vrou Philippina (néé) Schoeman, is in 1971 oorlede.

Uit die huwelik is vyf kinders gebore, mev A Arnoldi van Potchefstroom, mev Regina van Niekerk van Pretoria, mev Susan du Plessis van Parys, mnr Gideon Yssel, wat oom Sarel tans versorg en mnr Ernst Yssel van Pretoria.

Veg in Anglo-Boereoorlog

Sarel Yssel was 17 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het. Hy het deelgeneem aan die slag van Magersfontein wat op 11 Desember 1899 naby Kimberley plaasgevind het. Onder leiding van generaals Piet Cronjé en Koos de la Rey het die Boere ’n beduiende oorwinning oor die Engelse behaal. Voor Sarel Yssel in 1985 oorlede is, was hy die laaste oorlewende persoon wat aan daardie slag deelgeneem het.

Sarel Yssel, in sy jong dae. Foto: NWU Rekords, Argief en Museum

Nadat hy aan die Literariese Departement van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk studeer het, word hy in 1912 aangestel as assistent in die Voorbereidende Skool (die afdeling van die Teologiese Skool het tot stand gekom om skoliere wat nie kwalifiseer vir tersiêre onderrig nie “voor te berei” daarvoor). Lees meer by: https://lenniegouws.co.za/theological-school-complex-heavy-with-history/

Dié skool het in 1907 tot stand gekom en in 1918 is die hoër- en laer-afdelings geskei met Sarel Yssel as die eerste hoof van die Laer Gimnasium.

Die personeel van die Potchefstroom Gimnasium in 1917. Sarel Yssel staan agter tweede van regs. Die foto het verskyn in Potchefstroom Gimnasium 1907-1982.

Sarel stel die “koe-stelsel” voor

In daardie jare was die voortbestaan van die Teologiese Skool in die weegskaal en was dit reeds welbekend dat die Gereformeerde Kerk nie meer in staat was om die skool in stand te hou nie. In 1919 het die Literariese Departement van die Teologiese Skool van dié instansie afgeskei om die Potchefstroomse Universiteitskollege te word en is daar toe regeringsondersteuning gekry.

In 1912 was Sarel Yssel ook ’n diaken in die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom. Hy het voorgestel dat boere ’n kalf aan die Skool “skenk”, maar eers die kalf grootmaak en wanneer dit verkoop word die opbrengs aan die Skool te oorbetaal. Dit het later bekendgestaan as die “Koe-stelsel”. Het Kerkblad (die amptelike mondstuk van die Gereformeerde Kerk) skryf op 1 April 1912:

‘t Koestelsel heeft nu een bepaalde vorm gekregen. Toen Diaken Ijssel van Potchefstroom daarover schreef, gevoelden velen dat die veeschenking een goed middel is om onze Theologiese Skool op te bouen. Het vee word gegeven op voorwaarde dat de aanteelt verkocht en de opbrengst aangewend zal worden om de te benoemen Professor(en) te salieren. Ook het geld is gegeven voor een vaste rentefonds.

In Wonderdaad…! skryf Piet van der Schyff dat die “Koe-stelsel” in die eerste helfte van daardie dekade “skouspelagtige finansiële ondersteuning openbaar het” en selfs na dertig jaar steeds opbrengste opgelewer het.

Op 19 Januarie 1927 smelt die Laer Gimnasium , met Sarel Yssel as hoof met 242 leerlinge, met die Noordskool saam. Op voorstel van mnr Yssel word die naam van die skool in 1929 die Laerskool President Pretorius.

Sarel Yssel en sy vrou Philippina, alombekend as Tant Phil, het in Tomstraat (Steve Biko) gewoon, ongeveer waar die ABSA Bank later was. So vertel sy kleindogter, Thilde Venter. In die vroeë 1930’s is die huis langs die Carletonville-pad waarin Sarel Yssel tot en met sy dood in 1985 gewoon het, gebou en het hulle daarheen verhuis..

So het oom Sareltjie se huis gelyk, waarskynlik kort na dit voltooi is. Foto: Theo Venter

Volgens Theo Venter, Thilde se man, is die fondamente van die huis so stewig gelê dat daar ’n tweede verdieping gebou sou kon word. Oom Sarel en Tant Phil se oudste dogter, Susan du Plessis, was jare lank in beheer van die kraamafdeling van die Potchefstroom Hospitaal. Die ideaal was dat sy dié tweede verdieping as ‘n kraamkliniek sou benut. Daarvan het egter niks gekom nie.

Die klipfondament, wat oom Sareltjie laat bou het sodat die huis ’n tweede verdieping kon kry, is sigbaar. Oorspronklike skoorstene en die kenmerkende gewels van die huis het behoue gebly toe die huis onlangs omskep is.

Oom Sareltjie en tant Phil en hulle kinders. Die foto is waarskynlik in die 1950’s geneem. Foto: Theo Venter

Oom Sareltjie het ’n melkery op die hoewe bedryf, vertel Thilde. Die hoewe het toe gestrek vanaf die Carletonville-pad tot teen die rivier, terwyl grond oorkant die pad as weiveld gebruik is. Sy het as kind smiddae by haar ouma en oupa gebly en onthou hoe hulle die koeie oor die Carletonville-pad moes jaag na die stalle wat onder naby die rivier was.

Oom Sarel en sy vrou, tant Phil. Die foto is waarskynlik geneem kort voor haar dood in 1971. Foto: Theo Venter

Raak aan die bome en ek skiet

Die meeste van oom Sarel se tydgenote het al lepel in die dak gesteek toe hy op 92-jarige leeftyd op pad was om werkers te skiet wat die eikebome wat langs sy hoewe gestaan het wou uithaal. Die Herald van 21 Februarie 1975 berig dat die pad verbreed moes word. Toe die werkers opdaag om die bome uit te haal, het oom Sareltjie sy geweer gaan haal en hulle daarmee gedreig as hulle aan sy bome sou vat.

Oom Sarel wys dat hy gereed is om enigiemand met sy haelgeweer te klits wat sou waag om sy geliefde eikebome kwaad aan te doen. Die foto was op die voorblad van die Herald van 21 Februarie 1975.

In daardie jare – nes vandag – was die eikebome van Potchefstroom ’n teer sakie. ’n Rukkie later het die bome in Tomstraat (Steve Biko) tussen Borcherd- en Meyerstraat amper in die slag gebly toe daardie straat verbreed moes word. Die Potchefstroomse Onderwyskollege het aansoek gedoen dat Hoffmanstraat tussen Borcherd- en Meyerstraat gesluit word om deel van hulle kampus te vorm. Sterk teenkanting van Potchefstromers het dit voorkom en kort daarna is die Historiese Eikelaan van Potchefstroom tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

Dit is ’n groot jammerte dat die bome langs oom Sareltjie se hoewe nie by dié verklaring ingesluit is nie. Met die bou van Mooirivier Junction en die garage langsaan het van die eeu-oue gesonde eikebome in die slag gebly om vir dié ontwikkeling plek te maak. Langs die drieverdieping woonstelgebou langsaan staan nog van die bome wat oom Sareltjie met sy lewe wou beskerm. Dié arme bome is ook besig om ’n stadige dorsdood te sterf, want reg rondom die bome is plaveisel en water kan nie die wortels bereik nie. Daar word geen poging aangewend om hulle te bewaar nie.

100 jaar oud in Jaar vir Ouer Persone

In 1982 is die Jaar vir Ouer Persone wêreldwyd gevier. Terselfdertyd was die diensbare en ywerige Wendri Eloff by die Studente Gemeenskapsdiens van die Potchefstroomse Universiteit betrokke. In Mei is ’n onthaal vir bejaardes in die ou stadsaal gehou. Die bejaardes moes outydse klere aantrek en kerke en welsynsorganisasies het gehelp om kaartjies te verkoop.

Oom Sareltjie was toe die oudste inwoner van Potchefstroom en het daardie jaar ’n eeu oud geword. Hy was een van die eregaste by dié geleentheid.

Bejaardes in outydse klere het die onthaal vir bejaardes in Mei 1982 bygewoon. Links is mev Wendri Eloff en regs mnr Sarel Yssel, toe die oudste inwoner van Potchefstroom. Sy honderdste verjaardag is op 4 Julie 1982 gevier. Foto: NWU Rekords, Argief en Museum

In 1982 het Gimnasium hul 75ste bestaansjaar gevier en die boek Potchefstroom Gimnasium 1907-1982 gepubliseer. Hierdie boodskap van oom Sareltjie, wat toe 99 was, het daarin verskyn.

My foto van oom Sarel Yssel het op 3 Julie 1984 op die voorblad van die Herald verskyn. Oom Sarel kon toe nog die Herald van hoek tot kant deurlees, maar was feitlik heeltemal doof.

Sarel Yssel was kort voor sy dood op 11 Augustus 1985 vir die eerste keer in sy lewe in die hospitaal opgeneem. Hy is begrawe in die Potchefstroom Begraafplaas.

Nuwe lewe vir ou huis

Die afgelope jare het daar ongekende ontwikkeling plaasgevind rondom oom Sareltjie se huis en daar is gevrees dat dié historiese woning ook in die slag gaan bly, nes baie ander in Potchefstroom. Die ideaal sou wees dat die huis in sy oorspronklike vorm bewaar bly, maar dit het soveel keer in Potchefstroom se geskiedenis al geblyk onmoontlik te wees.

Veranderings wat aangebring is om die huis in die vida e caffé te omskep het wel gesorg dat die huis behoue bly, maar talle van die kenmerke van die huis, soos die houtvensters en stoep het in die slag gebly.

Theo Venter het hierdie foto geneem terwyl oom Sareltjie se huis in die vida e caffé omskep is.

Die oorspronklike staalplafon in oom Sarel se huis het behoue gebly.

Puriste sal dalk na hulle harte gryp as hulle sien hoe baie aan die historiese huis van oom Sarel Yssel verander is toe dit in die vida e caffé omskep is. Tog het die huis behoue gebly en het ’n tweede lewe gekry as tuiste vir ’n moderne kuierplek wat sy deure oopgegooi het vir jong ouers en hulle woelige kleuters.