Erfenisgeboue by Landboukollege word murasies – so het dit eers gelyk

by | Jun 28, 2022 | Places | 0 comments

Ek lees vanoggend die berig met foto’s op Maroela Media (https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/toestand-van-potch-landboukollege-skok/) en my hart is seer! In 2016 het ek ‘n berig vir die Potchefstroom Herald geskryf oor die landboukollege se vervalle geboue en het dit ook ingesluit in my boek, Stories van Potchefstroom. Die berig word hieronder herhaal. Ek het ook sedert my boek verskyn het nog foto’s gekry van hoe dit daar gelyk het. Ek plaas dit ook hier. Dié foto’s is poskaarte uit Gawie van der Walt se versameling.

My artikel van 2016:

(Herald – 23 Junie 2016)

Die stadige verval van twee van Potchefstroom se statigste nasionale gedenkwaardighede word deur talle Potchefstromers met groot hartseer gadegeslaan. Dit is die ou administratiewe gebou by die Landboukollege en die Selborne-gebou langsaan.

Boonop blyk dit dat geld daarvoor geoormerk is nooit gebruik om die geboue te restoureer nie.

Susan Cilliers berig Dinsdag 21 Junie in Beeld dat: “Die provinsiale departement van openbare werke het in 2010 gesê R6,8 miljoen sal aan die opknapping van die ou administrasiegebou bestee word. Die departement het toe ook beloof herstelwerk aan die Selborne-saal kan danksy die goedgekeurde R9,4 miljoen reeds in Mei 2010 begin.”

Hiervan het heeltemal niks gekom nie en in 2014 het Andries Heydenrich, ’n Meestersgraadstudent in Kommunikasiestudies en student van prof Attie Geber, dié geboue verfilm. Sy dokumentêr hieroor is die afgelope week op die Internetkanaal, youtube.com gepubliseer en die skakel daarvan wat op Facebook geplaas is, is reeds deur gebruikers in die VSA versprei (kyk daarna by https://youtu.be/wk3ziaQSs44).

Die oudste van die twee is die administrasiegebou of “kasteel”, soos dit ook bekend staan. Dié gebou met sy twee gewels en kenmerkende kloktoring is in 1907 betrek en in 1992 ingerig vir die skakelafdeling van die Hoëveldstreek.

Die Ou Administrasiegebou by die Landboukollege, met sy kenmerkende kloktoring, is die oudste gebou op die terrein. Die verklaarde nasionale gedenkwaardigheid staan al dekades leeg en is saam met die Selborne-gebou in ’n erg vervalle toestand. Die foto bo is deur August D’Ange D’Astre geneem en toon die gebou kort nadat dit gebou is. Die foto onder is in 2008 deur myself geneem. Vergelyk dit met die jongste foto’s op Maroela Media.

Die Selborne-gebou, in die Neo-Kaaps-Hollandse styl gebou, is beskryf as die statigste gebou op die terrein.

Benewens sy sonderlinge voorkoms, is Selborne-gebou ook van historiese belang omdat die Afrikaner Beestelersvereniging, deur bemiddeling van die eerste dosent, Alex Holm, in dié gebou in 1912 gestig is.

Die oudste gedeelte van die geboue is in 1909 voltooi en is moontlik gemaak deurprivate bydraes van £2 380. ’n Lesingsaal, klaskamer en laboratorium is gebou.

In 1911 is besluit om die gebou te vergroot. Lord William Selborne, die Hoë Kommissaris van Suid-Afrika, het £3 000 ingesamel vir die vergroting van die gebou en dit is na hom vernoem. Selborne was ’n entoesiastiese boer en het groot aanklank onder die boeregemeenskap gevind.

Die Selborne-gebou is beskryf as die statigste gebou by die Landboukollege. Dié foto toon die gebou in die 1920’s. In 1925 het die Prins van Wallis, tydens sy besoek aan Potchefstroom, ’n eikeboom voor die gebou geplant (Foto: PM).

Dié geboue is saam met die Alex Holm-saal in 1976 tot nasionale gedenkwaardighede verklaar. Toe het dit gelyk asof dié geboue vir die nageslag behoue sal bly, maar ’n skamele 23 jaar later, in 1999 berig die Potchefstroom Herald die gebrek aan fondse om hierdie gedenkwaardighede te restoureer. Volgens dié berig was die geboue laas in 1983 geverf en heelwaarskynlik nooit weer daarna nie.

Die geboue staan reeds dekades leeg. Duiwe het nesgemaak in die dak van die Selborne-gebou en het vrye toegang deur die stukkende vensters. Talle van die ander vensters is ook stukkend, sommige staan oop en die verf van die houtrame het afgeskilfer. Video-opnames van Heydenrich toon dat al die yster aan die gebou intussen verdwyn het. Die ou kantore, laboratoriums en lesingsaal is vervalle, die vloer het plek-plek ingeval en daar was ook ’n brand in die gebou.

Dié foto van Attie Gerber toon die verval van die eens trotste Selborne Hall by die Landboukollege (Foto: Attie Gerber).

In 2008, voor die Selborne-gebou omhein is, was die verwaarlosing van dié gebou reeds duidelik. Erfenisbewustes hoop dat dié verval gestop sal word en die gebou gerestoureer sal word. Ek het die foto geneem en hoop die boodskap “Stop asseblief die verval!” duidelik is.

Die datum bokant die hoofingang dui aan dat die Selborne-gebou uit 1913 dateer. Dit dui ook op die uitstaande vakmanne wat dié gebou gebou het. Die foto is in 2008 deur myself geneem.

Die versiering, bokant een van die boë in die Selborne-gebou, toon duidelik die aard van die gebou.

Die Alex Holm-saal, langsaan, is in 2010 gerestoureer en steeds in gebruik.

Johan Wolfaardt van Heritage Potchefstroom Erfenis reken dat daar niks met die struktuur van die geboue skort nie en dat dit wel gerestoureer kan word. Hy voeg by dat die eienaar van die geboue, Departement Openbare Werke, wetlik verplig word om nasionale gedenkwaardighede in stand te hou, maar in dié geval dit nie doen nie.

Tot hiertoe my 2016 artikel.

Die geskiedenis van Potchefstroom as landbousentrum dateer uit 1866 toe president MW Pretorius die eerste president van De Transvaalsche Maatschappij van Landbouw en Veeteelt verkies is. In 1867 is die eerste jaarlikse “Tentoonstelling van Landbouw en Veeteelt” op Potchefstroom gebou.

Die Transvaalse Landbou-Unie is in 1897 gestig en op sy eerste kongres is die owerhede versoek om ‘n landbouskool en proefplaas vir die hele ZAR daar te stel.

Dit is eers na die Anglo-Boereoorlog, in 1902, dat ‘n terrein vir ‘n proefplaas suidwes van Potchefstroom aangewys is. Die landbouskool en proefplaas is in Augustus 1909 deur Lord Methuen vir studente geopen.

Die skool het in 1939 kollegestatus verkry en later is die Navorsingsinstituut vir Graangewasse as deel van die Kollege tot stand gebring.

Die foto’s hieronder is almal deel van Gawie van der Walt se poskaartversameling en is waarskynlik in die eerste twee dekades van die twintigste eeu geneem.

Lees ook my artikel, elders hier, oor Alex Holm, die eerste bestuurder van die proefplaas en prinsiplaal van die landbouskool. https://lenniegouws.co.za/street-names-reflect-history-1/