Langer lewens vir hartpasiënte*

by | Jun 20, 2020 | Events, Forgotten Heroes, People, Places | 0 comments

Opspraakwekkende navorsing wat in die laat sestigerjare by die Potchefstroomse Universiteit gedoen is, het gelei tot ’n revolusionêre benadering in die behandeling van hartpasiënte. Ongelukkig is dié navorsing oorskadu deur die wêreldnuus van die eerste hartoorplanting in 1967, alhoewel meer hartpasiënte waarskynlik oor die jare by hierdie navorsing gebaat het as by hartoorplantings.

Die navorsing van prof Gert Strydom aan die PU het egter gelei tot ’n hele nuwe wetenskap en hoop op herstel vir duisende wat nie ’n hartoorplanting kon bekostig nie. Dit het ook in 1980 aanleiding gegee tot die stigting van die Johannes van der Walt Instituut vir Biokinetika.

Prof Strydom, emeritusprofessor in die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap, was in 1966 die eerste voltydse meestersgraadstudent van Liggaamlike Opvoedkunde, soos dié departement toe geheet het.

Prof Gert Strydom, emeritusprofessor in die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap, het in 1966 begin met ’n meestersgraadstudie wat in 1980 gelei het tot die stigting van die Johannes van der Walt Instituut vir Biokinetika. Prof Strydom staan by ’n paneel wat in 1994, met die 50-jarige bestaansviering van Menslike Bewegingskunde onthul is.

Navorsing oor die kardiovaskulêre effek van oefening op mansstudente het aanleiding gegee tot sy meestersgraadstudie oor die terapeutiese effek van fisiese oefening op die kardiovaskulêre gesondheid van volwasse mans wat hartaanvalle gehad het.

Die tradisionele behandeling van iemand wat ’n hartaanval of miokardiale infarksie gehad het, was toe onder meer ses weke volkome bedrus, waarin pasiënte in die eerste paar weke nie eens toegelaat is om hulself te bad of skeer nie. Gevolglik was die reaksie van plaaslike dokters wat prof Strydom genader het om by die projek betrokke te raak, ontstellend. Een het aan hom gesê dat as hy hartpasiënte gaan laat oefen, “hulle sal vrek soos vlieë”.

Vyf Potchefstroomse mans wat hartaanvalle gehad het, was wel bereid om aan die projek deel te neem, waartydens hulle op gekontroleerde wyse en onder toesig ’n oefenprogram sou volg.

Ten einde presies vas te stel teen hoeveel gewig hulle fietstrap, is ’n spesiale oefenfiets, oftewel ’n ergometer, volgens die spesifikasies van prof Strydom deur die PU se Tegniese Dienste-afdeling gebou. ’n Gewone oefenfiets is omgebou en ’n kombuistrekskaal is aangebring om die weerstand waarteen getrap word te meet. Prof Strydom vertel dat hy, nadat beter apparaat bekom is, die fiets verkoop het, maar dié baanbrekerfiets is weer teruggekoop en is in besit van die Instituut.

So lyk die eerste oefenfiets wat deur prof Gert Strydom vir sy meestersgraadnavorsing in die laat sestigerjare gebruik is. Dié fiets of ergometer is spesiaal deur Tegniese Dienste van die universiteit omgebou, volgens prof Strydom se spesifikasies, sodat die weerstand waarteen pasiënte getrap het, gemeet kon word. Die kombuisskaal wat hiervoor geïnstalleer is, is regs sigbaar.

Die resultate van die projek is destyds in ’n koerant as “opsienbarend” beskryf. Aan die einde van daardie jaar het die vier mans wat volgehou het met die program tot so ’n mate herstel dat hulle elkeen die goue fiksheidsmedalje van die Departement Sport en Rekreasie van die regering ontvang het. Een van die vyf proefkonyne het egter na ’n maand tou opgegooi en sterf aan ’n tweede hartaanval ongeveer dieselfde tyd as wat die ander vier hul medaljes verwerf het!

Verdere navorsing het bewys dat diabetespasiënte ook by oefenprogramme baat. Die veld het uitgebrei na ander siektetoestande. Die werk wat prof Strydom en sy kollegas gedoen het, het aanklank gevind by mediese personeel wat gemoeid was met die rehabilitasie van soldate wat tydens die grensoorlog in Namibië gewond is en ’n samewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Weermag het tot stand gekom.

Gou het ander universiteite kom aanklop om ook studente in dié veld op te lei. Daar is in die 1960’s by die Mediese Raad aansoek gedoen om die nuwe rigting erken te kry. Dit het eers in 1983 gerealiseer. Later is biokinetici aan 12 universiteite in Suid-Afrika opgelei.

Die term “biokinetika” bestaan uit twee Griekse woorde wat “lewe” en “beweging” beteken, wat daarop neerkom dat die kwaliteit van lewe deur middel van beweging (fisiese aktiwiteit) verbeter word.

Die Instituut vir Biokinetika was vanaf sy stigting in 1980 tot 1997 in die gebou waar die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap steeds tuis is. Sedert 1997 deel dit die gebou van Virgin Active in die Cachet-sentrum.

Hierdie skildery is in 1965 deur “R.F.” geskildery en bied ’n voëlvlugbeeld van hoe die Potchefstroomse Universiteit en omgewing in daardie jaar uitgesien het. Op die voorgrond is die Konservatorium, wat in 1960 in gebruik geneem is en die Johannes van der Walt-gebou wat die destydse vak Liggaamlike Opvoeding, later Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap, sou huisves. Dié gebou was lank die tuiste van die Instituut vir Biokinetika.

Johannes van der Walt was ’n Suid-Afrikaanse stoeier wat in die dertigerjare wêreldberoemd geword het. Dit was Van der Walt se droom om ’n “gimnasium” waar jong mense kon oefen tot stand te bring en na sy dood is ’n trustfonds gestig om hierdie droom te bewaarheid. Geld uit ’n fonds wat hy gestig het, is in die 1940’s aan die PUK bewillig vir die oprigting van ’n gebou vir Liggaamlike Opvoedkunde. Die Johannes van der Walt Instituut vir Biokinetika is in 1980 na hom vernoem. Foto: NWU Argief & Museum.

*Die oorspronklike van hierdie artikel is in 2010 geskryf en gepubliseer op die webblad van die Noordwes-Universiteit. Dit is in 2019 met die 150-jarige viering van die universiteit bygewerk vir publikasie in ’n bylaag wat in die Potchefstroom Herald verskyn het, maar kon weens ’n gebrek aan ruimte nie gepubliseer word nie.

Lees meer by:

Die NWU-webblad 

’n Historiese perspektief op Biokinetika

Prof Gert Strydom as vader van Biokinetika 

 

 

Print Friendly, PDF & Email